Oor die rol van ’n rugbytrol

6 Oor die rol...

Wat kry jy as jy al die Stormers se meisies saam in ’n kamer sit? ’n Enkele vol stel tande. Wat is die enigste drie mensgemaakte dinge wat vanuit die buitenste ruimte sigbaar is? Die Groot Muur van China, die Egiptiese Piramides en die gaping in die Cheetahs se agterlyn. Wat noem mens ’n Sharks-ondersteuner met ’n halwe brein? Hoogs begaafd. En ’n Lions-ondersteuner? Verveeld. En ’n Kings-ondersteuner? Niks, want daar bestaan nie só iets nie.

Eerskomende Vrydag is, behalwe vir Nasionale Braaidag en Vadersdag, sekerlik die belangrikste datum op die kalenders van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse mans. Só belangrik, sal jy dink, dat Suid-Afrikaanse dagboeke sommer by voorbaat met ’n rooi kring om dié datum gedruk word. En as jy ’n man is en nié weet waarna ek verwys nie, behoort jy stil te raak, ernstige introspeksie te doen en onder jou klip uit te kruip, want almal behalwe jy weet dat dit die nuwe Superrugbyseisoen is wat op 15 Februarie ’n aanvang neem.

Ja kyk, Suid-Afrikaners het nou maar eenmaal ’n obsessie met rugby. Vir die helfte van ons is dit ’n geval van lewe en dood, en vir die ander helfte is dit selfs belangriker as dit. En noudat die seisoen van vrede, medemenslikheid en naasteliefde by ons verby is, het dit weer tyd geword vir ’n gekoggel en ’n geterg en ’n gedraakstekery met jou naaste. Verál as jou naaste ’n ander span as jy ondersteun. Maar daar is meestal geen kwaadwillige bybedoelings agter die gemanipuleerde foto’s en eindelose grappies-oor-die-ander-span-se-ondersteuners wat per e-pos versprei word nie en dit het, om die waarheid te sê, al nét so deel van ons rugby-kultuur geword as biltong, Hugh Bladen en die fietas op Loftus se Oospawiloen.

Ons ouens in die buiteland het natuurlik nie altyd toegang tot die TV-uitsendings van ons spanne se wedstryde nie, en daarom is die rugby-artikels op die Media24-webblaaie vir ons ’n kleinood. En wat hiérdie byderwetse manier van ‘rugby kyk’ ’n ekstra lekkerte gee, is dat jy, behalwe vir die betrokke joernalis, ook Jan Rugbypubliek se opinies oor die wedstryde kan bekom. Maar so seker soos daar ‘amen’ in ’n kerk gesê word, nét so kan jy daarop reken dat Jan Rugbytrol ook sy onvermydelike verskyning op elke rugbyforum sal maak.

Ek’s geen hater nie, maar ek háát ’n rugbytrol. Met ’n bespotlike naam soos ‘Die Baas’, ‘Barney.se.sussie’ of ‘Regtervegter’, kom spoeg hy sy eenogige drek oor elke rugbygesprek in die kuberruim uit. As sy span verloor, is dit die ref se skuld en as sy span wen, kom die eer hóm toe. Sy narsisme maak hom immuun teen kritiek, maar kritiseer dié doen hy pal. Sy onkunde oor die spel is waarlik skokkend, maar al wie dit wil hoor, is hy. Hy beledig, beswadder en belaster waar hy gaan, en selfs die sinvolste bydraes loop deur onder sy giftong. Maar eintlik, éintlik weet almal dat hy maar net ’n eensame siel is wat ten einde laaste ’n bietjie aandag kry…al is dit in die vorm van ’n honderd af-duime op alles wat hy sê.

Die rugbytril, ag ek bedoel trol, is ’n klad op die naam van die mensdom en ons, die ware rugbyliefhebbers, moet hom troef deur drie eenvoudige reëls toe te pas: ignoreer hom, ignoreer hom en, wel, ignoreer hom.

So ja, nou kan ek maar van my seepkis af klim.

Gaan maak die meeste van vanjaar se Super15 en ondersteun jou span met elke greintjie passie wat jy in jou het. Vat elke verloor met grasie en elke oorwinning met selfs nóg meer grasie. En bewaar tog maar die vrede met die ondersteuners van die ander spanne, want per slot van sake het nie almal die insig, rugbykennis en doodgewone goeie oordeel om ’n ondersteuner van die Bulle te wees nie.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.