Oor dubbel k, middel a

7 - kak

Dis altyd die eerste woord wat in ’n wankelrige handskrif deur ’n ondeunde graad 2-leerling aan die agterkant van ’n skooltoiletdeur uitgekrap word. En dis dikwels die eerste woord wat jy skelmpies tot jou eie genoegdoening tydens een van jou eerste potjies Rummy gespel kry. Mits jy natuurlik twee konings en ’n aas in jou hand hou. En soos jy in jare vorder, leer jy dat dié kort, maar kragtige woordjie, met groot sukses in ’n wye verskeidenheid sosiale scenario’s aangewend kan word.

Dit kan byvoorbeeld handig te pas kom om persoonlikhede mee te beskryf. Iemand kan déúr dit wees, en aan só ’n persoon behoort mens géén verantwoordelikheid toevertrou nie. Mense wat déúr dit is, is aan die slaap, al is hulle wakker. En sou iemand vól daarvan wees, beter jy wye draaie om hom loop. Niemand het ’n mens wat vól is daarvan in sy lewe nodig nie. Aan die ander kant sal dit jou betaam om seker te maak dat jou vriende sónder dit is, en indien jy ooit so gelukkig is om ’n meisie te ontmoet wat sonder dit is, behoort jy op die daad met haar trou.

Hoewel dit verregaande mag klink, is dit ook moontlik om dit aan te jaag. En afhangende van die graad van erns waarmee jy dit aangejaag het, sal jy na afloop van die aanjaery jou daarín bevind. Geen mens wil ooit ín dit wees nie, so dié netelige posisie behoort ten alle koste vermy te word – verál indien jy jou só diep in dit bevind, dat jy later te vertelle sal hê dat jy só benoud was dat jy dit so byna in jou broek gedoen het.

Dié eenvoudige drieletterwoordjie, só sag op die tong maar só hard op die oor, word natuurlik ook dikwels in sy oorspronklike vorm aangewend om ‘n ernstige afkeer in iets uit te spreek. Enigiets wat nie jou goedkeuring wegdra nie, kan as sulks beskryf word. Ongemanierde winkelassistente, verkeersopeenhopings, Kurt Darren se musiek, reënerige weer, mense met slegte asem, ’n stadige internetverbinding, ’n kous met ‘n gat in, ’n tandepastabuisie waarvan die doppie soek is – dit alles kan as dít gekategoriseer word.

Om iemand af te kraak bly egter steeds die mees relevante geleentheid om dáái woordjie in te span. Wanneer iemand jou herhaaldelik teleurstel, kan jy aanvoer dat jy moeg is vir daardie persoon se dít. Of jy kan hom selfs beveel om dít te gaan doen, of hy nou ’n behoefte daaraan het of nie. Aan die ewige klakous kan jy sê dat jy jammer is om van syne te hoor, terwyl die spekskieter van die pratery daarvan beskuldig kan word. En die babeleerder? Wel hy moet maar skerm teen die geldige bewerings dat hy soos dít lyk.

En deesdae, te oordeel aan die taal wat deur Jack Parow en kie gebesig word, kan ons woordjie onder bespreking klaarblyklik ook gebruik word om die oortreffende trap van ’n byvoeglike naamwoord aan te dui. Mooi, mooier, k**mooi. Of lelik. Of slim. Of dom. Nie dat dit eintlik veel sin maak nie, maar wie is ek nou om die oordeel van die kontemporêre taalpasaangeërs te bevraagteken?

In die lig van bogenoemde kan diegene wat beweer dat Afrikaans ’n sterwende taal is, dít gerus maar gaan doen. Afrikaans is springlewendig en ryk (ruik?) aan ontluikende juweeltjies. Die feit dat ’n skynbaar onbeduidende drieletterwoordjie in só ’n mate kon vertak, dat ’n Afrikaansonderwyser potensieel ’n hele les oor woordsoorte daarop kan baseer, dien as onweerlegbare bewys daarvan. En dít, vriende, is beslis nie ’n k**storie nie.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.