Oor vermoedens, verwerpings en ‘n tyd wat sal kom

5 Oor vermoedens

Houston, ons het ‘n probleem. My vrou is verlief op iemand anders. Ek het reeds vir ‘n geruime tyd snuf in die neus, maar tydens die laaste drie maande is my vermoedens bo alle twyfel bevestig. Ten minste weet ek wat sy naam is, hoe hy lyk en waar hy woon, en as dit tot ‘n vuisgeveg moet kom sal ek vir seker die botoon voer.

Wat hom hier manifesteer, is die Oedipus-kompleks in trurat, want ek is jaloers op ons suigeling-seuntjie.

Die Mamma en Ben het net oë vir mekaar en dis klaarblyklik nou maar wors. Nou kyk, ek verstaan dat hy tans ‘n goeie rede het om sy ma se geselskap bo myne te verkies…wel…twéé goeie redes om presies te wees. Maar wie dink hy het in die eerste plek die saadjie geplant wat gelei het tot sy bestaan? Gmpf.

Ek kan dit eenvoudig nie kleinkry nie. Sy hoef net ‘n soentjie in sy rigting te blaas vir hom om onbeheers te begin wriemel – soos ‘n sywurm wat Doom gespuit is. Ek, aan die ander kant, kan my beste Al Debbo-gesig uitstal, ‘Daar Kom Die Alibama’ sing tot ek hees is en ‘n gumboot-dans uitvoer wat Johnny Clegg sal beïndruk, om maar net begroet te word met ‘n vraende, dikwels beangsde uitdrukking in daardie klein blou ogies. So asof ek ‘n klap van die windmeul weg het.

Dalk moet ek die antwoord gaan soek by die onderwerpe wat ons aanraak wanneer ons liefies met hom gesels. Sy, tipies vroumens, kan die hele dag lank babbel oor koeitjies en kalfies. Sy beskik letterlik oor ‘n onuitputbare arsenaal temas wat hom grensloos fassineer en waarna hy met absolute onverdeelde aandag luister. Monoloë is nou wel nie my sterkpunt nie, maar ek is nog nie eers halfpad deur my verslag oor die Bulle se geploeter die naweek nie of hy vind sy voorvinger onmeetbaar meer boeiend as my hartstogtelike gesanik oor my lieflingspan – of ek dit nou op die verpligte twee oktawe hoër as my normale stemtoon doen, of nie.

En dan is daar die white noise, wat ook niks help om my van my bedremmeldheid te verlos nie. Dis mos eintlik veronderstel om die klanke wat hy in die baarmoeder gehoor het na te boots, maar al uitwerking wat dié kombinasie van talmende Café del Mar-polsslae, kabbelende water en poepgeluide op mý het, is om my soos klokslag in die middernagtelike ure te noop om ‘n draai te gaan loop. Ten minste is daar altyd die kalmerende gezoem-zoem-zoem-zoem van die borspomp om my ná die draai weer aan die slaap te sus.

So laat ek dit nou maar ruiterlik erken: ek kan nie kers vashou by Die Mamma se vermoë om ons babaseuntjie te amuseer nie. Maar ek het tyd. En geduld.

Sy kan nie ‘n torrie skop nie, sy ken nie die geheim van ‘n wegbreek boul nie, en ‘laag ingaan’ en ‘hou jou oog op die bal’ kom nie in haar boek van aanhalings voor nie. Maar bowenal weet sy nie hoe om girls te tjaaf nie, en kort voor lank sal hy by mý kom aanklop vir raad rakende hierdie allerbelangrike lewensvaardigheid.

So geniet maar jou ma se eksklusiewe geselskap my liewe klein Ben. My tyd sal wel kom en eendag…eendag gaan dit ék wees wat jou hero is.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.