Oor Lady Gaga en inkonsekwente moraliteitsmetings

2 Oor Lady Gaga

Anton Goosen vra annerdag op sy Facebook-blad: ‘Wat dink julle van Lady Gaga?’ Die antwoorde, waarvan daar honderde was, was in gelyke mates komieklik én onrusbarend. Die juweeltjies waaraan ek my verkneukel het, het onder andere ingesluit ‘Ag wie gee om oor Gaga?’ (Uhm, miskien die 24 miljoen mense, byna vyf keer soveel as al die blankes in SA, wat haar eerste twee albums gekoop het?), ‘Sy’s nie slim met bemarking nie’ (Ja, dis natuurlik waarom ‘n klomp Afrikaners aan die ander kant van die wêreld aan’t vuur spoeg is oor haar doen en late) en my gunsteling: ‘Sy en haar musiek moet verban word’ (wel hallooooo Taliban!).

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is nie Lady Gaga se grootste aanhanger nie. Ek is egter wel ‘n ondersteuner van objektiwiteit en van rede. Lady Gaga se wêreldwye gewildheid spruit juis uit die feit dat sy ánders is. Haar verregaande uitrustings gryp mense se verbeelding aan, en deur haar beeld deurentyd aan te pas, behou sy daardie aandag. Talle kommentators verwys na haar as weird, maar wie wil nóg ‘n reïnkarnasie van ‘n uitgediende, holruggeryde popster in die trefferlyste sien? Nie ek nie.

En na dese, op grond van haar aweregse openbare beeld, word Gaga summier uitgekryt as godslasterlik, en word daar selfs beweer dat sy vir haarself die titel as ‘Bruid van Satan’ toegeëien het. Hierdie bewerings is egter van alle waarheid ontbloot. My urelange navorsing om agter die kap van die byl te kom, het dadels opgelewer. Gaan soek gerus self vir die bewyse dat sy haar as Satansbruid verklaar het. Jy sal dit nie vind nie, want dit bestaan doodeenvoudig nie. Die Gaga-haters baseer hulle toorn op ‘n ketting-e-pos wat onlangs die ronde gedoen het, maar wat my betref, is die outeur daarvan meer gaga as wat Gaga ooit sal wees.

En terwyl ek nou op my seepkis staan, laat ek dit sommer op rekord plaas dat die inkonsekwensie waarmee sommige Afrikaners moraliteit meet, my dwars in die krop steek. Gaga word gekruisig, maar Saint Kurt word byvoorbeeld gerieflikheidshalwe oorgesien. Dis tog hy wat ‘n bokkie uitnooi om by hom te lê, siende dat hy ‘n loslappie is. Behels dit nie die propagering van losbandigheid nie? Maar tot op hede was daar nog geen ophef dáároor gemaak nie. Inteendeel. Op kunstefeeste en in skool- en kerksale laat ouers hulle kinders ewe gedweë toe, en moedig hulle selfs aan, om dié lirieke uit volle bors uit saam te sing. Ai-jai-jai. Wat geld vir die een, moet mos geld vir die ander, dan nie?
Die kruks van my relaas is die volgende: dis dalk tyd dat ons ophou om ons soos ‘n trop skape aan die neus te laat lei en om alewig te probeer om die Antichris onder elke bossie uit te skop. Mens kan mos nie jou oortuigings oor iets/iemand baseer op ‘n ketting-e-pos nie! Dalk moet ons eerder gaan nalees oor onderwerpe waaroor ons onseker voel, ons vergewis van beide kante van die argument, en slegs dán ‘n INGELIGTE opinie vorm. ‘n Saak is immers nooit net wit of swart nie, maar altyd ‘n skakering van grys.

En terloops, jy hóéf nie van Lady Gaga te hou nie. Almal is geregtig op ‘n opinie en dis jou volste reg om te dink die Gaga is gagga.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.