‘n Amerikaanse avontuur. Deel 8: die Grand Canyon

1

Dis nou maar één ding van die Grand Canyon – hy ís grand. Nie fênsie nie. Nie grênd nie, maar mond-oopval, snak-na-jou-asem…G-R-A-N-D.

Verbeel jou jy staan op ‘n gelyke stuk aarde. Probeer nou om ‘n punt te sien wat sowat twintig tot vyf-en-twintig kilometer van jou af weg is. Goed. Verbeel jou nou dat die grond tussen jou en daardie denkbeeldige punt eenvoudig wegsink in die aarde, in ‘n opeengestapelde netwerk van kranse, valleie en ‘n rivier – dít is wat die Grand Canyon is.

Dis een van net ‘n handjievol natuurlike wonders wat vanuit die ruimte gesien kan word, en dis ook geen wonder nie, as jy in ag neem dat dit 446km lank is, op plekke tot 29km breed is, en op sy diepste vlak tot amper 2000m daal (dis twee keer so diep as wat Tafelberg hoog is).

Wanneer jy op die rand van die Canyon staan, en daarin afkyk, staan jy verstom voor die meer as 2 miljard jaar se geologiese geskiedenis wat daar voor jou ontbloot lê. Die Colorado-rivier het met die verloop van miljuisende jare die rotse weggekalwe, laag vir laag, en vandag kan jy duidelik sien waar elkeen van daardie lae lê. Om te dink dat een só ‘n laag maklik ‘n miljoen jaar se geskiedenis verteenwoordig, is só ‘n grootse gedagte, dat dit voel asof jou kop gaan ontplof.

Ek het ‘n sonsopkoms en twéé sonsondergange oor die Canyon aanskou, en ek het dus meer as genoeg tyd gehad om hom móói te bekyk. Wanneer die son opkom, of ondergaan, gooi die valleie in die Canyon sulke láng skaduwees teen die kranswande. As jy by een van die dosyne uitkykpunte staan, en ‘n 360 grade panoramiese uitsig oor die Canyon het, kan jy letterlik sien hoe dié skaduwees saam met die son se trajek beweeg. Dit het omtrent gevoel asof ek gehipnotiseer is deur dié gesig – ek kon eenvoudig nie wegkyk nie!

Wanneer jy langs een van die mees ontsagwekkende natuurlike verskynsels op ons planeet staan, kan jy maar nie help om opnuut te wonder oor jou eie plek in die heelal nie. En dink, dié het ek gedink. Uur, na uur, na uur. En die antwoord op hierdie tameletjie het een laatmiddag, as ‘n metafoor van soorte, na my toe gekom…

Ek het by een van die panoramiese uitkykpunte vertoef. Die son het al láág getrek – só laag dat die skaduwee van die wand waarop ek gestaan het, teen die oorkantste wand afgeëts was. Sowat vyftig meter links van my was daar ‘n rotsskeur, en dié kon ek duidelik in die skaduwee aan die oorkantste wand sien. Ek kon ook die reusagtige boom, wat net ‘n klein entjie van my af weg was, in daardie skaduwee uitmaak. Maar my eie skaduwee…my eie, piepklein, nietige skaduwee…het nie eers ‘n spikkel teen die oorkantste wand gemaak nie…

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.