Auschwitz-Birkenau: die vergestalting van boosheid

'n Klein entjie weg van die hoofkamp, Auschwitz, het die Duitsers Auschwitz II, oftewel Birkenau, gebou. Hierdie ikoniese toneel het ek al by talle geleenthede in historiese literatuur aangetref. Dit was daarom 'n groot oomblik in my lewe om dié gesig met my eie oë te kon aanskou, en ek sê dit met uiterste respek aan die honderdduisende mense vir wie dit een van die laaste beelde was wat hulle oë sou vasvang voordat hulle koelbloedig vermoor is.

Hiér het die Nazi’s 1.3 miljoen mans, vroue en kinders koelbloedig vermoor. Twee-en-twintig volgepakte rugbystadions – almal dood. En vir die oorgrote meerderheid was hul enigste sonde dat hulle nie in die Führer se etniese suiweringsplanne gepas het nie.

Nou kyk, dis nie asof ek onvoorbereid was vir wat op my gewag het nie. ‘n Besoek aan Auschwitz was immers al vir jare lank op my reis-wenslys – wat dalk júís die rede was dat ek so aangedaan gevoel het deur wat ek daar beleef het.

Die hoop reistasse van duisende mense vir wie Auschwitz hul laaste bestemming sou wees, met name en geboortedatums steeds daarop aangebring, was moeilik om te aanskou. Die massa mensehare, afgeskeer van die koppe van 40,000 dooie vroue, was makaber, om die minste te sê. Maar dit was die versameling kinderskoene, in hulle duisende, wat die knop in my keel onhoudbaar gemaak het…want die meeste daarvan was dieselfde grootte as my eie seuntjie s’n.

Ek het waaragtig emosioneel uitgeput gevoel nadat ek vir ‘n hele dag lank gekonfronteer is met die slegste sleg wat die mensdom tot nóg toe kon oplewer. Maar op ‘n vreemde manier het ek ook opgeruimd gevoel, want daar, in die onheilspellende stilte van ‘n Auschwitz-gaskamer, het ek nogmaals besef dat my ‘probleme’ onbenullige nietighede is. Ek kan kom en gaan soos wat ek wil, ek gaan slaap nooit honger nie, en ek word betaal vir die werk wat ek doen – só anders as wat 1.3 miljoen onskuldige mense by Auschwitz beleef het.

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.