Skotland: oor lochs, monsters en ’n helse kakafonie

Die werklike Loch Ness Monster - geen affiliasie met die EFF nie.

In Londen kry ons af en toe besoekers uit die Republiek, en dikwels is ’n vinnige draai deur Westminster ’n voldoende dis om hulle reishonger mee te stil. Maar wanneer jou blóédfamilie jou die dag op ’n besoek trakteer, beter jy ’n opreg geteelde haas uit die hoed uit pluk – natuurlik om te verseker dat daar in wederkerige gunsbewysing met jou volgende besoek aan Suid-Afrika ’n sappige Bloubulsteak op die spyskaart is.

So bestyg ek, my broer en my semi-sus ’n Easyjet-vlug met Inverness, hoofstad van die land van lochs, glens en firths, as ons bestemming. Tot my opperste verbasing land een van Easyjet se vliegtuie op die bestemde tyd, en dié onverwagse meevaller vang my behoorlik onkant…maar nie soveel soos die lughaweportier wie se onderlyf nie eers in ’n Skotse rokkie gedrapeer is nie. ‘What kynd offa Macca arr yew den?’, flits dit deur my verwarde gedagtes, maar ek raak spoedig weer gerus dat ons wél in Skotland geland het wanneer ek drie ‘I beg your pardons’ benodig om steeds nie te kan ontsyfer wat die man probeer sê nie.

In ons huurmotor vleg ons om die draaie langs Loch Ness. Die enigste monster binne sig het vuurrooi hare en sproete so groot soos rosyne. Sy hou wag in die aandenkingswinkel neffens die meer, en selfs haar aura is so veglustig dat ek ’n wye draai om haar loop. Net buite Fort William bereik ons Ben Nevis – volgens die Lonely Planet die hoogste bergspits in die Verenigde Koninkryk…hoewel Mariepskop in my opinie ’n veel meer indrukwekkende gesig is.

By Stirling span ons uit. Hier toring die William Wallace-monument majestueus bo die dorpie uit. Ye can take ar lyves, but ye cannae take ar freeedooom!

Later druk ’n kelnerin ’n spyskaart in my hand. My oog vang die ‘Haggis with neeps and tatties’, wat ietwat suggestief klink – veral die ‘tatties’-deel. ’n Blitsige Google-konsultasie bring egter aan die lig dat haggis ’n onskadelike, tradisionele Skotse vleisgereg is. ‘Neeps’ is bloot rape, en ‘tatties’ is die straattaal vir aartappels. Ek bestel ’n porsie en vervreet my aan dié vreemde dis.

Teen die verwagting in beleef ek ’n sooibrandlose nagrus, en toe’s dit tyd vir ontbyt. Ek word Black Pudding aangebied, maar ek wys dit van die hand. Ek eet immers nie nagereg saam met my eiers nie. Ons gasvrou giggel oor my naïewe oningeligtheid en wys my daarop dat Black Pudding bloot gekookte bloed is wat met kruie behandel is. ‘Dis dus ’n roof besprinkel met braaisout’, dink ek, maar ek aanvaar gelate ons gasvrou se aanbod en oorleef dié skrikwekkende uitdaging met gemak.

Met ’n onmiskenbare roofnasmaak in my mond kies ons koers in die rigting van Edinburgh, verby Drumtochty Kasteel, waar die inwoners so statig is dat hulle sweerlik met messe en vurke in hulle neuse krap. ’n Highland cow loop amper voor my in, seker omdat sy hare so in sy oë hang.

Imposante Edinburgh slaan my asem weg. Van die magtige kasteel wat oor die stad waak, tot by die Royal Mile met sy eeue-oue winkeltjies en keisteenpaadjies. As ek die horlosie kon terugdraai na vyftien-voetsek, sou hiérdie eerder die hoofstad van Haar Majesteit se Koninkryk moes wees. Tog net jammer oor een ding…

’n Kakofonie van klank kom van êrens af aangesweef – iets tussen ’n renosterkoei met die papparellakoors en ’n Smurf wat asemnood beleef. Ons volg die galmende leidraad en kom af op ’n man wat uitgevat is in tradisionele Skotse drag. Onder sy arm klem hy ‘n ding vas wat ontstellend baie soos ‘n ystervark lyk.  Skielik maak die skril gekerm sin. “Dis nie ‘n ystervark nie,” sê my slim broer, “dis ’n doedelsak daai.” Met my hande oor my ore probeer ek die geroesemoes uit my brein uit weer, want ’n skelklinkende weergawe van Auld Lang Syne resorteer nie onder my gunsteling snitte van alle tye nie. “Kom,” sê ek, “hier moet ons weg.”

Ons maak onverwyld spore en voor ek my kom kry, sit ons nogmaals op een van Stelios se vliegtuie, ons sending suksesvol voltooi. Skotland is getem, my gaste is tevrede en voor my geestesoog kan ek alreeds daardie Bloubulsteak proe.

Augustus 2011

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.