Oor Boere wat nie mag nie

12 Oor Boere wat nie mag nie

Elke nou en dan kom daar iemand verby wat ons Afrikaners se kollektiewe naam gat maak. Grúwelik gat maak. Soos Dirk Prinsloo en Adv. Barbie, Die Waterkloof-vier of Die Flooze. Of die domste slim mens op aarde, Dan Roodt, of selfs Piet van Zyl, die moroon wat daai keer die ref getêkkel het. Maar hierdie lotjie se mannewales is maar mierleeugaatjies in vergelyking met die slaggat-tussen-Brits-en-Thabazimbi waarvoor ons trop Bosveldbrekers, die Boeremag, pa moet staan.

In Oktober 2002 het ’n reeks bomontploffings, waarin een vrou haar lewe verloor en aansienlike skade aangerig is, Suid-Afrika geruk. Drie-en-twintig lede van ’n obskure verregse groep is gearresteer en aangekla van onder meer moord, terrorisme en hoogverraad. Verlede week, nege jaar nadat dié marathon-verhoor ’n aanvang geneem het, het regter Eben Jordaan uitspraak begin lewer. Nege jaar waarin ’n oorkonde van verrigtinge van 50,000 bladsye saamgestel is. Vyftigduisend bladsye waarin die gekhede van die Boeremag-hansworse kil blootgelê is.

Met name soos Rooikoos, Giel, Vis en Dirk, kan mens jou verstout om te glo dat ons brekers bloot kandidate vir ’n nuwerwetse Trompie-bende sou wees, maar dié ouens was berekend en ontstellend ernstig oor hulle sotlike planne. Bomontploffings op strategiese teikens moes chaos in die land saai. Militêre basisse en stede sou vervolgens oorgeneem word, waarna swart mense en Indiërs landuit gejaag sou word. Vir die grand finale sou die ANC-regering met ’n militêre regering van blanke Afrikaners vervang word – lugkastele wat beslis met die hulp van iets sterkers as brandewyn en Coke gebou is.

En hoewel die hoofbestanddele van ons brekers se staatsgreepkoek vergesog klink, is dit die versiersuiker en tjoklit-sprinkels bo-op wat éintlik, wel, die koek vat. Soos dat hulle nie-blankes sou aanval en dan kos op die pad na buurlande sou plaas om hulle só landuit te probeer lok. Aaaag asseblief.

Dit behoort as geen verrassing te kom nie dat regter Jordaan elkeen van hierdie malkoppe skuldig bevind het aan die aanklagte teen hulle (met die uitsondering van twee van die bastaarde wat intussen die emmer geskop het) en vermoedelik sal hy hulle almal verdoem tot lewenslange BBP-lidmaatskap van Pretoria-Sentraal, waar die gepaardgaande toenaderings deur mede-gevangenes as ’n gratis ekstra kom. Goed so. Laat dit vir hulle ’n les wees. En sommer vir elke ander idioot ook wat soos hulle dink.

Nou kyk, niemand sê Afrikaners móét tevrede wees met die stand van sake in ons geboorteland nie. Selfs in die mees ontwikkelde, vooruitstrewende lande geniet die regering nie volkome steun nie. Dis tog immers onontbeerlik in ’n demokratiese bestel. En niemand sê dié ontevredenheid mag nie tot uiting kom nie. Dit mag. Maar daar is metodes en kanale waardeur die regering tot besinning gedwing kan word. Vra maar vir Afriforum, Solidariteit en OUTA. Geweld is nié die antwoord nie. Ook nie enige ander groteske metode wat die brûe wat miljoene Afrikaners daagliks met ons anderskleurige landgenote bou, afbreek nie.

Daar sal altyd weer ’n Afrikaner wees om ons kollektiewe naam te vergat, maar mag dit volgende keer ’n Vernon Koekemoer of ’n Rudolf Streauli wees, eerder as klone van die waansinnige, verkrampte Boeremag-paloekas.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.