Oor vyftig skakerings van Swart (slegs vir volwassenes)

12 - skakerings

My naam is Swart. Pik Swart.

Ek onthou daardie dag soos gister. Dié dag toe ek met my loodgieterswa in haar oprit ingetrek het. Haar grasperk het my met die eerste oogopslag opgeval. Dit was ruig. En welig. En dig begroei. Só anders as die hedendaagse tendens om net ’n klein grasperkie te hê. Of inderdaad géén gras te hê nie, dáár waar voorheen ‘n ruie grasperk was.

Met my sterk, manlike kneukels het ek aan haar swaar houtvoordeur geklop. Toe dit oopswiep kon ek oombliklik sien dat sy ’n MILF was: ’n Mens In ’n Loodgietersfiasko. “Ek is Nadia,” het sy met ’n skalkse glimlag gesê. ’n Warm gevoel het oor my bene gestroom, en dié keer was dit nie aan my inkontinensie toe te skryf nie.

In die hoek van die sitkamer het ’n naaimasjien gestaan. Die relevansie daarvan was aanvanklik onduidelik, maar toe ek die versameling mombakkies teen die mure sien, het ek die kloutjie by die oor gebring. Nadia was ’n aanhanger van S&M – stikwerk en maskers.

Ek het vervaard aan die werk gespring, en spoedig het ek korte mette met haar gebarste wasbakpyp gemaak. My gereedskap was maar pas terug in die sak toe die minlike Nadia weer haar verskyning maak. “Pik, daar is iéts aan die gang tussen ons,” het sy met ’n gejaagde asem naby my oor gefluister. “Ek weet dat jy weet dat ek weet dat jy weet, en daarom voel ek dat ons dinge na die volgende vlak toe moet neem.” En met dié het sy my teen die trappe uit na die boonste verdieping gelei.

Die plastiekpakkie het geritsel in haar hande, en toe sy dit oopskeur, het die reuk van rubber die lug gevul. Ek het haar vraend betrag…op…en af…op…en af…waarop sy laat hoor het: “Dis vanmiddag my broerskind se sewende verjaarsdagpartytjie – wees ’n skat en help my om hierdie ballonne op te blaas.” Ek het woordeloos aan haar bevel voldoen, en met elke opgeblaasde ballon het my fassinasie met haar gegroei. En gegroei. En gegroei.

Vervolgens het sy my na die kombuis ontbied, waar sy my met ’n vonkel in haar oë betrag het. Sy het haar tong verleidelik oor haar lippe laat gly en my versoek, nee, bevéél, om vir haar te doen wat net ’n wáre man vir ’n vrou kan doen. Ek kon nie anders as om gehoor te gee aan haar pleidooi nie, en met ’n kragtige draai van my sterk, manlike gewrig, het ek die Mrs. Ball’s-bottel se doppie afgeskroef.

“O, Pik!” het sy in ekstase uitgeroep, “jy’s die een vir my! Doen met my nét wat jy wil!”. En toe vat ek haar na die Spur toe.

Kort voor lank het ek die strop om die nek gekry, letterlik én figuurlik, want vir Nadia was pyn en lyding van die grootste belang. “Maak my seer!” het sy my eendag gesmeek terwyl sy haar romp so effens begin optrek het. “Nou maar goed,” het ek geantwoord, “jy het vet enkels en onooglike spatare op jou kuite.”

By ’n ander geleentheid het sy my gesoebat om haar iets aan te doen wat haar pyndrempels tot die uiterste toe sou beproef. Ek het lank daaroor getob, maar uiteindelik onderneem dat wanneer ek klaar was, sy vir weke lank nie sou kon sit nie. Sy het geesdriftig tot dié idee ingestem, en nét die volgende dag het ek haar sitkamerstel op Gumtree verkoop.

Ja, pyn en lyding was nou maar eenmaal haar ding. “Straf my!” het sy op ’n dag wellustig uitgeroep. “Laat my die pyn verduur wat net ’n man ’n vrou kan toedien,” het sy met hortende asem gepleit. Ek het ingestem, en sedertdien het ek nog nooit weer die toiletsitplek afgeslaan nie.

Nadia wou egter nie net pyn ervaar nie. Sy wou dit inderdaad ook uitdeel. Soos die keer toe sy, geklee in niks behalwe haar splinternuwe stiletto’s nie, voor my kom stelling inneem het. “Is jy seker jy kan die pyn hanteer?” wou sy in ’n wulpse stemtoon weet. “Ek dink so,” het ek huiwerig geantwoord. En toe bring sy die kwitansie vir daardie nuwe hoëhakskoene te voorskyn…

Maar Nadia het tóg haar perke geken, en daarom het ons op ’n veiligheidswoord ooreengekom. Dié woord sou geuiter word wanneer dinge vir haar onhoudbaar raak, maar ná ons derde noodgedwonge besoek aan die ongevalle-eenheid, het ek besef dat ons ’n ander woord as ‘afbetalingsverkooptransaksieverdiskonteringsondernemings’ sal moet kies.

En dít is die storie van Pik en Nadia, of ‘P en Nis’, soos ons vriende ons noem. Soos almal het ons maar ons op-dae en af-dae, maar verreweg die meeste is op-én-af-dae. Is sy perfek? Seker nie. Maar ten minste is sy nie ’n sadomasochis nie.

Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.