Kambodja: oor ‘n veragtelike volksmoord

13

Op 17 April 1975 het die Khmer Rouge, onder leiding van Pol Pot, die Kambodjaanse hoofstad ingeneem. Die inwoners van Phnom Penh was oorstelp dat die bloedvergieting van die burgeroorlog wat die voorafgaande vyf jaar gewoed het, uiteindelik verby was, en het die strate in gestroom om die triomfantelike guerrilla-vegters van dié fanaties Kommunistiese beweging te verwelkom. Met die verloop van die volgende vier jaar sou die Khmer Rouge egter een van die mees weersinwekkende misdade van die twintigste eeu pleeg – ‘n misdaad waardeur nagenoeg twee miljoen Kambodjane hulle lewens sou verloor, en die wêreld met die afgryslikhede van ‘The Killing Fields’ gekonfronteer sou word.

Die Khmer Rouge het die omvorming van Kambodja tot ‘n klaslose, landelike utopie, waar die ganse burgery in diens van die staat sou wees, in die vooruitsig gestel. In Pol Pot se eie woorde wou hy dié Suidoos-Asiese land ‘terugneem na Jaar Nul’, waar hulle vry van ‘korrupterende’ Westerse invloed kon wees en onder ‘n nuwe naam, ‘Demokratiese Kampuchea’, daarna kon streef om die roemryke status van die eertydse Angkorse Ryk te herwin.

Die Khmer Rouge het nie op hulle laat wag om dié plan in werking te stel nie, en reeds teen daardie eerste middag het hulle begin om Phnom Penh se sowat twee miljoen inwoners met geweld uit die stad na die omliggende landelike gebiede te dwing. Duisende mense het in die harwar van dié chaotiese eksodus omgekom, en terwyl die lyke langs die hoofstad se uitgangsroetes begin opdam het, is die familielede van die oorledenes gedwing om die liggame van hulle geliefdes agter te laat, en eenvoudig voort te beur met die karige besittings wat hulle van hulle vorige lewens kon red.

In die ander Kambodjaanse stede het dieselfde toneel hom afgespeel, maar die georkestreerde ontvolking van die stedelike gebiede was maar net die begin van die Khmer Rouge se aftakeling van bykans al die tradisionele elemente van die Kambodjaanse samelewing. Tradisionele instellings en gebruike is beskou as ‘n hindernis tot die daarstelling van ‘n klaslose, utopiese samelewing, en moes daarom voor die voet vernietig word. Boeddhistiese monnike, wat vir eeue lank deel van die DNA van dié deel van die wêreld was, is gebrandmerk as parasiete, en gevolglik is hulle genadeloos vervolg.

Enige vorm van individualiteit is streng verbied, en die hoogste prys kon betaal word deur bloot te lag, of te huil, of deur sorgsaamheid teenoor iemand anders te betoon. Die intelligentsia is verál geteiken, en iemand kon die doodstraf opgelê word bloot omrede hy ‘n bril gedra het, aangesien dit kwansuis ‘n aanduiding van die brildraer se hoë intelligensie sou wees.

Teen die tyd wat Phnom Penh voor die Khmer Rouge geval het, was die Kambodjaanse ekonomie reeds in die pekel weens die vernietigende uitwerking wat die jarelange burgeroorlog daarop gehad het. Pol Pot het egter dié verlamming versterk deur alle banke te sluit, die nasionale geldeenheid af te skaf, en alle eiendom wat in privaat besit was, te konfiskeer. Boonop is alle skole en hospitale se werksaamhede gestaak, en is die ganse bevolking gedwing om gekollektiviseerde plase te bearbei – sonder enige betaling of toegang tot noodsaaklike lewensmiddele.

Die doelwit was die verbouing van drie ton rys per hektaar per jaar, wat ‘n véél groter oes sou wees as wat die Kambodjaanse boere op enige voorafgaande tydstip kon vermag. Onder die wakende oog van die Khmer Rouge is die bevolking soos slawe gedwing om die ryslande van sonsopkoms tot sonsondergang te bewerk, maar die gebrek aan lewensmiddele, en die gepaardgaande uitbreek van ‘n landswye hongersnood, het spoedig tot ellendige omstandighede vir die Kambodjaanse bevolking gelei. Om dié katarsis te vererger, het die teregstelling van nagenoeg al die dokters in Kambodja meegebring dat honderdduisende mense wat dalk andersins gered kon word, tydens dié hongersnood omgekom het.

**************************************************

Soos wat só dikwels gebeur wanneer ‘n moorddadige regime aan bewind is, het ‘n allesoorheersende agterdog onder die Khmer Rouge posgevat. Bykans elke lid van die Kambodjaanse samelewing is beskou as ‘n potensiële anti-revolusionêr, agent van die vorige regering, of ‘n spioen van die Weste. Gevolglik is 189 plekke van aanhouding geskep, waar verdagtes gemartel is totdat hulle skuld beken het op misdade wat hulle gewoonlik nie gepleeg het nie. Die bekendste van dié gevangenisse was S-21, ‘n voormalige hoërskool in Phnom Penh, waar in totaal tussen 14,000 en 17,000 verdagtes aangehou is. Slegs ‘n verbysterende twaalf gevangenes het die gruwels wat daar gepleeg is oorleef.

Die S-21-gevangenis, wat ná die val van die Khmer Rouge tot die Tuol Sleng-gevangenis herdoop is, het hoofsaaklik ‘elite’-gevangenes gehuisves – lede van die Khmer Rouge wat in onguns by hulle eertydse kamerade verval het. ‘n Swart-en-wit kop-en-skouers-foto is van elke verdagte by sy/haar aankoms geneem, terwyl alle martelings nougeset deur die bewaarders aangeteken is. Gedwonge skulderkennings is deur middel van elektriese skokke, aanrandings en skyn-verdrinkings bekom, voordat die gevangenes onder die dekmantel van die nag na Cheoung Ek, ‘n nedersetting aan die buitewyke van die stad, geneem is om daar wreedaardig tereggestel te word.

Cheoung Ek is weliswaar net een van 388 plekke waar die Khmer Rouge hulle gruweldade uitgevoer het, en hoewel ‘The Killing Fields’ kollektiewelik na ál hierdie plekke verwys, is dit by Cheoung Ek waar verreweg die meeste ‘vyande van die staat’ vermoor is. Ná die val van die Khmer Rouge is ‘n opelug-monument ter nagedagtenis aan die gestorwenes by Cheoung Ek opgerig, en ná ‘n ontstellende, dog fassinerende besoek aan die Tuol Sleng-gevangenis, kon ek die geleentheid nie laat verbygaan om ook dáár besoek te gaan aflê nie.

Indien ek enigsins getwyfel het oor wat op my sou wag het die bord by die ingangshek, wat besoekers maan om respek te betoon vir die gruwels wat daar afgespeel het, my nogmaals herinner dat dié nié Disneyland sou wees nie. Binne die terrein het ‘n somber atmosfeer geheers. Soos al die ander besoekers het ek met ‘n strak gesig my weg deur die makabere plekke van belang gemaak – ‘n boom waarteen die Khmer Rouge babas se koppe verbrysel het, massagrafte waarin die oorblyfsels van meer as vierhonderd mense per graf gevind is, slagoffers se beendere en tande wat gedurende die 1980’s opgegrawe is en vandag langs die massagrafte vertoon word, ‘n 20-meter-hoë stoepa waarin die verminkte skedels van honderde slagoffers agter glasafskortings uitgestal word…

Wanneer ‘n mens op ‘n sonskyndag, met voëltjies wat in die bome tjirp, die realiteit van dié uitstallings probeer verwerk, is dit moeilik om jou die verskrikking wat die slagoffers van die Khmer Rouge moes beleef het, in te dink. Wat moes deur hulle gedagtes geflits het in die oomblikke voordat hulle skedels met stomp voorwerpe versplinter is, of hulle liggame met skerpgemaakte bamboesriete deurboor is? Het hulle, daar waar hulle nakend, in die stikdonker, gewag het op wat ook al volgende gaan gebeur, krampagtig probeer vasklou aan die hoop dat hulle tóg die volgende dag se sonsopkoms sou sien? Was hulle gedagtes by hulle familielede, wat óók vermoor sou word vanweë hulle verbintenis met die ter dood veroordeeldes? Of het hulle hul eenvoudig aan hulle lot onderwerp, veilig in die wete dat die martelings waaraan hulle so wreedaardig onderwerp is, binnekort iets van die verlede sou wees?

‘n Mens kan natuurlik net bespiegel oor wat op daardie stadium deur daardie arme mense se gedagtes gegaan het. Maar wat ek wél weet, is wat deur mýne gegaan het. Deur mý gedagtes het ‘n intense dankbaarheid geflits. ‘n Dankbaarheid dat ek my lewetjie ongestoord kan lei. Dat ek drome oor die toekoms kan droom. Dat ek kan lag, en kan huil, en ‘n bril kan dra, sonder om vervolging te vrees.

Tesame met die dankbaarheid het daar egter ook ‘n ergerlikheid in my opgewel. Want waarom is dié boosheid toegelaat om te gedy? Waarom het niemand tot die redding van die Kambodjaanse mense gekom nie? Waar was Amerika? Waar was die Verenigde Nasies? En Pol Pot? Wat het van hóm geword? Sy vergrype kon tog sekerlik nie ongestraf gelaat word nie. Of kon dit?

Dit was uiteindelik nie die Khmer Rouge se gewelddadige onderdrukking van hulle mede-Kambodjane wat die regime tot ‘n val gebring het nie; dit was Pol Pot se grootheidswaan wat die skrif teen die Khmer Rouge-muur aangebring het. In ‘n poging om die grondgebied wat die Angkorse Ryk in die 1300’s aan sy buurlande afgestaan het te herower, het die Khmer Rouge in 1977 begin om gewapende invalle in Viëtnam, Laos en Thailand te loods. Die Viëtnamese weermag, getemper ná ‘n uitgerekte oorlog teen die VSA, het egter hárd teruggeslaan. Duisende swaar gewapende troepe is gemobiliseer, Kambodja is binnegeval, en op die 7de Januarie 1979 het die Viëtnamese weermag ‘n grootliks verlate Phnom Penh ingeneem. Dit was die einde van die Khmer Rouge-era. Wel, soort van.

Pol Pot en sy kamerade het teruggeval en hulle in die beboste gebiede langs die Thaise grens gevestig, vanwaar hulle herhaaldelike guerrilla-aanvalle teen die Viëtnamees-beheerde Kambodjaanse regering geloods het. En op dié wyse het die Kambodjaanse bevolking hulself opnuut midde-in ‘n gewapende konflik bevind.

***********************************************

Nadat hulle vir jare lank onsuksesvol gepoog het om die Viëtkong tot oorgawe te dwing, is die Amerikaanse weermag in 1973 finaal uit Viëtnam geboender. Die stram verhouding tussen dié twee lande is egter op die ekonomiese front voorgesit, en in ‘n wraaksugtige poging om die oorwinnaars ekonomies te isoleer, het die VSA ‘n algehele handelsverbod, sowel as ‘n rits ander sanksies teen Viëtnam ingestel.

Toe die Khmer Rouge dus in 1975 die bewind in Kambodja oorneem, het die VSA die lesse van die verlede ter harte geneem, en het hulle botweg geweier om weer by ‘n Suidoos-Asiese konflik betrokke te raak. Dít kan die Amerikaners nog vergewe word. Maar in ‘n skokkende wending het hulle hul stem uitgebring téén ‘n Sowjetblok-voorstel om die Kambodjaanse setel by die Verenigde Nasies aan die nuwe, Viëtnamees-beheerde regering toe te ken. Volgens die VSA sou die ontseteling van die Khmer Rouge as Kambodja se VN-verteenwoordiger, ‘n verontskuldiging wees vir Viëtnam se skending van hul buurland se soewereiniteit. Die Amerikaners se kleinlike wraaksug het dus uiteindelik swaarder geweeg as die welstand van die Kambodjaanse bevolking.

Gedurende die volgende twee dekades het Kambodja van die een krisis tot die volgende bly steier. Die uitgeweke Khmer Rouge het die politieke erkenning van die VSA behou, terwyl die Viëtnamees-beheerde Kambodjaanse regering onder die juk van swaar internasionale sanksies gely het. Nadat Viëtnam hul in 1989 aan Kambodja onttrek het, het die Khmer Rouge hul guerrilla-aanvalle op die wettig verkose Kambodjaanse regering voortgesit, en ‘n langdurige vrede is eers in 1998 bewerkstellig, nadat Pol Pot in die ouderdom van 72 jaar oorlede is.

In 2006 is die Extraodinary Chambers in the Court of Cambodia (ECCC) in die lewe geroep. Die doel met dié strafhof was om voormalige leiers van die Khmer Rouge op aanklagte van misdade teen die mensdom te verhoor, en die skuldigbevinding in 2016 van twee van Pol Pot se adjudante het sedertdien ‘n mate van berusting vir die mense van Kambodja gebring. Pol Pot, die meesterbrein agter die Kambodjaanse volksmoord, het egter nooit geboet vir die reuse-aandeel wat hy in een van die afgryslikste gebeurtenisse van die 20ste eeu gehad het nie.

Mei 2016

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.