Oor die 50ste Fanie Os Oppie Jas

8 Oor die 50ste

Sowat agttien maande gelede het ek op bloot toevallige wyse paaie gekruis met Heather Walker, die hoogs vernuftige redaktrise van The South African. Oor ’n glasie wyn (haar eerste, my derde) het sy my meegedeel dat daar pas ’n vakature vir ’n Afrikaanse rubriekskrywer by die koerant waar sy aan die roer van sake staan, ontstaan het. Met Merlot-gedrewe bravade het ek aangevoer dat ék straks die antwoord op haar kwelling kon wees. En hoewel haar reaksie hoflik was, het die donkerrooi wynvlekke op my tande haar daarvan weerhou om té ernstig oorweging aan dié verwaande aanspraak te skenk – of só wou dit in elk geval voorkom.

’n Paar dae later, met dié gesprek half vergete, het ek egter ’n boodskap van haar af ontvang. Sy wou tóg hê dat ek ’n proeflopie moes neem met die rubriekskrywery. Natuurlik het ek my wyngedrewe grootbek-praatjies onmiddellik verwens, want ek was tog geen ervare joernalis of gerekende skrywer nie. En waaroor sou ek nogal so ewe skryf? Maar één woordjie van die nimlike Heather het my selfvertwyfeling soos mis voor die son laat verdwyn: ‘enigiets’. “Skryf oor enigiets,” het sy gesê. En eensklaps was ek vasbeslote dat my proeflopie nie in ’n poeflopie sou ontaard nie.

Om oor ‘enigiets’ te skryf is op die keper beskou ’n voor die handliggende taakbeskrywing, maar in die praktyk is dit ’n perd van ’n ander kleur. Omslagtige politieke analises lê immers die virtuele wêrelde van Facebook en Twitter vol, kommentaar oor aktuele sake is geredelik beskikbaar op die Media24-webblaaie, en aangeleenthede wat relevant tot Afrikaners in Engeland is, is deesdae maar bitterlik yl gesaai.

So, hoewel ek tóg soms my hand aan een van die bogenoemde onderwerpe waag, is daar iets anders waarmee ek deeglik bekend is en met véél groter gesag oor kan skryf: my eie wel en weë. Want sien, ek is lojaal, saggeaard en lief vir kinders – net soos ’n DBV-hond. My neus bloei soms vir geen rede nie en ek het al bladgeskud met Naas Botha. Ek hou meer van Jan Smuts as van Hendrik Verwoerd, en in twaalf jaar was ek nie één dag afwesig van skool nie. Ek was nog nooit betrokke in ’n vuisgeveg nie en ek het al ’n bestaan gemaak deur skottelgoed te was. Ek het ’n amperse obsessiewe liefde vir krieket en ek is getroud met ’n kind. Wel, nie mét ’n kind nie, want dít is teen die wet. Ek is getroud met ’n vrou en ons het ’n kind. En uit hierdie poespas verrys daar áltyd ’n ietsie om ‘enigiets’ oor te skryf.

Maar laat ons nie doekies omdraai nie: ek is geen avonturier wie se reise na die uithoeke van die skepping die verbeelding van die wêreld aangryp nie. Ek doen ook nie enige baanbrekerswerk wat mense uit belangstelling laat regop sit nie, en ek is nie ’n mens-engel wat die hartsnare roer deur my lewe aan die opheffing van minderbevoorregtes te wy nie. Ek is net ’n gewone ou.

Om derhalwe my vertellings van ’n grootliks saai lewe op te kikker, stel ek altyd één vereiste aan myself, of my relaas nou tong-in-die-kies of met ’n tikkie meer erns gelewer word: tussen al die sinnelose gebrabbel móét daar minstens een grappie verskyn. Al is dit ’n floue. Want soos die Dalai Lama eenkeer vertroulik aan my gesê het: ‘die enigste ding erger as ’n man wat ’n flou grappie maak, is ’n man wat glád nie ’n grappie maak nie’.

En hier is ons nou, 49 proeflopies later. En nog is dit het einde niet. Laat my daarom toe om van hierdie heuglike geleentheid gebruik te maak om my opregte dank uit te spreek teenoor Heather Walker, wat my herhaaldelik toelaat om oor ‘enigiets’ te skryf. En dankie ook aan al die lesers van hierdie publikasie. Dankie dat julle gebrek aan klagtes my telkens die geleentheid gee om ’n volgende proeflopie te neem!

Indien jy ’n gereelde leser van dié rubriek is, gaan besoek gerus my blog by fanieosoppiejas.com. Ek gee weliswaar nie die geheim van ’n lang en gelukkige lewe daar weg nie, maar hopelik sal dit jou vir ’n uur of twee kan vermaak.

Nou ja, cheers op die volgende 50 Fanie Os Oppie Jasse! Laat hy val waar hy wil…net nie op die grond nie. Ha. Ha. Ha.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.