‘n Amerikaanse avontuur. Deel 4: Yellowstone

1b

Toe ek nog ‘n kinders was, was ons pál in die Krugerwildtuin. Ons Wildtuin-besoeke was só endemies, dat dit eintlik ‘n verrassing was wanneer ons woonwa uitgetrek is met die see of ‘n Aventura-oord as sy bestemming. Die Wildtuin was soos die hemel vir my, en van my beste herinneringe uit die 1980’s behels ‘n voortgekruiery teen 40km/h, in doodse stilte (die enigste toelaatbare kasset in die karradio was ‘Bosveldgeluide’, en dáái outjie is eers te voorskyn gebring wanneer ons reeds vir vier ure lank nét rooibokke gesien het), met my op die agtersitplek, waar ek verwoed deur ‘Soogdiere Van Die Krugerwildtuin’ blaai en probeer onderskei tussen ‘n blouduiker en ‘n klipspringer se spore en se…wel…drolle.

Vandag was ek gelukkig genoeg om ‘n volle dag te spandeer in die heel eerste Nasionale Park ter wêreld – Yellowstone National Park. Die park is dié tyd van die jaar onbegaanbaar vir kommersiële voertuie. Dít weens die feit dat die ganse wêreld oortrek is met sneeu. Die enigste manier om wél ‘n besigtigingstoer te onderneem, is om ‘n Snow Coach Tour mee te maak, en om die wêreld vanuit só ‘n sneeutrekkertjie te kon gade slaan was ‘n báie spesiale belewenis. Die knus kajuit het plek vir 10 mense, en ek het die dag spandeer saam met nege vreeslik vriendelike Amerikaners. Nege vreeslik vriendelike Amerikaners wat ‘n amperse oordadige belangstelling in Suid-Afrika het, maar wat geen begrip het van regstellende aksie, die dalende rand, kampusgeweld en Jacob Zuma nie. Hoe verfrissend!

****************************************

Wat ‘n ábsolute Godswonder is dié plek nie! Die park, wat in 1872 geproklammeer is, en bykans 9000 vierkante kilometer beslaan, huisves mere, canyons, riviere, en bergreekse. Verder sit Yellowstone bo-op die Yellowstone Caldera – die grootste supervulkaan op die Noord-Amerikaanse kontinent. Dié vulkaan is aktief, en het verskeie kere oor die laaste 2 miljoen jaar tot uitbarsting gekom. Boonop word daar voorspel dat hy weer só sal maak binne die volgende 200,000 jaar…so, as jy eiendom in dié gebied besit, behoort dié tydsraamwerk jou darem genoegsame tyd te gee om jou versekeringspapiere agter mekaar te kry.

Dis belangrik om melding te maak van die vulkaan, want dis dié verskynsel wat direk aanleiding gee tot wat waarskynlik die park se bekendste eienskap is – sy geotermiese kenmerke. Uhm…sy wát?

Goed, so reënwater en gesmelte sneeu syfer deur die grond tot op ‘n punt waar dit só verwarm word deur die lava van die vulkaan, dat dit op die oppervlak uitbars as ‘n geyser (mens sê ‘ghaizer’ en nie ‘ghiezer’ nie, soos wat ek tot my stille verleentheid geleer het). Daar is ongeveer 500 geysers in die park, waarvan ‘Old Faithful’ die grootste en bekendste een is, en omtrent elke 90 minute ‘n dik straal stoom en kookwater na die oppervlak spoeg.

Wat dan nou verder gebeur, is dat dié warmwaterbron ‘n poel op die oppervlak vorm (amper soos ‘n vuurwarm opelug-rummatiekbad), en weens die spesifieke chemikalieë wat in dié water voorkom, is dié poele veelkleurig van aard, en lyk dit asof ‘n reuse-oog op die aarde se oppervlak geskep is. Die sneeu, tesame met die dennenaaldbome en die veelkleurige poele, het die wêreld soos ‘n post-apokaliptiese landskap laat lyk, en ek moes myself ‘n paar keer knyp net om seker te maak dat dít waarna ek gekyk het, wel eg was.

Die park bied ook ‘n tuiste aan honderde plant- en dierspesies. Ek het talle vosse, coyotes (‘n tipe wolfhond) en elks (takbokke) gesien, maar my gunsteling was sonder twyfel die bisons (of dalk is die meervoud ‘bisonne’, alhoewel dit dalk verwarrend kan wees: Cadbury’s is lekker, maar Lindt is BISONNE lekker). Dié bonkige buffels, met hulle aardige liggaamsbou, het my eindeloos gefassineer, en ek kon maar net nie loskom van die gedagte dat indien hulle mense was, hulle definitief in die voorry sou sak nie. Ongelukkig het ek nie ‘n beer gesien nie, en gewoonlik krioel dit van die bere hier. Hiérdie tyd van die jaar hiberneer die bere egter…wat my laat dink het aan watse cool naam dít vir ‘n band sal wees: ‘Die Hibernerende Bere’.

****************************************

Wanneer ons destyds so in die Krugerwildtuin voortgekruie het, was die beste aanduiding van die teenwoordigheid van iets wat die moeite werd was om na te kyk, die kar van ‘n mede-wildsoeker wat botstil in die middel van die pad gestaan het. Soos wat ons dié kar dan genader het, was die eerste mikpunt om vas te stel of die insittendes na iets aan die linkerkant, of aan die regterkant van die pad kyk. Vervolgens moes daar bepaal word of ‘die iets’ deur ‘n verkyker, of met die blote oog betrag is, waarna die Groot Tuurdery ‘n aanvang geneem het…

Soms sou ‘die iets’ homself sommer vinnig ontbloot het. Só het ons leeus, luiperds, en eenkeer selfs ‘n ietermagog gesien, waarby ons sekerlik verby sou ry as dit nie vir die hulp van ons mede-wildsoekers was nie. Maar ander kere kon ons ‘die iets’ nét nie binne sig kry nie. Dán het daar altyd ‘n effense ongemaklikheid gevolg wanneer ons stadig langs die vreemdelinge in die stilstaande kar ingetrek het, en moes hoop dat hulle ‘die iets’ se posisie ook aan ons sou openbaar. Vir my, as ‘n kannetjie wat uitsluitlik belang gestel het in renosters, roofdiere en rooiribbokramme, was dit altyd ‘n hélse teleurstelling wanneer min of meer die volgende gesprek gevolg het:

My pa: Môre-môre! Wat sien julle mense?

Hulle pa: Môre! Man, hy staan so vyftig meter die veld in, net links van daai groot wag-‘n-bietjie-boom. Sien jy hom?

My pa: Uhm…ek is nie seker nie. Wat is dit?

Hulle pa: Nee man, kyk mooi, jy kan hom nie mis nie. Dis ‘n…dis ‘n…saalbekooievaar.

En my intense verdriet met ‘n voëlkykery kon nét getroef word wanneer die fiksasie van die mense in die ander kar nie diere of voëls was nie, maar ‘n nuwe laagtepunt bereik het met ‘n…boomkykery. Bóme?! Wie, by hulle volle verstand, gaan Wildtuin toe om na bóme te kyk? Ek kon dit nooit kleinkry nie.

Nou ja, vandag kom ons op ‘n stadium om ‘n draai gery en daar, in die middel van die sneeubedekte pad, staan niks minder nie as sewe Snow Coaches botstil en luier. Ek was oortuig dat die enigste ding wat só ‘n fanfare kon regverdig, ‘n bison moes wees wat op sy agterpote gestaan het en besig was om die Amerikaanse volkslied uit sy agterent te fluit.

Met ons aankoms by dié aweregse verkeersopeenhoping merk ek toe ‘n dosyn of wat mense – gewapen met kameralense waarmee mens sweerlik die kraters op die maan in hoë definisie sal kan vasvang – op wat kniediep in die sneeu staan en tuur na iets sowat ‘n honderd meter weg, aan die oorkant van ‘n rivier. Ek het my met ‘n bruisende opgewondenheid by hulle aangesluit, hoopvol dat dit werklik iets merkwaardigs sou wees…maar die hoop het beskaam. Die objek van hulle fokus was maar net ‘n coyote. ‘n Enkele een. Wat nie op sy voorpote gedans het nie. En ook nie die Amerikaanse volkslied uit sy agterent gefluit het nie.

Maar ek hét darem ‘n skitterende foto kon neem – van die agterkante van twaalf mense wat dit hóógs amuserend gevind het om ‘n kleinerige ou wolfhondjie met hulle merske kameralense te treiter.

****************************************

As jy my in die 1980’s gesê het dat daar iewers in die wêreld ‘n Nasionale Park is wat in alle opsigte die gelyke is van die Krugerwildtuin, sou ek jou nie geglo het nie. Maar vandag het ek dit met my eie oë gesien. Daar was weliswaar nie kameelperde, kremetartbome of kraalogie-voëltjies nie, maar wat ek wél vandag gesien het, sal my tot in der ewigheid toe bybly.

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.