Oor Facebook, status updates en voorkombare faux pas

5 - facebook

Facebook. Soos dit deesdae wil voorkom, hou almal dié Mark Zuckerberg-breinkind styf teen die boesem. Behalwe natuurlik vir die volslae rekenaarongeletterdes onder ons. Maar dit vereis nie eintlik superieure kuberkrakerkennis om ‘n Facebook-profiel te skep nie. Inteendeel. Jy kan in ‘n japtrap vir jou ‘n persoonlike nessie op die interweb oopskrop, maar dis wat jy alles daar in jou nessie aanvang waarop jy moet let, want die Facebook-monster lê besáái met potensiële sosiale slaggate.

Neem byvoorbeeld die nederige status update. Op die oog af is dit ‘n doodonskuldige konsep, maar deur jou vriende se newsfeeds met jou onsinnighede te verstop, kan jy in ‘n oogwink ‘n oneindige bron van irritasie vir hulle word. Dink dus deeglik na oor die volgende brokkies wetenskaplik geformuleerde advies, voordat jy volgende keer op die share-knoppie klik…

Tensy dit die testikels van ‘n mensvreterleeu was, gee niemand ‘n snars om oor wat jy vir aandete gehad het nie. Ditto alledaagse huishoudelike take. Indien jy jou stofsuigsessies as nuuswaardig ag, impliseer dit dat jy inherent maar eintlik ‘n ou slonskous is.

Die meeste mense besoek sommer die BBC se webblad wanneer hulle wil weet wat die weer iewers maak, maar indien jy dan nou régtig jou lyf weerman/vrou wil hou, behoort woorde soos ‘platorand’, ‘skiereiland’ en ‘plek-plek’ beslis deel uit te maak van jou weerbulletin. ‘Sjoe, dis warm’ is skandelik onvoldoende.

‘n Enkele simbool konstitueer nie ‘n status update nie. ‘?’ of ‘!’ is gewoon onaanvaarbaar. Komaan! Dis nie ‘n strokiesprent nie! En selfs al voel jy ‘n aks meer energiek, is eenwoord-updates ewe verspot. Almal ken die storie van ‘n goeie begryper, maar tensy jou vriende heldersiende is, gaan hulle jou jammerlike poging om ‘n geselsie aan te knoop eenvoudig ignoreer, en sal maniese depressie jou onvermydelike voorland wees.

Almal het iemand aan wie ‘n hartroerende eerbetoon vanpas sal wees. Vermy dit egter om enigiets op jou status te plak wat begin of eindig met ‘Post this to your status if…’. Dis onoorspronklik en dis oninteressant, en dit negeer die edele intensies wat in die eerste plek die dryfveer agter jou skaamtelose gatkruipery was.

‘n Universele reël vir alle updates is om tog maar bedag te probeer wees op jou spelling – verál wanneer jy jou slim probeer hou en groot woorde soos ‘intellektueel’ gebruik. Niemand, behalwe perverts, loop doelbewus in die openbaar met ‘n oop gulp rond nie, so moenie dat jou betwisbare spelvermoë ‘n verkeurde beelt na jo friende tu ytdra ni. Mits jo maikies naturlik 10ers is. Of verstandelik gestremd.

Ons almal voel soms die behoefte daaraan om gestimuleer, opgebeur, gemotiveer of geïnspireer te word. Wanneer die lus vir die Dalai Lama, Pol Pot of Francois Pienaar se leersame lewenswyshede mý egter beetpak, gaan stof ek sommer self die Groot Boek van Aanhalings af. Maar as aanhalings dan nou régtig jou ding is, kom dan ten minste nou en dan sélf met een vorendag! Soos René Descartes tereg opgemerk het: ‘I think, therefore I am’.

Skram weg van aggressiewe updates aan anonieme persone. Iets soos ‘Ek sal jou nog terugkry’, maak almal wat dit lees ongemaklik, terwyl dit waarskynlik ongesiens oor die werklike boosdoener se newsfeed sluip. Gebruik eerder daardie ander tegnologiese wonder (die selfoon) om jou persoonlike vendettas mee te voer.

Entrepreneurs dwing diepliggende respek by almal af. Ondernemingsgees vorm immers die hoeksteen van ons ekonomiese welstand. Indien jy egter ‘n daaglikse drang kry om jou vriende te bestook met jou revolusionêre nuwe uitvindsels, of enige ander besigheidsverwante kwaksalwery, sal ek voorstel dat jy eerder die plaaslike koerant se Snuffelgids nader. Of selfs LinkedIn, as jy nou regtig groot wil gaan.

My persoonlike status-filosofie is eenvoudig: ‘hou dit lig, laf en lagwekkend’. Probeer dit gerus, want dit werk! Geeneen van my 7 Facebook-vriende het my immers al óóit ge-unfriend nie.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. Dis veronderstel om satiries van aard te wees – ek is nie régtig so ‘n bombastiese buffel as wat dit dalk uit hiérdie skrywe mag blyk nie.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.