Oor ‘n streep in die sand

1 - Streep in die sand

Toets. Een-twee. Toets een-twee. Toets-toets-een-twee-drie.

Uhm…ek weet nie eintlik waar om te begin nie, maar ek is nou behoorlik keelvol vir Facebook se aanmanings rakende die onderbenutting van my Facebook-blad. Bykans elke dag moet ek hoor ‘Fanie, your audience is missing you – send them a message’, of ‘Fanie, reconnect with your audience by sending them a message now’, of my gúnsteling-gunsteling: ‘Fanie, did you know that your audience would like to hear from you?’

Ag toe nou. Regtig? Hoe sal ‘n stuk sagteware sulke gedetailleerde aannames oor die individuele emosies van ‘n paar honderd mense kan maak? En dan nogal na dié mense as ‘your audience’ ook verwys – so asof ek ‘n lekeprediker, minnesanger of motiveringspreker is. Die hele ding is so belaglik dat ek my genoodsaak voel om in die gevleuelde woorde van ons agbare president daarop te reageer: ‘He he. He he he. He he he he he he he.’

So, Facebook, na aanleiding van my eerste inskrywing in maande, hoop ek jy’s nou tevrede.

En aan die sogenaamde ‘audience’: sjoe! Waar was ons nou weer laas gewees?

Dertig maande. Dís wanneer laas ek iets van my laat hoor het. Ek het destyds, nadat ek 15 jaar in die Verenigde Koninkryk spandeer het, op die punt gestaan om my deeltydse joppie as rubriekskrywer vir The South African te laat vaar en my éintlike nering – as geskiedenisonderwyser – by ‘n internasionale skool in Guangzhou, China, tot die volgende vlak te neem.

En toe sluk China my in…

Midde-in ‘n warboel van internetbeperkings (geen Facebook, Twitter, Youtube, Google…of énige webblad wat krities staan teenoor die Chinese regering…of énige webblad wat enigsins die opgehemelde geskiedkundige rol van die Kommunistiese Party bevraagteken…of énige webblad wat ‘n ‘bedreiging’ inhou vir die ‘harmonieuse samelewing’ waarmee daar só graag gespog word…), die alewige gesukkel met ‘n VPN (‘n verstekbediener wat só stadig is dat ek kan sweer ek hoor nog daai skril deuntjie wat mens in die vroeë 2000’s kon hoor wanneer jou rekenaar besig was om met die internet te verbind), die lugbesoedeling, die drukkende bedompigheid, die skares mense, werksdruk, ‘n gebrek aan rooivleis, supermarkte wat te veel rys verkoop en ‘n magdom ander nóg flouer verskonings, het Facebook ‘n baie lae plek op my prioriteitslys begin inneem. Dit was maar net een van daai dinge. C’est la vie.

Maar vandág trek ek ‘n streep in die sand. Vandág word hierdie (stok)perd(jie) weer opgesaal. Ja, vandág neem ek die eerste stap om die gruwelike ongeregtighede van die (onlangse) verlede reg te stel. Hierdie is ‘n revolusie! Maar soos enige revolusionêr weet, kan daar geen ‘regstelling’ sonder ‘transformasie’ wees nie. Hierdie Facebook-blad sal dus getransformeer word sodat dit verteenwoordigend is van die meerderheid – die meerderheid van die avonture wat ek hier in die Wilde Ooste beleef. In die gees van diversiteit sal ek ook elke nou en dan ‘n ietsie met ‘n geskiedenisgeurtjie plaas, solank dit ‘n bydrae kan maak om die kolonialistiese, imperialistiese weergawe van die geskiedenis ‘n knou te gee. Ek sal natuurlik ook sensitief staan teenoor die kwota-brandpunt: my voorheen benadeelde avonture behoort immers op gelyke voet te kan meeding met die avonture wat hulself eers onlangs, ongenooid soos Europese setlaars, in my verstand kom inwurm het. (Dit mag dalk nie so duidelik uit bogenoemde blyk nie, maar ek het intussen weer begin om elke dag die Suid-Afrikaanse koerante te lees)

Ek moet ook erken dat, net soos die meeste Suid-Afrikaanse politici se ydelheid daartoe lei dat die meeste van die projekte wat hulle aanpak op suiwer selfsug gegrond is, nét so is dié blad maar net ‘n uitvloeisel van my eie narsisme. Ek was 18 jaar gelede laas permanent in Suid-Afrika woonagtig, en deesdae gaan daar dikwels dae (en soms ‘n week of meer) verby sonder dat ‘n enkele Afrikaanse woord oor my lippe kom. En man, dit begin seer maak. Deur nou en dan verslag te lewer oor die lewe aan dié kant van die Bamboesgordyn, skep ek dus ‘n geleentheid om myself uit te druk in die taal waarin ek steeds dink en droom, selfs ná al die jare as ‘n expat. Dié blad is in wese maar net ‘n linguïstiese uitlaatklep, maar sou iemand in die proses ingelig, of selfs vermaak word daardeur…wel, dan is dit goed so.

Hopelik sal ek van nou af meer gereeld as elke 30 maande ‘n ietsie op my blad post. Hopelik sal die bisarre / mistieke / frustrerende / lonende / absoluut onvergeetlike aard van ‘n bestaan in China uit my skrywes kan deurskemer. En hopelik sal daar nog báie belewenisse wees wat ek hier sal kan deel – dalk sommer nog so drie-duisend-en-veertien-honderd-en-twintig-twaalf-en-dertig daarvan.

He he. He he he. He he he he he he he.

facebook-page

Warning: count(): Parameter must be an array or an object that implements Countable in /homepages/38/d610177585/htdocs/wp-includes/class-wp-comment-query.php on line 399

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.