Waar die Groot Muur van China begin…of eindig…of begin.

1

Alles het ‘n begin, en alles het ‘n einde. Behalwe natuurlik vir Chuck Norris. En 7de Laan. Chuck Norris is immers nie gebore nie – hy was maar net nog van altyd af daar. En of jy nou daarvan hou of nie, 7de Laan gaan met ons wees tot die hane ophou kraai, tot die leeu en die lam by mekaar gaan lê, tot daar gras aan die hemelruim groei. In ‘n neutedop, totdat alles in “Was Ek Maar ‘n Digter” volbring is. En dis ‘n láng tyd. Sug.

Iets wat wél ‘n begin en ‘n einde het, is die Groot Muur van China. En gister het ek gaan kyk presies waar hierdie bielie van ‘n muur begin…of eindig…afhangende van die rigting waarin jy kyk.

Twee en ‘n halwe ure met ‘n 300km/h-hoëspoedtrein van Beijing af, en jy is daar – Shanhaiguan, ‘n spikkel op die Chinese landkaart, en met sy 140,000 inwoners maar net ‘n klein ou dorpie in die groter Chinese prentjie. Maar sowat vyf kilometer buite Shanhaiguan vind jy dít wat dié dorp laat uittroon bo honderde ander Chinese dorpe van dieselfde grootte.

Daar, op ‘n strand, met sy kop in die water en sy lyf wat oor die deining land-in kronkel, lê Laolongtou – Ou Draakkop. Net soos die ganse 21,000 kilometer van die Muur bedoel was om ‘n skans teen vyandige barbare uit die noorde te wees, net so is dié deel van die Muur in die 1300’s deur Keiser Hongwu opgerig om as teenvoeter vir die aanvalle van die ‘ongekunsteldes’ uit Mantsjoerye te dien. Met die kom en gaan van die eeue, en van Chinese dinastieë, het dié deel van die Muur al verskeie stadia van verval beleef, maar vandag is dit pragtig gerestoureer, en wanneer jy daar rondloop kan jy die grootsheid van die simboliese betekenis van Ou Draakkop aanvoel.

Iets anders wat jy kan aanvoel wanneer jy by Laolongtou ronddrentel, is hoe die plaaslike bevolking na jou staar. Daar doen ooglopend nie veel besoekers met my gelaatskleur daar aan nie, en derhalwe het ek tydens my besoek soos ‘n kontemporêre Marco Polo gevoel. Ek moes vir dosyne foto’s poseer; soms saam met skoolkinders, soms saam met bejaardes, en dikwels saam met hele gesinne. En indien daar ‘n baba in die gesin was, was daar net een plek vir hom – in my arms. Ek is seker Weibo (die Chinese Twitter) gons vandag met die hutsmerk #bigwhitemanonwall.

Dis regtig ‘n aardige ondervinding om jou by ‘n plek te bevind waar élke beweging wat jy maak met arendsoë dopgehou word. Nie uit agterdog nie, maar uit blote nuuskierigheid. Gewoonlik bly dit by ‘n gegekykery, maar nou en dan sal ‘n brawe siel ‘n woordjie ook kom verwissel. En daardie woordjie is ‘hello’. Soms, met uitsonderlike geleenthede, sal ‘n ‘how aah yoo?’ ook ingegooi word, in welke geval jy maar kan weet dat jy met een van die mees ingeligte (en dikwels mees byderwetse) dorpenaars te doen het. Ek sou nooit kon raai hoe diepsinnig ‘n twee-woord-gesprek kan wees wanneer nie-verbale kommunikasiemetodes by die mengsel ingewerk word nie. Groot oë, handgebare, dieregeluide…met al dié oefening gaan ek beslis die een wees om te klop by die volgende stomstreke-aand.

                                **************************************************************

Ek kon ‘n draai by Shanhaiguan gaan maak omdat ek eintlik vir ‘n paar dae in Beijing was. Beijing mag dalk 2,300 kilometer van my tuisstad, Guangzhou, af wees, maar daar is tog ‘n aantal onmiskenbare kenmerke wat dié twee stede met mekaar deel.

In Beijing, net soos in Guangzhou, lyk dit deurgaans asof iemand ‘n miershoop omgeskop het. Dit joel en krioel áltyd met mense, maak nie saak waar jy jou bevind nie. Jy kry nooit sitplek op die metro nie, die eerste bus wat verbykom is altyd vol, en in ‘n supermark kronkel die rye altyd tot om die naaste hoek. As jy aan engtevrees ly, is nie Guangzhou óf Beijing die plek vir jou nie.

In Beijing, net soos in Guangzhou, is die lug altyd die kleur van ‘n week-oue bloukol – selfs wanneer daar nie ‘n wolkie in die lug is nie. Daar moet seker ‘n wetenskaplike verklaring vir hiérdie verskynsel wees, maar as ek ‘n lekeraaiskoot moet waag, sou ek sê dat dit heel moontlik iets te doen het met die beroemd-berugte fabrieke wat so geil gesaai in dié land lê – ‘n gedagte wat niks doen om my gemoed (of my longe) te sus nie.

In Beijing, net soos in Guangzhou, lewer die koerante gewoonlik verslag oor…oor…uhm…wel…ek kan nie eintlik sê waaroor hulle verslag lewer nie, synde ek slegs sowat 10 Chinese karakters kan herken, wat aansienlike minder is as die vereiste 3000 karakters waarvan jy kennis moet dra om enigsins sin van ‘n koerant te kan maak. Die foto’s op die voorblaaie is egter altyd van kwaai Chinese ooms in donker pakke klere wat vervaard hulle voorvingers soos Hitler en P.W. Botha rondswaai. En dít maak my so bang dat ek heimlik verlig is dat ek nie kan verstaan wat die onderskrifte sê nie.

In Beijing, net soos in Guangzhou, is straatspoeg tot ‘n fyn kuns vervolmaak. Wanneer jy in die straat stap, hoor jy soos klokslag ‘n gekug en ‘n gegorrel opklink vanuit die bondel mense waardeur jy deurgaans omring word. En wanneer jy begin rondsoek na die skuldige, vind jy dat dit dikwels die kortste, kromste ou tannietjie is wat op die punt staan om ‘n ghwel te gooi. Dit maak ook nie saak hóé jy jou gesig trek om jou renons in dié afstootlikheid te laat blyk nie; niemand steur hulle aan jou nie. Om by jou sinne te bly moet jy daarom maar net vrede maak met dié verskynsel, want daar is nou maar net geen manier om aan hierdie snotstorm van soorte te ontkom nie.

In Bejing, net soos in Guangzhou, bestaan daar nie ‘n ding soos ‘n werkersunie nie. As ‘n werknemer ontevrede is met die noedelsop wat vir middagete bedien word, nie gediend is daarmee om 80 ure per week te werk nie, of selfs morele beswaar wil aanteken teen sy werknemer se beleid om fabrieksafval in die naaste rivier te stort, kan hy netsowel vir hom ander werk gaan soek – in welke geval 1.29 miljard van sy landgenote gereed staan om sy vakante pos te vul. Dié ingesteldheid weerspieël nie noodwendig my persoonlike siening oor die verdeling van produksiemiddele nie, maar dit hou tóg ‘n reuse-voordeel vir my in. Geen unies = geen stakings = geen pendelchaos. Die ondergrondse treinnetwerk in beide dié stede is dus wêreldklas. Oorvol, weliswaar, maar onberispelik skoon, en so gereeld soos ‘n vesel-eter se toiletbesoeke.

In Beijing, net soos in Guangzhou, rook álmal. Wel, alle mans bo die ouderdom van 16 in elk geval. Dis amper asof jou rokerstatus ‘n deurgangsrite tot volwassenheid is – ‘n verwronge tipe Verre Oosterse bar mitzvah, waar cartons skywe as persente aan die jongeling oorhandig word. Maar aan die ander kant behoort mens seker nie té verbaas oor dié stand van sake te wees nie. Dis immers minder skadelik vir jou longe om ‘n teug aan ‘n sigaret te vat as wat dit is om die besoedelde lug rondom jou in te asem.

Ek het groot waardering vir die straatmusikante, oftewel ‘buskers’, van hierdie wêreld. In Londen, Parys en New York laat die soet klanke wat uit dié musikante se instrumente opklink my gewoonlik met geen ander keuse as om ‘n banknoot of twee in die oopgeslane kitaartas te gooi nie. In teenstelling daarmee kry jy die straatmusikante in Beijing en Guangzhou, wat klanke iewers op die kontinuum tussen ‘n doodsroggel en ‘n kraamkreet laat opklink, en my laat voel of ek nie anders kan as om ‘n handgranaat of twee in die oopgeslane kitaartas te gooi nie.

In Beijing, net soos in Guangzhou, glo baie mense dat hul rommel vooruit bestem was om in die groot asblik rondom ons, genaamd Die Aarde, te beland. Ek wens dikwels dat ek my mond kan uitspoel teenoor dié Asiatiese Zibi-haters, maar tot my groot frustrasie (en skaamte) bestaan my totale Chinese repertoire slegs uit die volgende: ‘hou reguit aan’, ‘draai links’, ‘draai regs’, ‘stop hier’, ‘hallo’, ‘dankie’, ‘tot siens’, ‘plastieksak’, ‘Suid-Afrika’, ‘skool’, ‘goed gedoen’ en ‘geskiedenisonderwyser’. En snaaks genoeg kan ek nooit die regte kombinasie uit bogenoemde vorm om my ware gevoelens teenoor die skuldige rommelstrooier te verwoord nie.

Everything’s made in China. And everything’s faked in China – en dit sluit die hele spektrum in, van horlosies tot by babamelk. So, of dit nou in Beijing of in Guangzhou is, bly dit ‘n uitdaging om te verseker dat die kledingstuk wat jy teen ‘n appel en ‘n ei aangeskaf het die ware Jakob is, en nie net ‘n namaaksel met ‘n verbeeldingryke handelsmerknaam soos Tommy Heelvinger, Donsie & Habana, Louis Viljoen of Hugo Boos nie.

Maar ten spyte van al die tong-in-die-kies-opmerkings wat mens daaroor kan maak, bly dit ‘n ongelooflike ondervinding om in die Chinese hoofstad rond te drentel. Van die hart van China, Tiananmen-plein, waar Mao Zedong onheilspellend na jou toe aftuur, tot by The Forbidden City, waar Chinese keisers vir millennia lank hul skoene uitgeskop het, tot by die Temple of Heaven, waar die Ming- en Qing-keisers ‘n goeie oes van die god van die hemel gaan afsmeek het, tot by Wangfujing straat, waar die een inkopiesentrum op die volgende jou herinner hoe kapitalisties hierdie kommunistiese land regtig is.

                                **************************************************************

Ek kon vir ‘n paar dae in Beijing rondhang omdat ek eintlik op die punt staan om ‘n besoek aan Noord-Korea te bring. Dis reg, NOORD-KOREA! ‘n Jaar of drie gelede het ek ‘n studie-eenheid oor die Koreaanse Oorlog aan ‘n groep A-level-studente aangebied, waarna ek ‘n geweldige fassinasie met Korea ontwikkel het – verál met die noordelike deel daarvan.

Sedertdien het ek begin plannetjies beraam om eendag self te gaan kyk wat in daardie geheimsinnige deeltjie van die wêreld aangaan, en nou het ‘eendag’ ‘vandag’ geword.

Dit was nie maklik nie. Noord-Korea, oftewel the Democratic People’s Republic of Korea (DPRK) is nie ‘n plek waar jy sommer net kan opdaag en verwag om ingelaat te word nie. Jy moet jou aansoek (ten duurste) indien deur ‘n reisagentskap wat die stempel van goedkeuring van die Noord-Koreaanse regering dra. Jy kan ook nie jou eie, unieke reisplan ontwikkel en dink jy kan gaan ondersoek instel by plekke wat jou interesseer nie. O nee! Jy moet vat wat jy kry, en jy mag net sien wat die reisagentskap sê jy mag sien. Boonop kan jy nie as ‘n individu reis nie, maar moet jy in groepsverband rondbeweeg, terwyl Noord-Koreaanse gidse jou pal vergesel om seker te maak dat jy nie enige onhebbelikhede aanvang nie.

Dit was daarom interessant om ‘n e-pos van die reisagent te ontvang waarin die volgende uitgestippel word:

“It is important that travellers behave respectfully towards the country and the regime. Please restrain yourself from taking any religious material, Korean material or any books about DPRK. We now kindly ask travellers not to bring any material whatsoever regarding information of North or South Korea, including personal travel pictures. Do not take in any symbols of the US or South Korean flag.

Anything that has any negative information about DPRK or socialism should not be taken in either. Some travel guides have sensitive information about the DPRK, so please check this if you are thinking of taking yours in.

When taking pictures of the leaders e.g. monuments, portraits, you
should not lean on the ground. You should not fold the image of the leaders either (e.g. if you see a newspaper please do not fold it as causing a crease on the image of any of the leaders will be problematic) or spoil them in any manner (e.g. staining the image with coffee, water, etc) or put anything on them.

It is very important too that we ask our guides each time we would like to take a picture.

Iphones and Ipads can be taken in despite the GPS restriction, and guides are always interested in seeing any pictures you may have of your home country, your travels, etc. Please do not take in cameras with GPS.

Please bring a shirt and tie for your visit to the main square of the Memorial Palace.”

Gewoonlik sal ‘n e-pos ter inligting vir ‘n voorgenome reis jou maan om genoegsame sonbrandroom in te pak, seker te maak dat jy die adres van jou hotel ken, en seker te maak dat jy reëlings getref het om die plaaslike geldeenheid in die hande te kry. Gewoonlik. Noord-Korea is kennelik nie ‘n gewone bestemming nie…

Ek is nou op pad om die reisagent en my toergroep te gaan ontmoet, waarna ons ‘n oornagtrein na Pyongyang sal bestyg. Môre-oggend dié tyd het ek reeds deur die rabbit hole geklim, en wie weet wat alles met die verloop van die volgende agt dae op my wag?

Ek het lanklaas vlinders in my maag oor ‘n besoek aan ‘n ander land gekry, maar vandag gaan daai insekkies wild tekere hier binne my. Onsekerheid gemeng met opgewondenheid, aversie gemeng met avontuurlus.

Ek is seker dat hierdie een van die mees onvergeetlike weke van my lewe gaan wees – juis omdat ek nie mooi weet wat om te verwag nie. Maar die een ding wat ek wél weet, is dat ek sal doen wat daar van my verwag word. Ek gaan nié propagandaplakkate uit my hotel verwyder nie, en ek gaan nié ‘n bespotting maak van Kim Jong Un se haarstyl nie. Ek het baie planne vir die volgende twintig jaar, maar om dit in ‘n Noord-Koreanse strafkamp te spandeer is nie een só ‘n plan nie. Ek weet dit gaan oukei wees, ek wéét dit, maar net ingeval iets onvoorsiens gebeur, wil ek net, soos die stoere Pretorianer wat ek in my hart is, van dié geleentheid gebruik maak om bôie dônkie te sê vir my mô en my pô. Sommer vir ôlles.

Nou ja, hier gaan ek. Ek sien julle aan die ander kant…

Junie 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.