Kambodja: oor tempels, tuc-tucs en ‘n klein bietjie noodhulp

2

Kambodja. Met die eerste ooropslag mag dit dalk klink soos die naam van ‘n fiktiewe land op ‘n Risk-bord – soos Irkutsk, Kamchatka of Siam, maar in Suidoos-Asië, in ‘n knyptang tussen Viëtnam, Laos en Thailand, lê die Koninkryk van Kambodja…en jy hoef nie eers drie sesse met die rooi dobbelstene te gooi om sy grense oor te steek nie.

Wanneer dit by die geskiedenisboeke kom, boks dié eertydse Franse kolonie al vir eeue lank bo sy gewig. Vér bo sy gewig. En dít ten spyte daarvan dat hy skaars ‘n sewende so groot is as Suid-Afrika (en sewe-en-sewentig keer so warm!), en deur ‘n legio sosio-ekonomiese euwels geteister word, soos erge armoede, korrupsie, ongeletterdheid, hongersnood en powere menseregte. En dan is daar nog die uitmergelende hitte ook.

Van swaarkry (en warm kry) kén die sowat 16 miljoen Kambodjane. En hulle ouers het óók van swaarkry geken. In 1975 het die kommunistiese Khmer Rouge, onder leiding van Pol Pot, die mag ná ‘n staatsgreep oorgeneem, en oor ‘n tydperk van vier jaar is die land in moorddadige chaos gedompel en tot teenaan die rand van die afgrond getrek. Dis ‘n geweldige interessante storie, waarop ek in ‘n volgende inskrywing sal uitbrei, maar vir nou wil ek eers die horlosie ‘n bietjie verder terugdraai. Wel,‘n bietjie báie verder, om presies te wees.

Sowat driehonderd kilometer noord van die hoofstad, Phnom Penh, vind jy Cambodia (ek verseg om langer soos Edwill van Aarde te klink deur aan te hou praat van ‘Kambodja’) se tweede grootste stad – Siem Reap. Dié stad, met skaars 200,000 inwoners, meestal vervalle geboue, en grondpaaie binne ‘n vyf-kilometer radius van die stadskern af, bied eintlik nie té veel om te sien nie. Dis egter nie wat binne die grense van Siem Reap lê wat jaarliks sowat twee miljoen besoekers daarheen lok nie, maar dít wat vyf kilometer daarbúíte lê, het menige toeris al na sy asem laat snak.

Verreweg die meeste Kambodjane is Khmers – afstammelinge van die Angkorse Ryk wat tussen 800 en 1300 oor ‘n groot deel van Suidoos-Asië gestrek het. En daar, net buite Siem Reap, in die hartjie van die oerwoud, het dié antieke beskawing vir ons ‘n hoogs indrukwekkende bewys van hulle bestaan gelos – die tempels van Angkor.

Dié tempels van Angkor is die grootste religieuse monument in die geskiedenis van die mensdom. Oor ‘n oppervlak van 400 vierkante kilometer lê hulle ingeryg – die een na die ander argaïese tempel en monument. Die juweel in dié kroon is die veelgeroemde Angkor Wat, wat in terme van besoekerswaarde deur baie mense gelykgestel word aan Machu Picchu in Peru, maar daar is ook ‘n horde kleiner tempels wat behoorlik jou asem wegslaan…mits die versengende Kambodjaanse hitte nie reeds die laaste bietjie asem uit jou longe gepers het nie. Daar is die Bayon-tempel, oftewel die Tempel van Gesigte, en Ta Prohm, waar die natuur sy eiendomsreg begin terugeis het, en reusagtige bome vandag bo-oor die mensgemaakte strukture groei.

Ek en Tamas, my Hongaarse vriend en reisgenoot, het drie dae gehad om dié wêreldwonder te verken. Volgens Tripadvisor, Lonely Planet en The Rough Guide, sou die beste wyse om ons verkenningstog aan te pak wees om ‘n tuc-tuc (‘n motorfietsaangedrewe riksja) te huur, en die bestuurder toe te laat om jou in die gerief van sy vuurperdewa van die een tempel na die volgende te karwei. Maar wat weet dáái ouens nou van travel af, huh? Niks. Absoluut niks. En daarom het ons hoogmoedig hulle raad in die wind geslaan en eerder ons eie koppe gevolg. Maar almal weet mos wat kom van hoogmoed…

Dit het na ‘n veel meer outentieke belewenis geklink om eerder op spierkrag as perdekrag vir ons verkenningstog staat te maak, en na ‘n vinnige draai by ‘n fietsverhuringswinkel het ons ons lywe Ertjies Bezuidenhout gehou, en vol bravade afgesit in die rigting van die tempelkompleks. Maar skaars 500 meter ons verkenningstog in het ek reeds geweet dat dit nét so ‘n slegte idee was soos die keer toe ek ‘n vlug op Air Gabon bespreek het.

Ek is nie seker of ek al melding gemaak het van die Kambodjaanse hitte nie, maar mense, dit is warm. Warm soos die hel. Wanneer die avontuurlus jou volgende keer beetpak, sit ‘n aangeskakelde haardroër in jou mond en haal lekker diep asem – dán sal jy weet hoe elke asemteug vir my gevoel het. My testosteroongedrewe trots het my egter daarvan weerhou om my ongemak aan Tamas te openbaar, en derhalwe, met beelde voor my geestesoog van vroue wat kaalvoet oor die Drakensberge trek as motivering, het ek daai pedale met Stoïsynse deursettingsvermoë bly trap.

Trap-trap-trap. Hyg-hyg-hyg. Sweet-sweet-sweet.

By die ingang van die tempelkompleks het ‘n vriendelike Kambodjaanse meisie ons toegangskaartjies ondersoek. “You hot?” het sy retories gevra. Ek het haar nie geantwoord nie. Nie omdat ek nie wou nie, maar omdat ek nie ‘n woord oor my lippe kon kry nie.

Trap-trap-trap. Hyg-hyg-hyg. Sweet-sweet-sweet.

Ons het sommer by die heel eerste tempel halt geroep. My gesig was so rooi soos die EFF se oorpakke, my klere deurdrenk van die sweet, en my longe aan’t protesteer soos tydens ‘n eerste gymsessie na ‘n Kersvakansie. Ek dink nie ek het al ooit so baie na ‘n Londense winter verlang as op daardie presiese oomblik nie.

Ons het ons (verbliksemse) fietse teen ‘n boom staangemaak, en langsaam die stowwerige paadjie na die ingang van die tempel begin aandurf. Dié een, soos al die ander tempels van Angkor, was ‘n bouvallige murasie, met sonstrale wat deur krake in die eens statige mure breek, en in die proses ‘n lieflike ambiejaans skep – ‘n ambiejaans wat ek nie eers ámper in my toestand van kapotheid kon waardeer nie.

Net ‘n paar meter verby die drempel, in totale skadu gehul, was ‘n vertrek waarin ‘n afbeelding van die Boeddha gehuisves was. Tamas het verbygestap, maar ek het my instinktief daarheen gewend, waar ek teen ‘n symuur geleun en my beste probeer het om my asemhaling terug te kry na iets wat as reëlmatig beskryf kan word. Die koelte het my goed gedoen, en na ‘n minuut of drie het my bloeddruk effens gesak. My oë het aan die donker begin gewoond geraak, en dis tóé dat ek sien wat met daai Boeddha aangaan.

Nou kyk, met daardie skrefiesoë lyk enige Boeddha of hy ‘n kort tevore ‘n zol geklap het, maar dié een was anders. Hy het intens na my gestaar, sy wenkbrou in ‘n skalkse vraagteken getrek, vir my oog geknip, en toe, tot my groot verbasing, vir my ‘n soentjie geblaas.

Maar gelukkig, nét voor my hitte-hallusinasies heeltemal kon hand-uit ruk, is ek na die werklikheid toe teruggeruk deurdat ek bewus geword het van die teenwoordigheid van nóg ‘n persoon in daardie halfdonker kamer…

Hy het hande-viervoet gestaan, met sy gesig grondwaarts gekeer. Die allervreemdste geluide het uit sy keel verrys, en as dit nie vir sy Westerse klerasie was nie, sou ek kon dink dat hy midde-in ‘n eksentrieke Boeddhistiese aanbiddingsritueel was. Ek het dié vreemde gesig aanvanklik amuserend gevind, maar toe hy opkyk het ek geskrik. Gróót geskrik. Sy gesig was nie rooi soos myne nie, dit was wit. Sy mond het oop en toe gegaap soos dié van ‘n vis op droë grond, en in sy iets-in-die-twintigjarige oë kon ek naakte vrees sien toe hy na my kyk en die woorde ‘help me’ in ‘n fluisterstem uiter.

Dit was net ek, en hy, en die Boeddha. En op daardie liefderike Boeddha sou ek nie kon reken nie. Ek moes iets doen, maar wát? Ek het vervaard probeer om dít wat ek in ‘n noodhulpkursus op ‘n Voortrekkerkamp in standerd sewe geleer het te herroep, maar dit sou op daardie stadium makliker gewees het om die name van al die ANC-parlementariërs wat by die reisskandaal betrokke was te resiteer, as om te onthou wat jou te doen staan wanneer iemand reg langs jou besig is om van hitte-uitputting om te kom. Moes ek hom in die fetusposisie draai? Of sy hemp oopskeur? Of, die hemele behoed ons, mond-tot-mond-asemhaling gee?

Ek het regtig nie geweet nie, maar sonder om te dink het ek hom omgedop, en die inhoud van die 2-liter waterbottel waarmee ek in my hand gestaan het oor sy kop en bolyf uitgekeer. Vervolgens het ek my hemp uitgetrek, wat al die dames in die omtrek die hasepad laat kies het, en hom daarmee begin lawe. Dit was soos ‘n toneel uit ‘n fliek uit toe sy toe oë na ‘n paar sekondes oopskiet, en hy kort daarna ‘n diep asemteug vat. In my kop het ‘n leërskare soos een man begin juig. “Thank you, thank you, thank you,” het hy oor en oor gesê.

Sy naam was Jake. Hy was ‘n Kanadese toeris, en hy was kennelik nóg minder aan die tropiese hitte gewoond was as ek. Die feit dat hy nog tot die vroeë oggendure toe gefuif het, en nie gehoor gegee het aan die vereistes van sy nadors nie, het ook niks gehelp om ‘n potensiële plofbare situasie te ontlont nie. Ek het vir nog ‘n kwartier of wat daar by hom gesit en hom water gevoer – ek, en hy, en die mees liefdevolle Boeddha in Kambodja. En toe ek seker was dat hy weer stewigheid onder sy voete kon voel, het ek my hemp aangetrek, met hom bladgeskud, en het ons elkeen ons eie rigting ingeslaan…sonder om eers vriende op Facebook te word. Die ondankbare drel. Gmf.

*******************************************************************

Na afloop van die Jake-episode het ek my trots in my sak gesteek en skaapagtig ‘n tuc-tuc nader gewink. Ek het my (verbliksemse) fiets daaraan vasgemaak, en só het ek die res van die dag al toek-toekende die wonders van die tempels van Ankor verken. Hoogmoed hét toe tot ‘n val gekom.

Die ander dae wat ons daar spandeer het sou beslis die goedkeuring van Tripadvisor weggedra het. Ons was douvoordag uit die vere uit, en na ‘n ontspannende rit in die maag van ‘n tuc-tuc het ons saam met ‘n horde toeriste, waarvan die meeste geklee was in koddige Sindbad-broeke wat met olifantpatroontjies versier is, die sonsopkoms oor die magiese Angkor Wat aanskou. Teen 11:00 was ons weer terug by ons hotel om die lafenis van ‘n swembad en ‘n lugverkoelde kamer op te soek, voordat ons teen laatmiddag nogmaals ‘n tuc-tuc nader gewink het om die sonsondergang oor hierdie manjifieke deel van die wêreld te gaan gade slaan. Die tempels van Angkor laat jou behoorlik van oorweldiging steier. Dit beskik oor die epiese proporsies van die Groot Muur van China, die finesse en detail van die Taj Mahal, en die simboliek en simmetrie van die Egiptiese piramides – als in een.

En, soos altyd, was ek stom van verbasing oor die dinge wat ek uit my besoek wysgeraak het waarop ek nie vooraf bedag was nie. Ná die bloutjie wat ek met die hitte geloop het, was ek verbaas om te leer dat die Kambodjaanse vroue se teenvoeter vir dié ondraaglike hitte is om hulself van kop tot tone in wollerige klerasie te tooi, wolsokkies en plakkies en al. Ek was ook verbaas om te sien hoeveel ‘n mens met $1 in hierdie deel van die wêreld kan uitrig, maar niks kon my verbasing troef om te sien hoe die mense van Cambodia, ten spyte van die verpletterende armoede waaronder hulle gebuk gaan, steeds van die mees opgeruimde, vriendelike, en mededeelsame mense is wat ek nog ooit op enige plek ter wêreld teëgekom het nie. Maar, soos wat Gina die eendjie altyd aan die einde van ‘n Pinocchio-episode gesê het: “Daarvan sal ek julle volgende keer vertel.”

Mei 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.