Oor Die Springdoppe en ‘n Suiplapwêreldbeker

1 - Die Springdoppe

Wêreldbekerkoors het alle vlakke van die samelewing stewig in sy greep, soos duidelik blyk uit dr. Ray Eberlein van die Sentrale Dwelmowerheid se bewering in die parlement verlede week dat “Suid-Afrika loshande sal wen indien daar ‘n Wêreldbeker vir drinkers gehou word”. Nou kyk, my lewer begin op slag lafhartig terugdeins by die blote gedagte aan Tuks se JOOL of Lentedagvierings, maar die goeie dokter se aanspraak is ‘n brawe een wat moeilik gekwantifiseer kan word. Ek is immers al telkemale sprakeloos gelaat deur hoogs beskonke Engelsmanne wat geharde Boere-brandewyndrinkers sal opkeil in ‘n op-die-lyn-loop-kompetisie.

So hoe dan gemaak om te probeer vasstel of ons régtig voor in die koor staan wanneer dit by in-die-bottel-kyk-tyd kom? Wel, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se mees onlangse ranglys van alkoholverbruik per kapita, beklee Moldowië, van alle lande, die nr.1-posisie, terwyl ons met ‘n betreurenswaardige 57ste plek tevrede moet wees. Pakistan bevind hulselwers héél onder aan die lys, maar die feit dat jy letterlik kop kan verloor indien jy in dáái geweste aan’t drinke gaan, maak hulle ‘n futiele maatstaf om onsself aan te meet.

Soos die All Blacks reeds telkens tot hul smart moes ontdek, beteken ‘n wêreldranglys bôggerol wanneer dit by Wêreldbekers kom. Daarom behoort ons ons te beywer vir die daarstelling van ‘n Suiplapwêreldbeker, sodat ons die WGO se ranglys kan ontbloot vir die klug wat dit is, en vir eens en vir altyd vir die wêreld kan wys waar Dawid die Klipdrift gegrawe het.

Ons span sal natuurlik ‘Die Springdoppe’ heet. Voor my geestesoog sien ek al hoe staan ons manne (en straks ‘n paar vroue) soos wafferse Springbokkies in hulle groen-en-beige uitrustings, vuiste geklem om die borg (SAB) se handelsmerk op die bors, en sing met trane in hulle oë (van die Tequila waarmee hulle opgewarm het) die Suiplapvolkslied: ‘O, Brandewyn Laat My Staan’. Die span sal deur Herschelle Gibbs aangevoer word, siende dat hy met etlike jare se internasionale ondervinding kan spog, terwyl daar niemand beter kan wees om die span te brei as Hugh Bladen nie. Die res van die span sal ‘n strawwe keuringsproses moet deurmaak en daarvoor stel ek ‘n reeks proefwedstryde op Hatfield Square voor, in welke geval almal, insluitende die die Blou Bul, heel waarskynlik wél van die vloer af sal eet.

By die toernooi self sal elke span ‘n tradisionele vloeibare versnapering van die land van hul herkoms moet verskaf, en gewapen met hul witblits sal Die Springdoppe nie ‘n aks vir enige teenstander hoef terug te staan nie. Nie vir die Amerikaners met hulle Budweisers, die Aussies met hulle XXXX’e of die Iere met hulle Guinness’e nie. Vir die Duitsers sal ons egter katvoet moet loop. Die Germane hou immers jaarliks ‘n maandlange bierdrinkorgie, en boonop hou hulle ‘n formidabele troefkaart…in die vorm van ‘n bottel Jägermeister. Die Russe sal ook sterk aanspraakmakers wees, maar hulle sal vermoedelik geskors word wanneer hulle met hulle onwettig gestookte vodka daar opdaag.

Die reëls sal eenvoudig wees: coinish, beste uit sewe en jy moet met twee potte wen. Die voordeel wat ons sal hê, is dat die meeste R5-muntstukke lekker kan bons, siende dat dit vervals is en uit een of ander dubieuse, veerkragtige materiaal aanmekaargeslaan is.

Oe jinne, dit sal voorwaar ‘n eishlike, titaniese stryd afgee om te bepaal wie die bes-geoliede elmboë in die wêreld het, maar ek is vol vertroue dat Die Springdoppe uiteindelik die uitpasshou sal kan plant, en dat ons bierpense onbevange sal swel van die trots. Laat hy val waar hy wil, net nie op die grond nie! Tjorts!

Disclaimer: hierdie skrewe is satiries van aard en behoort as sulks beskou te word. Dit is nie daarop gemik om drankmisbruik te verheerlik of te propageer nie. Ekshelf…hik…shit nie my lippe…hik…aan drank nie en het…hik…beshlish nie ‘n shopie gemaak tydensh die shkryf…hik…hiervan nie.

*Hierdie inskrywing het, kort voor die aanvang van die Wêreldbeker in 2011, as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.