Oor Fanie Os Oppie TV

Via TV

Ek sou graag my TV-debuut wou maak nadat ek iets merkwaardig vermag het. Iets sinvol, jy weet? Soos om die Comrades op een been te voltooi. Of om ‘n donkie vir die July-perdewedren in te skryf – en te wen.

Maar soos wat Salomo millennia gelede al in sy legendariese wysheid opgemerk het: “Dwaas is die man wat vir die TV-gode wil dikteer, maar wys is hy wat vat wat hulle na sy kant toe gooi.” En in daardie stukkie wysheid het ek berusting gevind nadat my TV-vuurdoop gekom het op die rug van iets taamlik ónmerkwaardig – die feit dat ek in China woon.

Die TV-gode het hulle aan my kom openbaar in die vorm van die gawe mense by VIA TV, en in besonder die span van CO.ZA – ‘n program wat die wel en weë van Afrikaanse mense in die buiteland dokumenteer. Hulle het ‘n vraelys aan my gestuur, en versoek dat ek ‘n stel selfie-video’s en selfgeneemde foto’s van China aan hulle verskaf. In ruil vir my moeite sou hulle dit saamgooi in ‘n 12-minute insetsel, en om bietjie glans aan die ding te verleen sou hulle vir Elana Afrika-Bredenkamp kry om haar pragtige glimlag so tussendeur ten toon te stel. Dit was ‘n aanbod wat ek nie van die hand kon wys nie.

Ek het genoeg beeldmateriaal vir ‘n vollengte speelfilm aangestuur, en die ontwikkeling van ‘n storielyn in die bekwame hande van die CO.ZA-mense gelos. Die eindproduk is wel baie vernuftig geredigeer, en Elana bly nou maar eenmaal ‘n skat, maar…uhm…ek glo nie ek behoort enige ambisies te koester om in die nabye toekoms my brood en botter as akteur te verdien nie!

Dit was interessant om te sien watter van ons video’s en foto’s regmerkies sou verdien, en watter nié. En hoewel ek terdeë besef dat dit ‘n Herculeaanse poging moes verg om dít wat ek aangestuur het tot twaalf minute te reduseer, wil dit vir my voorkom asof die voorafbepaalde narratief min of meer as volg daar uitgesien het: Afrikaanse mense arriveer in China – Afrikaanse mense staan verstom oor die vreemdheid van die plek – Afrikaanse mense mis hulle families en Afrikaans.

Nou kyk, al daardie dinge is waar. Ons word régtig nog op ‘n daaglikse basis stomgeslaan deur die dinge wat ons rondom ons sien, en ons verlang régtig na ons families en na Suid-Afrika, maar daar was soveel meer wat ons gesê en gewys het wat ons gehoop het ook ingesluit sou word. Ek sal nou nie so ver gaan as om dit ‘fake news’ te noem nie, maar ek het na dese tóg ‘n bietjie meer empatie met politici wat mor dat hulle buite konteks aangehaal word.

Sommige mense in my binnekring (ek sal nie name noem nie, maar hulle weet wie hulle is…) maak soms die aantyging dat my stories langdradig is, en dat ek te lank vat om by die punt uit te kom. Ek, aan die ander kant, glo dat enige storie wat sy sout werd is, konteks benodig. ‘n Mens slaan mos nie die voor- en hoofgeregte van ‘n maaltyd oor om voortydig by die nagereg uit te kom nie. Dis ‘n proses, man! ‘n Proses! En daarom dink ek dat dit gepas sal wees om bietjie konteks te verleen aan ‘n handvol dinge wat in die insetsel genoem en gewys word, sowel as om hier en daar ‘n feitefoutjie reg te stel.

– “Die trekgier loop sterk onder Suid-Afrikaners. Of hulle nou jonk is, of minder jonk.” Só voer Elana in haar openingsmonoloog aan. Ek kan my nie indink na wie sy as ‘minder jonk’ verwys nie, maar dit is beslís nie óns nie. Kug-kug.

– In een van die eerste tonele verwys ek na die pienk geboutjies waarin ons bly. Daardie ‘geboutjies’ is 31 verdiepings hoog, wat die groen gedrog waardeur ons ou woonstelblokkie verdwerg word in perspektief plaas. Dáárdie gebou is Citic Plaza, die hoofkwartiere van Citic Bank. Hy staan 90 verdiepings hoog in sy fondamente, en is maar die derde hoogste gebou in die omtrek. Guangzhou is waarlik ‘n megastad.

– Michelle kom inderwaarheid nié oorspronklik van Pretoria af nie. Sy is ‘n gebore en getoë Rustenburger. Sy is bitterbaie trots daarop, en omdat ek weet wat goed is vir my, sal ek dit nie dúrf waag om ‘n grappie daaroor te maak nie.

– “Wat ek wel nog steeds baie mis is om ‘n gesprek te kan voer met ‘n Afrikaanssprekende persoon. En nie noodwendig omdat die gesprek in Afrikaans is nie, maar wel oor wat in die taal vervat word…” En toe knip hulle my kort.

Wat ek bygevoeg het, was: “…soos verwysings wat ‘n Afrikaanssprekende persoon onmiddellik sal snap. Hoe verduidelik jy byvoorbeeld vir ‘n Chinese persoon die konteks rondom JOOL? Of die bosveld? Of kinderkrans? Of die politieke situasie in Suid-Afrika? Dis moontlik, maar dis moeilik. So hoewel ek Engels vlot kan praat, en redelik bedrewe is met Casper de Vries-Hollands, verál wanneer ek ‘n bier of twee agter die blad het, bly dit Afrikaans waarin my persoonlikheid beslag kry, en waarmee ek die gemaklikste voel. En daarom is dit nie biltong, Creme Soda, Ghost Pops of enige ander kosserigheid wat ek die meeste van Suid-Afrika mis nie (kos maak in elk geval net stront in jou maag) maar om op ‘n daaglikse basis met Afrikaanssprekende mense te doen te hê.

– Michelle verwys na die Great Firewall of China – daardie digitale skans waardeur die hoogs kwesbare Chinese bevolking beveilig word teen verderflike webblaaie soos Google, Facebook, Youtube, Twitter, Instagram, die BBC en The New York Times.

Daardie stelling mag dalk hier en daar ‘n wenkbrou laat lig, synde ek op die oog af na willekeur foto’s en stories op Facebook plaas. So hoe slaag ek dan daarin om die Great Firewall of China te omseil?

Wel, ons maak gebruik van ‘n VPN – ‘n Virtual Private Network, of ‘n Verskriklike Pyn in die Noebies, soos ék daaraan dink. ‘n VPN is ‘n stuk sagteware wat die IP-adres van jou rekenaar verbloem, en jou in staat stel om dit tydelik te vervang met ‘n IP-adres in enige ander land van jou keuse. Daarom, al sit ek in China, lyk dit asof ek in Amerika, of Brittanje, of Duitsland is. En op dié manier word ek tydelik kwytgeskeld van die drakoniese internetbeperkings van die Chinese regering.

Daar is egter twee probleme met ‘n VPN. Eerstens ruk dit ‘n groot gat in my sak wanneer ek jaarliks my subskripsie moet hernu. En tweedens werk dit dikwels nie. Daar is min groter frustrasies as om voor my rekenaar in te skuif, en te besef dat ek niks wat ek beplan het kan afhandel nie, omrede die VPN nie doen wat ek hom betaal om te doen nie. En dis dán wanneer daardie verskriklike pyn in die noebies op sy ergste is.

– As jy dit dalk gemis het – Guangzhou is sowat 2 ure se ry van Hongkong af. Dit word ‘n skamele drie keer in die insetsel genoem, en dit mag daarom maklik gebeur dat daardie báie belangrike brokkie inligting ongemerk verbysluip.

– Die bewering dat Ben Mandaryns ‘baasgeraak’ het is ‘n groteske oordrywing. Hy het nog nie eers Engels baasgeraak nie. En ook nie Afrikaans nie. Want hy is…uhm…vyf jaar oud. Maar ná amper vier jaar se daaglikse Mandarynse lesse by die skool kan hy darem al ‘n hele paar frases met vertroue rondgooi. En boonop verstaan hy nóg meer woorde en frases as wat hy self kan verbaliseer. So, alhoewel ons gereeld vir hom lag kry wanneer hy in sy geradbraakte Tsjieng-tsjong-tsjieaans namens ons kos bestel in restaurante, of met vreemdelinge ‘n geselsie aanknoop terwyl óns met ‘n mond vol tande staan, sal ek myself nie in die posisie wil bevind waar my lewe van sy Mandarynse vaardighede afhang nie.

– “Ek dink nie ‘n mens sal ooit voel dat jy China regtig oorwin het nie. Ek dink die plek is heeltemal te volksvreemd om só ‘n bewering te maak.”

En die deel wat nié die cut gemaak het nie: “Ons het byvoorbeeld nog nooit saam met ‘n Chinese gesin in hulle sitkamer gesit en kuier nie, en die vernaamste rede daarvoor is dat ons nog nooit genooi is nie! Ek dink nie juis dat ons deur die Chinese as ongewensde huisgaste beskou word nie – dis bloot ‘n geval dat ons mekaar nie kan verstaan nie! Die oorgrote meerderheid mense in Guangzhou kan nie ‘n woord Engels praat nie, maar selfs al sou ons mekaar ten volle kon verstaan, is ons kulture so uiteenlopend dat ons heel moontlik nie veel vir mekaar te sê sou hê nie. Ons is baie vriendelik met die Chinese, en hulle met ons, maar ek sal nie sê dat ons dosyne lewenslange vriende hier gemaak het nie.”

– In die laaste toneel grawe Ben lekker diep vir diamante. Hy doen dit soms omdat hy dink dat dit snaaks is. Ek weet nie waar die kind aan sy vreemde sin vir humor kom nie. Moet seker maar sy ma se gene wees.

So ja, die lewe in China is soos ‘n soet-suur chow mein. Daar is baie soet, en daar is baie suur – op ‘n daaglikse basis. Maar solank jy ‘n balans tussen dié twee kan verseker, kan jy meer hier doen as om bloot te oorleef. Jy kan lééf.

Dié twaalf minute is maar net ‘n vlugtige blik op ons bestaan in hierdie allervreemde land, maar tóg is dit ‘n waardevolle aandenking van ons belewenisse hier. Ek is baie dankbaar teenoor die mense by CO.ZA vir die moeite wat hulle met hierdie insetsel gedoen het, en ek is oortuig dat ons oor ‘n jaar of tien érg melankolies sal voel wanneer ons weer daarna kyk.

Maart 2017

 

Fanie Os Oppie TV from Fanie van der Merwe on Vimeo.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

  1. Jayne sê:

    dit is regtig vreeslik. jy leef die geluid van jou eie stem, nie jy nie. jou hartseer klein China lewe …

    • Fanie sê:

      Hallo trol!

      En tog is my “klein lewe” groot genoeg vir jou om daaroor kommentaar te lewer…

      Ek kon nie regtig sin maak van wat jy probeer sê nie, aangesien jou spelling en grammatika te swak is – tipies van ‘n trol.

      “Hartseer”, sê jy? Die enigste hartseersaak wat ék sien, is iemand wat onder ‘n vals naam, en met ‘n vals e-posadres, daarop uit is om iemand anders te verneder.

      Ek wonder of jy ooit sal besef hoe pateties dít wat jy hier gedoen het werklik is. Ek kry jou regtig jammer. Gaan kry hulp, voordat dit te laat is.

Laat 'n boodskap na Fanie Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.