Oor Facebook vir babas

7 Oor Facebook vir babas

’n Vriend van my, gewoonlik ’n eersterangse kruidjie-roer-my-nie, gooi nou die dag die volgende irritasiebelaaide status update op Facebook: “wonder of daar ’n manier is om babafoto’s op FB te blok?” En as al die likes wat sy stelling ontlok het as maatstaf moet dien, staan dié vriend klaarblyklik nie alleen in sy onverkwiklikheid jeens babafoto’s op sy gunsteling sosiale netwerk nie.

Nou súlke updates, wat tegelykertyd aan almal en aan niemand in die besonder nie gerig word, druk gewoonlik my paranoia-sensor tot diep in die rooi, maar dié keer kon ek op die daad ontspan, welwetend dat ek onskuldig was aan dié oënskynlik gewraakte wandaad. Ek het my immers al ’n jaar gelede begin pantser teen enige beskuldiging van dié aard, deur vir die baba onder óns dak sy eie Facebook-profiel te skep.

In sommige kringe was dit ’n raps kontroversieël en daar wás diegene wat gemeen het dat dit onvanpas was om ’n onskuldige baba in die vertoornde wêreld van virtuele vriendskappe los te laat, maar vandag is ek steeds ewe oortuig van die geldigheid van ons destydse motiewe om tot só ’n ongewone stap oor te gaan.

Ek het heelparty friends op Facebook wat ’n beduidende entjie weg is daarvan om ’n regmerkie langs die term ‘nabye vriend’ te kry. Desnieteenstaande is hulle interessante mense wat my dae opvrolik met amuserende status updates, prikkelende internetskakels en hoogs vermaaklike opmerkings oor die verspothede wat ek soms op Facebook kwytraak. Ek stel egter nie belang daarin om daagliks, en nóg minder uurliks, op hoogte gebring te word met die kleur en tekstuur van hulle drie-week oue Jannie of Sannie se doeke, of dié se opgooikaskenades nie. Dat die gevoel wederkerig is, is beslis nie altemit nie, en juis dáárom wil ek dit vermy om hierdie verlangse Facebook-vriende se newsfeeds met my seuntjie se daaglikse, grootliks onbenullige wel en weë te verstop.

Maar selfs meer belangrik as dít – Ben gaan nie vir ewig ’n kwylende, brabbelende bondeltjie vet wees nie. Eendag gaan hy kan lees en skryf (wel, ek hóóp so) en ’n begrip van sy eie geskiedenissie begin ontwikkel. En net soos ek ’n greep op my verlede kon kry deur die aandenkings uit my vervloë dae te ondersoek, sal hy hopelik ook eendag sy Facebook-blad vir dié doel inspan. Die gereelde boodskappe wat ek na sy inbox toe aanstuur kan hy weliswaar nog nie lees nie, maar dit wag geduldig daar om eendag deur hom ontdek te word. En elke boodskap wat sy friends op sy wall skryf en elke opmerking wat hulle by sy foto’s aanbring, dra by om vir hom ’n onskatbare herinnering aan sy lewetjie te skep – iets waarvoor hy my hopelik eendag sal bedank, en my nie voor die hof sal wil sleep omdat sy pieterjan hier en daar skaam-skaam kop uitsteek nie (see what I did there?).

Nou kom ons wees realisties: die knapie is nou maar eers ’n paar weke kort van sy twaalfde vermaandsdag. Hy stuur nie friend requests nie, hy maak nie kwinkslae nie en hy huldig geen opinie oor die sake van die dag nie. En hoewel ek hom al per geleentheid sy ma se skootrekenaar sien betik-tik-tik het, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit werklik sy bedoeling was om sy status op te dateer met ‘w0’r7hoj4o8/yg’.

Na regte behoort hy dus eintlik ’n Facebook-sluiper te wees. Maar tóg, vanuit sy stemmige Facebook-hoekie gaan hy heel fatsoenlik sy gang, en glo ek dat hy merendeels ’n positiewe bydrae tot sy friends se Facebook-belewenisse maak. En omdat sy friends met hom vriende wíl wees, kan hy maar weet dat hulle sy baba-belange ten volle op die hart dra en kan hy ongestoord voortgaan om sy doeke te vul en sy borslappe te bekots, gerus in die wete dat nie een van hulle na wyses soek om sy ou foto’tjies van hulle newsfeeds te verban nie.

*Hierdie inskrywing het voorheen as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.