Oor dié ding met Oscar Pistorius

11 Oor die ding met Oscar

Net soos die res van die wêreld het ek daai oggend met skok verneem dat hy sy meisie doodgeskiet het. Ek kon dit nie glo nie. Ek wóú dit nie glo nie. Maar soos die feite langsamerhand begin deursypel het, kon ek nie anders as om ’n verdoemende houding jeens hom in te neem nie. Het die bure dan nie kort voor die skietery ’n rusie uit sy woonplek hoor opklink nie? En is haar skedel nie verbrysel met ’n bebloede krieketkolf wat op die toneel gevind is nie? En die arsenaal wapens, insluitende ’n masjiengeweer, wat in sy kamer gevind is? Wat dáárvan? En die testosterooninspuitings wat in sy bedkassie gevind is? Dit kon tog net een ding beteken het: roid rage.

Maar ten spyte van al dié vingers van beskuldiging wat in sy rigting gewys het, was dit die polisie se onmiddellike reaksie op die gru-gebeure wat my finaal oortuig het dat hy bloed aan sy hande het. Die Mag sou immers nie om dowe neute op die daad ontken het dat hy haar vir ’n inbreker aangesien het nie. En hulle sou mos nie sommer op die eerste dag al bekend gemaak het dat hy van moord met voorbedagte aangekla gaan word as hulle nie oor onteenseglike bewyse beskik het dat hy niks minder as ’n koelbloedige moordenaar was nie. Of sou hulle?

Ek moes dit seker geweet het. Seker my gesonde verstand gebruik het. Want waarom sou die ouens wat mense agter hulle vangwaens sleep, wat stakers koelbloedig doodskiet, wat slaap aan diens, wat só dikwels van rassisme en brutaliteit beskuldig word, wat sukkel om ’n eenvoudige vorm in ’n aanklagkantoor na behore in te vul, dié keer ’n professionele en deeglike taak verrig het?

En só was dit toe ook. As dit nie so neerdrukkend was nie, sou die polisie se onbeholpenheid wat tydens sy borgtogaansoek blootgelê is, lagwekkend gewees het. Maar te wyte daaraan sit ek nou met die wete dat my aanvanklike aanname van sy skuld op flagrante valshede gebaseer was.

Ek weet nie of hy haar met opset vermoor het nie. Dalk het hy. Maar wat ek wel weet is dat elke argument in ’n ander rigting getrek kan word wanneer jy hom eers die voordeel van die twyfel begin gee.

Dis maklik om in ’n leunstoel, met ’n glasie wyn in die hand, te spekuleer oor waarom hy nie eers seker gemaak het of sy steeds in die bed was voordat hy die noodlottige skote afgevuur het nie. Of waarom hy nie eers bepaal het of dit wél ’n booswig agter die geslote toiletdeur was nie. Of waarom hy nie een of twee nie, maar juis víér skote moes afvuur. Maar niemand weet regtig hoe hulle in ’n soortgelyke situasie sal optree nie. Hoe dikwels hoor mens nie hoe iemand wat ’n traumatiese situasie beleef het, na afloop van die gebeure vertel dat hy nie geweet het dat hy tot dit of dat in staat was nie. Of dat hy nooit sou kon dink dat hy sus of só in daardie situasie sou optree nie?

Ja, hy het ooglopend ’n fiksasie met vuurwapens. Maar honderde duisende ander Suid-Afrikaners hou, net soos hy, gelisensieerde vuurwapens in hulle huise aan. En duisende mans gaan jaarliks op jagtogte waar die gebruik van grootkaliber-gewere aan die orde van die dag is. Maar niemand vermoed dat daar ’n sluimerende geweldenaar binne dié vuurwapengebruikers skuil nie.

Ja, hy het gedreig om Marc Batchelor se bene te breek, nadat sy meisie hom met Batchelor se vriend, Quinton van der Burgh, verneuk het en Batchelor by dié relletjie betrokke geraak het. Maar hoeveel mans het nie al tydens ’n liefdestwis gedreig om die ander party op een of ander manier skade te berokken nie?

Ja, hy het vir Reeva twee keer gebel terwyl sy kort voor haar dood saam met Warren Lahoud, haar eks-kêrel, koffie gedrink het. Maar watter ou sal nie sy nuwe(rige) meisie wil verseker dat hy aan haar dink wanneer hy weet dat sy tyd saam met haar vorige liefde spandeer nie?

Ja, dalk hét hy na sy onlangse suksesse te selfingenome geword. Dalk hét die nederige rolmodel van vroeër plek gemaak vir ’n windbol wat homself as bo die reg verhewe beskou. Dalk ís dit so dat daar ’n siniese, aggressiewe grootheidswaan agter daardie sjarmante glimlag skuil. Ek weet nie, want ek ken hom nie persoonlik nie, maar selfs al ís dit die geval, maak dit steeds nie by verstek van hom ’n moordenaar nie.

Ek hoop dat die waarheid sal uitkom tydens die hofsaak wat in Junie ’n aanvang sal neem. En ek hoop dat almal hulle sal berus by watookal die waarheid mag wees.

Maar bowe alles hoop ek dat Suid-Afrika weer eendag met ’n bevoegde polisiemag sal kan spog. Want as dit nie was vir die holderstebolder-wyse waarop Hilton Botha en sy makkers dié saak hanteer het nie, sou die openbare mening heel moontlik heeltemal anders daar uitgesien het. Die publiek sou hom waarskynlik, soos Reeva, as die slagoffer van ’n afgryslike ongeluk beskou het. En Suid-Afrika en die res van die wêreld sou steeds ’n held gehad het.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. Ek het dit sowat twee weke ná die skietvoorval geskryf. Ek staan by wat ek gesê het van die polisie se onbeholpenheid, maar wat Oscar se aandeel in haar dood betref, kan ek maar net sê: ‘hindsight is 20/20.’

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.