‘n Amerikaanse avontuur. Deel 2: Mount Rushmore

1

O magtig! Ek is nou so vol Amerikaner-patriotisme geprop, ek sluit sommer by die Marines aan. USA! USA! USA!

As jy by Mount Rushmore wegstap en nié voel of jy die volgende ou met ‘n vuispomp en ‘n ‘YEAH BUDDY!’ wil groet nie, moet jy sweerlik bande met ISIS hê.

Die 18m-hoë uitkerwings van die vier voormalige presidente is báie indrukwekkend. Dié viertal is deur die Noorweegs-Amerikaanse beeldhouer, Gutzon Borglum, gekies om die stigting, groei, bewaring en ontwikkeling van die VSA te gedenk. George Washington verteenwoordig die stryd vir onafhanklikheid en die geboorte van die Republiek, Thomas Jefferson die gebiedsuitbreiding van die land, Abe Lincoln die permanente unifisering van die verskillende deelstate, en Theodore Roosevelt die VSA se rol in wêreldsake in die 20ste eeu.

En dan is dit nog baie mooi om na te kyk ook.

****************************************

Jis, gister het ek letterlik gevlug voor die sneeu. Van Denver af is ek na die Rocky Mountain National Park, waar ek gehoop het om ‘n korterige staptog in die berge te onderneem. Met my aankoms is ek egter deur ‘n sneeustorm verwelkom, en dié plannetjie is summier van die tafel gevee. Die sneeu wat vinnig in diepte toegeneem het, die uiters beperkte sigbaarheid, en ‘n weerbulletin wat die woorde ‘winter storm alert’ en ‘possible road closures’ bevat het, het gedreig om my noukeurig uitgewerkte reisplan te laat ontspoor. Die lááste ding wat ek wou hê, was om vir ‘n paar dae in die Rockies gestrand te wees terwyl ek niks rondom my kan sien nie, en nie eers sonder moeite by die voordeur kan uitgaan nie.

So toe besluit ek maar om te ry – voor die sneeu uit. Ek was nie heeltemal seker waarheen nie, en trek toe sommer net weg in die algemene rigting van my volgende bestemming. Dit moes seker gelyk het asof ek aan’t voorberei was vir my K-53 praktiese eksamen soos wat ek my huurkar gly-gly, en staaaaadig, in die rigting van die rooi ligte in die storm voor my probeer maneuvreer het. Dít teen 20-30km/h.

Dit was soos om wild te soek in die Wildtuin – frustrerend stadig, maar as jy net eers vrede daarmee kan maak dat jy vir ‘n beduidende ruk gaan slaksleep, en begin om rondom jou na al die mooi goed te kyk, dan’s jy sielkundig op die regte plek. It’s not the destination, but the journey that counts. Jy weet?

Sewe láng ure later, met net ‘n vergatlike 300km om daarvoor te wys, en ek was in Torrington – op die grens tussen Wyoming en Nebraska. Dié draai was glad nie deel van my beplanning nie, so ek was nogal opgewonde oor die vooruitsig om die dorp sommer so kamikaze-styl binne te val.

My opgewondenheid was egter oorbodig. Die sneeu het op plekke kniediep gelê, en Torrington was ‘n spookdorp soos wat die 6,500 inwoners teen die elemente geskuil het. Van dié dorp het ek dus nie veel wys geraak nie, maar wat ek wél weet, is dat die kamers in die Hillside Inn met verrr-rúklike muurpapier versier is. In 1978.

Vanoggend, ná ‘n voorslag Amerikaanse ontbyt (‘n bagel en koffie) het ek die oorblywende vier ure van my tog deur Wyoming en South Dakota, tot by Mount Rushmore, aangepak. Dit was kóúd, daar was feitlik geen ander karre op die pad nie, en ek het verby dosyne Little Houses on the Prairie gery. Verder was daar was nét Country-musiek op ál die radiostasies waarvan ek ‘n sein kon vang…en dit was goed en lekker. Flippen, FLIPPEN lekker.

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.