Oor die vyfring-fanfare van 2012. Deel I.

8 Oor die vyfring 1

Die laaste keer wat ek die geleentheid gehad het om ’n eens-in-’n-leeftyd-ondervinding te smaak, is ek gekniehalter deur my opgelegde bedtoegaantyd. Dit was 1986, ek was in standerd 2, en Halley se Komeet het gekom en gegaan sonder dat ek deel kon hê in die massahisterie wat sy besoek ontketen het. Maar vandeesweek kry ek uiteindelik die geleentheid om vir daardie gruwelike onreg te vergoed wanneer die Olimpiese wa ons dorp binnetrek.

Sedert 2005, toe Londen as gasheerstad aangekondig is en ons tot vervelens toe met Seb Coe en David Beckham se glinsterende glimlagte gekonfronteer is, is daar onverpoos gewoeker om die plek in ’n toestand te kry wat die reputasie van die Spele gestand sou doen. En wonderwerke is vermag – ’n majestueuse stadion het uit die niet uit verrys, die Britte se kompulsiewe gemor het plek gemaak vir iets wat as amperse optimisme geklassifiseer kan word, en selfs Boris Burgemeester se boskaas blyk in ’n meer stemmige luim te wees.

En terwyl die stad sy pronkvere op indrukwekkende wyse reggeskud het, verdien die uitrustings van die Britse span éintlik ’n pluimpie – al is dit in China vervaardig. In antieke tye het die kêrels daar by Olympus hulle ding sommer in hulle geboortepakkies gedoen (wat vermoedelik ’n heel ander betekenis aan die terme ‘spiesgooi’ en ‘gewigstoot’ verleen het), maar deesdae is niks minder nie as Stella McCartney-ontwerpe goed genoeg vir ons Olimpiese helde. En te oordeel aan die uitgelate gesigsuitdrukkings in daai paspoort-foto’s waarop ons daagliks in die Metro getrakteer word, is dit duidelik dat ek nie die enigste een is wat van mening is dat sy haar uitstekend van haar taak gekwyt het nie.

Maar nie alles het heeltemal klopdisselboom verloop nie. Die kaartjietoekenningsproses kon net meer chaoties gewees het indien dit deur die provinsiale regering van Limpopo georganiseer was – ’n warboel wat meegebring het dat ek nou my gunsteling-sportsoorte (skerm, handbal en gesinchroniseerde swem) op die kleinskerm sal moet volg. Sug. En hoewel sommige atlete hulself voorberei asof hul oorlog toe gaan, het die Britse regering die oorlogstema met gans te veel entoesiasme omarm. Lugafweerkanonne op ’n woonstelblok neffens die Olimpiese Stadion? Weermagsoldate vermom as sekuriteitswagte? Duisende militêre personeellede op bystand net ‘vir in geval’? Dié verwikkelinge is betreurenswaardig en sal beslis die meeste Spelegangers tot onrus stem, met uitsondering van die Noord-Koreaanse afvaardiging, wat heeltemal tuis in dié milieu sal voel.

Om ’n Suid-Afrikaanse Brit te wees hou natuurlik die voordeel in dat jou medaljehoop op beide lande se deelnemers berus. Met Brittanje se verwagte 48 medaljes en Suid-Afrika se 12 (as die agbare minister Fikile Mbalula geglo kan word), sal ons steeds nie ’n bedreiging inhou vir die VSA met hulle verwagte 110 medaljes nie, maar ten minste sal ons Suid-Brittaniaanse span stof in die meeste ander lande se oë skop. Burkina Faso, net soos Palestina en Tjad, bring immers ’n lagwekkende drie deelnemers Londen toe, en kon laas ’n medalje wen toe Zog nog die koning van Albanië was. So, anders as met die Eurovision-liedjiekompetisie, sal ons ten minste dié keer nie héél laaste eindig nie.

Maar alle grappies op ’n (aflos)stokkie. Londen 2012 gaan ’n luisterryke geleentheid wees wat dalk net die great in Great Britain kan terugsit. Verdra dus maar die verkeersknope, dra jou ondersteunershempie met trots, en wees ekstra hulpvaardig teenoor vreemdelinge wat verbouereerd na die tube map staar. Hiérdie is voorwaar ’n eens-in-’n-leeftyd-geleentheid, so doen jou toekomstige self ’n guns en maak die meeste daarvan!

Komaan dan, almal saam, hier gaat ons nou: flie-hie (flie-hie)…flie-flaai (flie-flaai)…flie-flaai-flou (flie-flaai-flou)…a-wiesda (a-wiesda)…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.