‘n Amerikaanse avontuur. Deel 10: die Pacific Coast Highway

2

Ek het geweet dinge was besig om net té goed te gaan. In agttien dae, en oor ‘n afstand van bykans 5,000 km, het ek immers nog niks gebreek, verlê, verloor of verpas nie, en daarom was dit net ‘n kwessie van tyd voordat die ying-yang-ewewig met méning herstel sou word…

Los Angeles en San Francisco lê nie te ver weg van mekaar nie. As jy Google Maps op ‘n slimfoon bekyk, is daar skaars twee duimnaels tussen dié twee stede. En toe dié stukkie sagteware nog boonop vir my sê dat dit skaars ses of wat ure sou neem om dié skrale afstand te oorbrug, was ek oortuig dat my plan sou werk. Dié plan het behels dat ek vroegoggend in Los Angeles wegspring, laat spaander tot in San Francisco, teen laatmiddag vinnig oor die Golden Gate-brug jaag, stop om ‘n vinnige blik oor die water na Alcatraz te gooi, en my dan in die rigting van die befaamde Pacific Coast Highway wend, sodat ek die daaropvolgende twee dae rustig met dié asemrowende roete terug tot in Los Angeles kan kruip.

‘n Plan op papier (of dan ‘n kaart) en ‘n plan in die werklikheid is egter wêrelde van mekaar verwyder. Dit het my langer as twee ure geneem nét om vir Los Angeles koebaai te kon waai. Vergeet maar van die slakkepas wat op ‘n weeksoggend op die Ben Schoeman-snelweg tussen Pretoria en Johannesburg geld – om jou weg deur die moeder van alle verkeersopeenhopings in die LA-middestad te vind, verg geduld wat vir Job soos ‘n heethoof laat lyk.

Die wiele van my plan was besig om af te kom, en omtrent twee ure later, tussen niks en nêrens, het die wiele van iets anders ook afgekom – my huurkar. Ek kon dadelik, aan die steeksheid waarmee my getroue ou leen-vuurwa na een kant toe getrek het, agterkom dat daar fout was. En só was dit toe ook. Maar gelukkig was dit net ‘n pap wiel, en synde ek heeltemal gemaklik is met ‘n domkrag en ‘n moersleutel in die hand, het ek korte mette met daai pap wiel gemaak. Dit was nie gróót drama wat hom daar langs die snelweg afgespeel het nie, maar dit was tydrowende drama – tydrowende drama waarvoor ek nie eintlik, wel, tyd gehad het nie.

En van daar af het ‘n klomp bietjies ‘n baie geword. Ek het bietjie te lank in die vulstasie se winkeltjie deur die koerant gestaan en blaai. Ek het bietjie te lank in Subway gesit en middagete eet. Ek het bietjie te lank met die kassiere in ‘n aandenkingswinkel oor my yskasmagneet-versameling gesels. Ek het ‘n bietjie te stadig gery. En uiteindelik was ek baie, báie laat.

Toe die laaste skemerlig sy verdwyning maak, was ek nog vyftig kilometer van San Francisco af weg. My plan was finaal in sy peetjie in. Die Golden Gate-brug en Alcatraz was my nie dié keer beskore nie, en hoewel dit ‘n teleurstelling was, kon dit régtig net as ‘n Eerstewêreldse probleem beskryf word. My teleurstelling het daarom net vir ‘n wyle getalm, voordat dit spoedig begin verdamp het. Maar tóé…tóé…tóé bars die hemele met geweld oop, en sak daar ‘n bui reën uit soos wat laas met die Sondvloed gesien is.

Nou kyk, ek besef volkome dat reënwater ‘n waardevolle kommoditeit is. En ek besef dat die boere in Suid-Afrika my sal vloek indien ek selfs die mees geringe reënbui as ‘onwelkom’ durf beskryf. Maar op daardie oomblik, op daardie plek, was daardie reënbui ewe onwelkom as ‘n poep in ‘n hysbak.

Jy sien, oor die voorafgaande amper drie weke het ek, in skrille kontras met wat my pa my geleer het, doelbewus probéér om daardie huurkar vuil te smeer. Geen roadtrip-reisiger wat sy sout werd is, kan immers met ‘n…*snak-na-asem*…skóón kar rondry nie! En met die verloop van tyd en van kilometers, het my huurkar begin gestalte kry as die vervoermiddel van ‘n gesoute roadtripper. Denver, Mount Rushmore, Montana, Yellowstone, Bryce Canyon, Monument Valley, Grand Canyon, Las Vegas, Los Angeles – elkeen van dié plekke het ‘n bydrae gelewer om kar-akter aan my kar te gee.

En met elke dag wat verloop het, het my vuil kar ‘n groter en gróter trots in my laat opwel. Van vuilgeit kon jy naderhand nie eers meer die nommerplate sien nie, en die voorruit het gelyk soos iemand wat die vorige dag, sonder enige sonroom, met ‘n sonbril aan in die son gelê het – die hele ruit was tóé onder ‘n dun lagie harde, droë modder, behalwe dáár waar die ruitveërs hul spoor gelaat het. Daardie vuil kar het ‘n versinnebeelding geword van dít wat ek die voorafgaande drie weke beleef het. Dit was my ‘badge of honour’ – my Honoris Crux.

En nét so, eensklaps, het daardie verbrandse reënbui die ‘roadtrip’ uit my roadtrip-kar gehaal, en al wat daarvan oorgebly het, was ‘n kar. Soos ‘n leeu sonder maanhare. ‘n Voël sonder vlerke. ‘n Model sonder klere. Simson sonder sy lokke. Mickey sonder Minnie. Youtube sonder videos. Zuma sonder die Guptas.

Ek het my druipstert in die rigting van Santa Cruz gewend – dáár waar ek moes oornag. Ek het sommer dadelik in die bed gaan klim, só blou was ek na al die dag se teleurstellings. My iesegrimmigheid het my egter nie verhoed om so te sê onmiddellik die bootjie na Droomland te vang nie. En dáár, in my gunsteling-deel van my onderbewussyn, het ek láng draaie gegooi met ‘n vrekvuil kar waarvan jy die nommerplate nie eers kon sien nie…

****************************************

Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die volgende dag.

En wat ‘n ongelóóflike ondervinding was dit nie om stádig, al met die Pacific Coast Highway langs, my weg terug te vind tot in Los Angeles. As jy al ooit oor Chapman’s Peak net buite Houtbaai gery het, sal jy ‘n goeie idee hê van hoe dit daar lyk…behalwe dat die PCH oor nagenoeg ‘n duisend kilometer strek, so al langs die Stille Oseaan af.

Kranse, klowe, golwe, strande – die PCH het dít als. Van Monterey in die noorde, tot by Malibu in die suide. Ek het werklik geïnspireer gevoel deur wat ek beleef het. Sóveel so, dat ek dit eenvoudig nie kon help om iets corny oor California op ‘n strand neer te skryf nie.

facebook-page

Comments are closed.

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.