Oor die vyfring-fanfare van 2012. Deel II.

Test test

Op julle merke, gereed…daar gaat hulle! En het die Spele van die 30ste Olimpiade nie net met die mees skouspelagtige knal uit die blokke gekom nie? Wat mý betref was die openingseremonie hoogs imponerend, ’n geskiedenisles duisend, en ’n meer as waardige afskop vir só ’n grootse geleentheid. Maar daai kêrels wat die Olimpiese vlag ingedra het kan hulle sterre dank dat hulle nie in Beijing was nie, want as hulle dáár so uit gelid uit marsjeer het was ’n vuurpeleton hulle voorland nog voor daai fakkel vol varkore sy eerste vlammetjie kon uitspoeg.

Om ’n Olimpiese atleet te wees verg deursettingsvermoë van ’n amper bomenslike aard, maar die aspirerende podiumbetreders hoef daai aand nie ver te gaan soek het vir inspirasie nie. Vergeet maar van die Energizer-hasie – dit was eerder die dromspelers langs die baan wat ons almal gewys het wat nou eintlik bedoel word met aanhou…en aanhou…en aanhou. Gee daai ouens ’n Bells!

En iets anders wat net aangehou en aangehou het, was die prosessie van deelnemende lande. Hel, ek het twee keer ingedommel voor ek uiteindelik bederf is met die Suid-Afrikaanse span se intog. En soos altyd kan ons onsself ’n klop op die skouer gee vir ons politieke korrektheid. Watter ander land kan immers daarmee spog dat hulle ’n vlagdraer kon aanwys sonder om teen enige van die geslagte te diskrimineer? Mooi so man! En dankie Caster!

Die arme Team GB. Húlle kon eers ná middernag hulle verskyning maak, seker dié dat hulle reeds in hulle pajakkies was. Maar alles in ag genome was die geleentheid ’n reuse sukses. Selfs Queen Lizzie het haar goedkeuring laat blyk deur met onverdeelde aandag en intense konsentrasie…na haar naels te staar.

En noudat die Spele in volle swang is, kry ek myself nie van die kassie af weggeskeur nie. Met tientalle kanale in hoë definisie, eksklusief aan die Spele gewy, gee dit ’n nóg meer frenetiese kanaalblaaiery as gewoonlik in my huis af.

Ek kan net nie anders as om waardering te hê vir die benydenswaardige fisieke toestand van die meeste deelnemers nie. Let wel, die meeste, want vir sommige sportkodes val die klem ooglopend eerder op Tic Tac as taktiek. Soos boogskiet. Hoeveel kalorieë kan mens nou regtig verbrand deur ’n tsotsi-hoedjie op jou kop te plak en jou lyf rooihuid te hou? Nie veel nie, as van die gesette Fidjiaanse deelnemers as maatstaf moet dien. Maar aan die ander kant is daar weer die strandvlugbalspelers – eerstegraadse toonbeelde van Homo sapiens in top fisieke kondisie. Na húlle kan ek vir ure lank kyk. Sonder ophou. Veral wanneer die dames deelneem. As jy verstaan wat ek bedoel.

My Olimpiese ondervinding is ook darem nie net beperk tot ’n kassiekykery nie. Ek was gelukkig genoeg om persoonlik ’n draai by die Olimpiese Park te kon gooi, en wát ’n belewenis was dít nie. Ek was skaars deur die hek toe ek begroet is deur ’n see van mense. En dít was net die Games Makers – daardie sprankelende, hoogs hulpvaardige vrywilliger-beamptes by wie jy feitlik enige inligting kan bekom…behalwe of die Stormers wel eendag die Super 15 sal wen.

Op die 500 akkers wat die Olimpiese Park beslaan, was dit asof die grafte oopgegaan het. Maar ondanks dié ongemaklike opeenhoping van mense was die atmosfeer ontspanne, gulhartig en doodgewoon gesellig. Daar word immers nie om dowe neute na die Spelegangers as ’n ‘familie’ verwys nie. Waar anders sal Britte, Amerikaners, Russe en Chinese saam in gemoedelike luim hul middagetes geniet? Beslis nie by die Verenigde Nasies nie.

En om skouers te kon skuur met die burgers van lande waarvan ek nog net in boeke gelees het, was ’n seldsame ondervinding en een wat ek vir ewig sal koester. Die hoogtepunt van my middagpouse was byvoorbeeld om ’n houtbankie te kon deel met Kazakhstan se grootste ondersteuner. En nee, dit was nie Borat nie. Die laagtepunt, moet ek ongelukkig ook vermeld, was die droë toebroodjie en botteltjie water waarvoor ek die helfte van my maandelikse salaris moes opdok. Ai.

Die kaartjie wat my toegang tot die Olimpiese Park verseker het, het my ook toegang verleen tot ’n hokkiewedstryd tussen Suid-Afrika en Australië. Die Aussies het binne minute hul eerste doel aangeteken. Daarna het hulle nog vyf keer in hul doel geslaag en die stokstywe Proteas deurentyd in ’n hoekie gedryf. Die veeldoelige vertoning van ons aartsvyande het weliswaar ’n wrang smaak in die mond gelaat, maar selfs dít kon nie ’n stokkie steek voor my persoonlike genot nie. Maar ek voel tóg dat dit onaanvaarbaar is dat ’n Protea-span só onder stof geloop kan word, en daarvoor sal iemand by die hokkieraad beslis voor stok gekry moet word.

Daar was natuurlik die Suid-Afrikaanse pessimiste wat vooraf gemeen het dat ons geen kans op ’n medalje sou hê nie. “Hoe kan ons daarop hoop”, het hulle gesê, “as ons beste middelafstandatleet die gevaar loop om deur haar baard gepootjie te word, en as ons beste naelloper nie eers bene het nie?” Wel, toffie vir hulle, want die Olimpiese skouspel is skaars verby die halfpadmerk en ons het reeds ’n welkome aardrykskundeles gehad: Van der Burgh is nie ’n dorp tussen Johannesburg en Pietersburg nie, en Le Clos is nie ’n provinsie van Frankryk nie. So, ’n hartlike gelukwensing aan bogenoemde twee here. Ek is oortuig dat hul prestasies menige leunstoel-swementoesias geïnspireer het om summier te begin skaaf aan sy bors- en vlinderslag. Selfs al is dit net in die bad.

En nog is dit het einde niet. So, as jy dalk ’n Olimpiese deelnemer is wat iewers in die Olimpiese dorpie hierdie publikasie in die hande gekry het en nou hier lees: weet maar dat al ons Britse Suid-Afrikaners bankvas agter julle staan en al ons vingers en tone vashou in die hoop dat julle net jul beste sal doen. En dat julle beste goed genoeg sal wees.

Gaan. Vir. Goud.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.