‘n Amerikaanse avontuur. Deel 1: Denver

1b

So dit was dan nou Denver gewees. Met sy bevolking van skaars 650,000 (een twintigste van my tuisdorp Guangzhou s’n) kan mens nie help om te wonder wat Denver se claim to fame nou eintlik is nie. En die eenvoudige antwoord is ‘niks regtig nie’. Geen wêreldbekende bands nie, geen Hollywood-akteurs nie en geen belangrike politici of ander kriminele nie. MAAR…hulle voetbalspan, die Denver Broncos, speel wél volgende naweek in die Superbowl, en dít het die mense hier rukkend van opgewondenheid!

Dis ‘n mooierige stad, met ‘n goed ontwikkelde downtown-area. Die strate is breed, die karre wat daarin ry is breed, en die mense wat daarin ry se glimlagte is breed. Mense kyk basketball of gridiron in kroeë, en vreemdelinge groet jou wanneer hulle op ‘n sypaadjie by jou verby stap. Doodgoed. En goed dood. Net soos Bloemfontein. *koes*!

****************************************

Ek het Saterdagaand vir die eerste keer in jare na ‘n comedy show gaan kyk. In Londen het ek dikwels só gemaak, maar tot op hede het ek die comedy clubs in Guangzhou vermy. Dis nie dat ek in wese iets teen Chinese comedy clubs het nie, dis net dat ek oortuig is dat al hulle grappies vir my dieselfde sal klink.

***************************************

Ek onthou hom nog soos gister. Dit was die laaste week van 1998, en ek het saam met ‘n toergroep deur die Skotse Hooglande gereis. Ons het in hostels in 8-bed dormitories gebly, gefuif en gerinkink tot die vroeë oggendure toe, en elke oggend met kloppende hoofpyne die bus bestyg, op pad na die volgende bestemming toe om daar weer só te gaan maak. Daar was so 15 van ons – ‘n kosmopolitaanse groepie, almal in ons vroeë 20’s. En Malcolm.

Malcolm, die 57-jarige Engelsman – kettingroker, dobbelaar, veelwywer, grensgeval-alkoholis en skreeusnaakse komediant (net in sy eie kop, en nie eers al die stemme daarbinne was daaroor eens nie). Ek was aanvanklik onder die indruk dat iemand se pa oor sy bloedjie kom toesig hou het, maar toe hy die eerste aand tien pints sink het ek geweet daar’s iets anders aan die kook. Aan die begin was almal bra lugtig vir hom, maar mettertyd het hy homself ontbloot as iemand wat nie ‘n vlieg skade sou aandoen nie, al het die lewe hom al ‘n paar klappe vanuit die blindekol gegee. En uiteindelik, met die verloop van ‘n paar dae, het ou Malcolm so soortvan ons gelukbringer geword. As iemand op ‘n verhoog moes dans, of ‘n bier moes down, of ‘vrywillig’ aanbied om ‘n gids by een of ander kasteel se regterhand te wees, dan moes Malcolm dit doen. Hy is natuurlik ook ingetrek om in élke foto te verskyn, en later, wanneer ek vir mense daardie foto’s gewys het, wou hulle verbaas weet wie die ou ballie is wat soos ‘n seer vinger tussen al die jongmense uitstaan.

Die afgelope twee aande het ek toe ‘n Malcolm op myself getrek. Om my begroting te probeer beskerm teen die aanslae wat sonder twyfel op pad is, het ek besluit om my intrek in ‘n youth hostel te neem. En waarom nie? Dis net ek in my reisgeselskap, ek het net ‘n bed nodig gehad, en in ‘n youth hostel kan jy maar seker wees dat jy ‘n paar ‘interessante’ karakters sal teëkom (vir my mede-hostelbewoners was daardie ‘interessante’ karakter natuurlik ek).

Ek is ‘n bed toegewys in ‘n vierbed-slaapkamer, en my kamermaats was ‘n hoogs eklektiese groepie. Daar was Ricky, ‘n 21-jarige winkelassistent van Melbourne, wat binne oomblikke nadat ek myself aan hom voorgestel het, die seël op ons nuutgevonde vriendskap wou plaas met ‘n gedeelde lyn kokaïen. Ek moes egter sy aanbod vriendelik van die hand wys – om meer as een rede, maar onder andere omdat die verkoue wat tussen Guangzhou en Los Angeles in my kop kom sit het, gemaak het dat die enigste middel wat ek in my neus wou opstuur, ‘n leksel Vicks Vaporub was.

Dan was daar Soen, ‘n mompelende, puisie-oortrekte seun van Suid-Korea af. Van hóm kon ek nie veel wysraak nie, want die kind se twee mees uitstaande gebreke (‘n spraakgebrek en ‘n gebrek aan selfvertroue) het meegebring dat hy ‘n enigma gebly het. Om die waarheid te sê dink ek sy naam was eintlik ‘Seung’, maar dit het so baie soos ‘Soen’ geklink dat dít is wat in my kop vasgesteek het.

En dan was daar Jessica, ‘n 19-jarige Chinese meisie (en my bunkbedvennoot – ek bo, sy onder), afkomstig van my buurstad, Shenzen. Sy was só beïndruk met my (uiters gebrekkige) Mandaryns, dat sy nie kon ophou om my in gelyke mates uit te vra oor die lewe in China, en in te lig oor die lewe in China nie. Selfs nadat ons albei gaan inkruip het, en die ligte lankal reeds afgeskakel was, het sy met sóveel familiariteit bly babbel dat ek oortuig was dat ek kort voor lank die woorde ‘nag John-Boy’ uit haar mond sou hoor.

Uiteindelik het my vriendskap met dié drietal niks verder gevorder as die vier mure van ons slaapkamer nie. Ek het ‘n sterk vermoede dat my middernagtelike snorkery dalk iets daarmee uit te waai gehad het, maar dit was nietemin groot pret om weer ‘n opgewondenheid, soos wat ‘n kind ervaar wanneer hy by ‘n maatjie gaan oorslaap, te kon beleef.

****************************************

Toe ek Saterdag hier opgedaag het, het ek bitterlik olik gevoel. Só stap ek toe oor na die beringde, getatoeërde meisie agter die ontvangstoonbank, met die doel om navraag te doen oor die ligging van die naaste apteek. Ek besef toe dat ek haar seker met die Amerikaanse weergawe van ‘apteek’ sal moet gooi, en min of meer die volgende gesprek spruit toe daaruit voort:

Ek: Hi, could you please tell me where the nearest drug store is?
Sy: Drug store? What do you mean?
Ek: Uhm…what do I mean? What do YOU mean?
Sy: Well, in Colorado ‘drug store’ can have more than one meaning.
Ek: I’m not sure I understand.
Sy: Well, you see, in Colorado it is legal to buy marijuana for recreational purposes, and you can buy these at one of over a hundred dispensaries across the city. These, in Denver slang, are also referred to as ‘drug stores’.

Ek: Uhh…

Sy: There’s an expo for green businesses at the Denver Mart tomorrow. You should go check it out.

Dit het my ‘n rukkie gevat om mooi tot verhaal te kom, maar basies het dit daarop neergekom dat mens Die Krui wettig in Colorado kan bekom, en dat daar die volgende dag een of ander skou vir besighede in dié bedryf sou wees. En ek is aangeraai om dit te gaan uitcheck.

Daar was nie veel anders op my agenda nie, en dit sou ‘n baie unieke geleentheid wees om só-iets te kon bywoon, en ek besluit toe om wél die volgende dag af te sit na die Denver Mart om te gaan kyk wat daar aangaan…

Ek kon my oë nie glo nie. Dáái was nie die plek vir die ou met die dreadlocks wat by die BP-garage ‘n matchbox vol madjat aan jou wil afsmeer nie – dit was ‘n plek vir groot, georganiseerde besigheid. En die teikenmark was ook nie die ou wat ‘n pakkie pret vir Saterdagaand wou optel nie – dit was gemik op die ou wat ‘n lewe uit die groei van cannabis-plante wil maak. Die uitstallers was nie leepoog-takhare wat jou groet met ‘hey dude’ nie – allesbehalwe – dit was professionele, goedgeklede mense, wat gevestigde besighede bedryf, en daarop uit was om hul markaandeel in dié uiters winsgewende bedryf te vergroot.

Daar was natuurlik die stalletjies wat ek verwag het daar sou wees – dié wat dosyne soorte sade verkoop. Maar daar was ook ‘n magdom besighede wat spesiale soorte grond, groeiligte en groeidoepas (alles tegnologies hoogs gevorderd), waarmee die opbrengs van jou oes verhoog kan word, bemark het.

Maar kom ek begin by die begin. Veronderstel jy besluit om ‘n besigheid te stig wat cannabis-plante verbou. Natuurlik sal jy meer wil uitvind oor die verskillende soorte plant-variëteite, wanneer die beste tyd van die jaar sal wees om te plant, in watter soort grond jy moet plant, en watter biologiese hulpmiddels jy kan gebruik om die beste oes te verseker. Hiérdie inligting sou jy maklik kon bekom, want daar was tientalle stalletjies wat beman is deur besighede wat in hiérdie areas spesialiseer.

Maar voordat jy jou plante kan begin verbou, moet jy natuurlik jou besigheid registreer ook, en met heelparty wetlike slaggate in die pad sal jy die hulp van Cannabis Lawyers Inc (stalletjie E-302) kan inroep om te verseker dat jy aan al die wetlike vereistes vir die opstel van jou maatskappy voldoen.

Vervolgens sal jy seker ‘n webblad wil skep waarmee jy jou produkte kan bemark – gaan klop gerus aan vir raad by Green Web Solutions (Stalletjie E-176), en om jou webblad te omskep in ‘n lus vir die oog, gaan maak kontak met een van die grafiese ontwerpers – Cannabis Labels (stalletjie E-177), en een van die professionele fotograwe – Lab Productions (stalletjie E-178). Albei hierdie uitstallers mik hulle dienste vierkantig op die cannabis-mark.

Nou, wanneer jou oes mooi op die land staan, mag dit dalk ‘n teiken raak vir diewe. Moet jou egter nie daaroor kwel nie – besoek The Green Shield (stalletjie E-254) vir raad rondom die installering van CCTV-kameras, of selfs die gebruik van wagte neffens jou saailinge. En sê nou net dié sekuriteistmaatstawwe laat tóg ‘n dief deur die net, wel dan sal Green Insurance Services (stalletjie E-287) daar wees om te help met die dra van jou verliese. Kontak hulle gerus om meer uit te vind oor hulle uitgebreide versekeringsplan vir die groeiers van cannabis-plante.

Indien jy verder, soos die meeste besighede, op soek is na slegs die beste kandidate om in diens te neem, laat Gradujana (stalletjie E-185) jou inlig oor hoe hulle van hulp kan wees met jou menslike hulpbronbestuur. En aan die einde van die finansiële jaar, wanneer dit tyd raak om balansstate op te stel en belastingopgawes te doen…wel, dan is daar net een antwoord: Green Financial Services (stalletjie E-210).

En dis bly ook nie net by rook nie. Daar word érnstig voorsiening gemaak vir die nie-rokersmark, waarvan die talle stalletjies met eetbare produkte getuig het. Hiérdie ouens maak cannabis-sjokolade, cannabis-jellies, cannabis-suiglekkers, cannabis-kougom, cannabis-bagels, ag man, cannabis-en-enigiets-anders-wat-jy-kan-eet.

Dit het my baie beïndruk dat ‘n hele bedryf geskep is waar daar drie jaar gelede niks was nie – met ‘n supply chain wat elke aspek dek, van saad tot daad.

Ek was regtig verstom, en ek het ‘n hele paar uitstallers uitgevra oor hoe en waarom hulle by dié bedryf betrokke geraak het. Die antwoord wat ek telkens gekry het, is ‘geld’. Gróót geld. Die cannabisbedryf het in die laaste jaar 10,000 werksgeleenthede geskep, en $45 miljoen in die vorm van belasting aan die regering betaal (dis net Colorado – dis ook wettig in Alaska, Oregon en Washington). Die bedryf self is miljarde dollars werd, en omdat almal wat betrokke is nog maar nat agter die ore is, wil almal inspring en probeer munt slaan uit die relatiewe onkunde wat tans in die bedryf bestaan.

Gevra oor die voordele, is bykans almal met wie ek gepraat het dit eens dat die reuse-belastinginkomste wat dit vir die regering skep ‘n groot voordeel is, asook die feit dat rokers nie meer gekriminaliseer word nie vir iets wat in lyn is, of selfs mínder skadelik is as alkoholverbruik.

En die negatiewe? Wel, dit was duidelik nie die regte gehoor nie, want nie één van hulle kon aan énige negatiewe aspek dink nie. Volgens hulle is daar nét positiewe, want almal wen; die regering én die man op die straat. Baie uitstallers het verwys na ‘Prohibition’, die tydperk in die 1920’s toe alkoholverbruik onwettig verklaar is in Amerika. Volgens hulle het mense nie ophou drink nie, maar al wat gebeur het was dat die bedryf in die hande van misdadigers (Al Capone, vir een) geplaas is, en dat die belastingvoordeel wat mense se drinkery vir die regering ingehou het, verdwyn het. Aldus hulle word dieselfde foute vandag net nogmaals gemaak deur ‘Cannabition’ toe te pas.

Dit was regtig ‘n baie interessante, leersame paar ure vir my. Ek kan nie sê ek voel verskriklik sterk oor enige kant van die argument nie, maar die woorde van die welsprekende omie by stalletjie E-178 (Hydroponics for Weed) se woorde bly my by: “We’ve been fighting this War on Drugs for decades now, and people are still using drugs. It does nothing to discourage people from using drugs, while it enriches criminals. The War on Drugs is not working, and it’s not worked for many, many years. We therefore may as well try a different approach.”

 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.