Oor middernagtelike malligheid (opgedra aan Michelle)

FullSizeRender[8]

“O wat is die slaap, ’n wondersoete ding!”

Dis 2:46. Voormiddag. Terwyl ek in die stikdonker na die onsigbare plafon staar, maal dié gevleuelde woorde van D.F. Malherbe deur my gedagtes. Oor en oor en oor. Sy het maar flussies eers haar kop kom neerlê na nóg ’n uitmergelende sessie in die babakamer. Tandekry is nie vir sissies nie. Om ’n ma te wees ook nie.

Môre sal haar kollegas weer, na aanleiding van die kringe onder haar oë, spottenderwys na haar as ‘die panda’ verwys. Teen die middaguur, ná twaalf mededingende rondtes, sal die vaak haar finaal oorrompel. Haar kop sal soos die Churchill-hond s’n aan’t knik begin gaan en sy sal noodgedwonge vir ’n paar minute teen die toilethokkie se muur ’n uiltjie moet knip. Maar dis eers môre. Vir nou moet sy net haar asemhaling beheer, ’n paar skapies tel en dan behoort…

“TSHHHHHH”…skeur dit die nag se stilte. Die babamonitor se rooi oog knip vervaard. Ons wag roerloos. Met opgehoue asems. Dalk het hy net omgedraai in sy slaap. “TSHHHHHH…TSHHHHH…” laat hoor die monitor nogmaals. Tentatief, so asof hy ons wil voorberei op wat gaan kom. Die oomblik is op ’n mespunt gebalanseer. Die afwagting tasbaar. En dan, soos ’n rivier wat sy walle oorstroom, kom die verwagte kakofonie uit die kamer langsaan: “Kwêêêêêêêê! Kwêê-hu-kwêê-hu-kwêê-hu-kwêê!”

Vir die sóveelste maal moet sy uit die bed uit opstaan. Met ’n geswets gooi sy die duvet van haar af. DOEF-DOEF-DOEF-DOEF, klink haar voetstappe in die gang af. Mamma is op ’n mission. In die verbygaan word die badkamer se lig aangeklap. Geïrriteerd. Die babakamer se deur kraak stadig oop. Onheilspellend stadig…

En dan hoor ek dit. In die mees liefderyke, paaiende stemtoon: “Hallo my lieflingkindjie. Pla daai stoute tandjies weer vir mamma se boeboe? Toemaar, ons gaan vir jou bietjie melkies en bietjie Calpol gee en dan gaan jy sommer gou weer beter voel”

Uit die babakamer kom ’n deernisvolle weergawe van ‘Nankipoo’ aangesweef…

Want ten spyte van die gebrek aan slaap, die selfopoffering, die uitmergelende reis die onbekende in, is daar geen liefde soos die liefde van ’n ma nie.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.