Oor ‘n draak(dans) van ‘n ander kleur

6 - Draakdans

Die e-pos, wat gerig was aan alle personeel, het só gelees: “Dear colleagues, as part of the school’s celebrations of the Chinese New Year, a dragon dance contest will be held between the staff members of the junior and senior campuses. Each team will consist of ten members, and participants will be selected on a first-come, first-served basis. If you would like to take part in this event, please send an email to Ms. Liu to indicate your interest. She will then…”

Ek het nie eers verder gelees nie, só opgewonde was ek oor dié brokkie inligting. Ek bevind my in ‘n wildvreemde land, en hiérdie was ‘n gulde geleentheid om myself op ‘n interessante wyse te verdiep in die allervreemde kultuur waardeur ek omring word. Boonop was ek, al moet ek dit nou self sê, ‘n voorslag-volkspeler op my dag, en dít het my plesierige Afrikanerhart vol vertroue gelaat dat ek in staat sou wees om ook die Chinese weergawe van die tradisionele volksdans onder die knie te kry.

Ek het daarom nie ‘n oomblik gehuiwer nie. Ek het die verlangde e-pos soos blits gestuur en duim vasgehou dat ek betyds gereageer het.

Die hete kole waarop ek gesit het kon nie eers kans kry om behoorlik af te koel nie, want binne vyf minute het ek ‘n verdere e-pos ontvang, nogmaals gerig aan al die personeel: “Dear colleagues, seeing that Mr. V was the first person to respond to the previous message, he will be the leader of the senior campus’ dragon dance team. Please contact him if you would like to be a member of his team.”

Huh? HUH? Dit was ooglopend dat ek iewers iets misverstaan het. Of mis gelees het. En só was dit ook. Daardie laaste sin, wat ek in my oorhaastige opgewondenheid nagelaat het om onder oë te neem, het die volgende uitgespel: “She will then ask the first respondent from each campus to act as the leader of his/her team. 

Die glimlaggende gesiggie wat as ‘n nagedagte by die oorspronklike boodskap ingevoeg is, was beslis nie ‘n weerspieëling van mý gesigsuitdrukking op daardie spesifieke oomblik nie.

Ek wou eers ‘n hewige protestasie loods, maar voor ek kon keer het my Protestantse werksetiek ingeskop, en het ek gedwing-gedweë besluit om maar my stiff upper lip, wat ek tydens my jare in Engeland vervolmaak het, uit te stal. Ek het myself vir ‘n toffie uitgegee, en ek sou verlief daarmee moes neem om gekou te word.

My eerste taak was om ‘n tienledige span bymekaar te skraap. Daar was groot belangstelling onder my kollegas, en ek moes die réúse-verantwoordelikheid wat op my skouers gerus het met omsigtigheid, deursigtigheid en objektiwiteit dra. Dit was van absolúte kardinále belang dat die perfekte mense-samestelling vir dié lewensbelangrike gebeurtenis verseker moes word.

Ek was aanvanklik onseker oor die beste wyse om die keuringsproses te benader, maar uiteindelik het ek, gedienstig aan die ideologieë wat in my land van herkoms gehuldig word, die klem  op ‘diversiteit’ en ‘kwotas’ geplaas. My span het gevolglik bestaan uit ses mans en vier vroue. Daar was vyf Britte, ‘n Ier, twee Chinese, ‘n Duitser en ‘n Suid-Afrikaner (die uwe). Sewe lede het hul oriëntasie in dáái afdeling aangedui as heteroseksueel, twee as homoseksueel, en een as nog-nooit-voorheen-seksueel – die Chinese meisie, ag siestog. Hiérdie kosmopolitaanse groepie het ook ingesluit: twee voëlkyk-entoesiaste, ‘n voormalige rofstoeikampioen, ‘n filatelis, ‘n amateur-kulkunstenaar, en ‘n drietal brildraers. Twee spanlede het aknee as tieners gehad, twee was engtevrees-lyers, een se kop het geraas, en een van ons was ál by Sun City. Vir ‘n meer diverse groep draakdansers kon jy beswaarlik vra.

Vervolgens moes ek my lyf choreograaf hou, maar wat ek van dragon dancing af wis (en om eerlik te wees, steeds weet), was negeerbaar. Ek het egter die draak by die horings gepak en my gewend na daardie hoekie in die kuberruim wat elke gesoute navorser as vertrekpunt sal gebruik: Youtube.

Ek was aanvanklik oortuig dat ek die verkeerde woorde in die soekspasie ingesleutel het, want wat ek op die skerm voor my aanskou het, het veel minder gelyk na ‘n intimiderende, ontsagwekkende mitiese figuur, en veel meer na die liefdeskind van ‘n anakonda, ‘n Bengaalse tier, en ‘n pappegaai (hoe onwaarskynlik dit ookal mag klink dat ‘n ding uit ‘n liefdesdriehoek verwek kon word – hiérdie is China, en hier is énigiets moontlik). Dié baster-ongedierte het ‘n enkele doel voor oë gehad: om vervaard agter ‘n goue bal (wat die son sou versinnebeeld) aan te jaag, terwyl dit wriemel soos ‘n reptiel wat snuf in die neus gekry het – van ammoniak, of metamfetamien.

Die klankbaan vir dié eienaardige krioelering is verskaf deur ‘n instrument wat maar net beskryf kan word as ‘n klarinet…op helium. Dít terwyl die ritme-seksie, te oordeel aan die kakofonie van klinkende metaal en galmende simbale, behartig is deur mense wat nié die liefde het nie.

Die veelkleurige gelukbringer sou homself natuurlik nie op eie stoom kon versit nie, en is daarom voortgestu deur ‘n spannetjie waarvan elke lid vasgeklou het aan een van ‘n tiental houtpaaltjies wat in eweredige mates al langs die draak se lyf aangebring is. Om ekstra gewigtigheid aan die geleentheid te verskaf, was die spanlede geklee in eenvormige tradisionele Chinese hansworsuitrustings…of só het dit in elk geval gelyk.

My navorsing het my eintlik met meer vrae as antwoorde gelaat, maar dit het duidelik geword dat my taak drieledig van aard sou wees: ek moes ‘n stel pretpakkies bekom waarmee ek my spanlede kon uitrus, ek moes ‘n klankbaan skep waarop ons draak sy ding kon doen, en ek moes met ‘n gepaste dansroetine vir ta vorendag kom.

Om die klerasie in die hande te kry was eenvoudig. Anders as in ander wêreldstede was dit oorbodig om die ligging van die plaaslike China Town te bepaal, siende dat ek omring word deur een van grootste China Towns in die heelal. ‘n Winkel net om die hoek van my verkwansel ‘n magdom Chinese snuisterye, en hiér het ‘n dame met ‘n groot glimlag (met twee voortande soek) en selfs gróter hulpvaardigheid, my bygestaan om my keuse te laat val op ‘n lieflike rooi-en-geel-ensemble. Teen R40 per stel was dit boonop ‘n winskoop.

Die oorblywende twee aspekte was egter ‘n draak van ‘n ander kleur. Ek het myself voor ‘n hewige dilemma bevind: moes ek voorgee om iets van dragon dancing af te weet en probeer om dít wat ek op Youtube gesien het na te doen, of moes ek geloofwaardigheid inboet deur my onkunde op ‘n humoristiese wyse aan die kaak te stel? Na ‘n aand van wierookwalms en meditasie het ek besluit op ‘n kombinasie van beide opsies.

Ek het ‘n liedjie-loslappie aanmekaar geslaan en ‘n paar danspassies bewimpel wat min of meer aanvaarbaar sou wees.

Asof die druk nie reeds groot genoeg was nie, is ons boonop slegs drie uur-lange oefensessies gegee om ons voor te berei vir die vertoning. Ons onbeholpenheid was skokkend, maar dit het, meer as enigiets anders, ‘n groot gelag afgegee. Teen die einde van ons laaste oefensessie het ons egter daai draak se stert geknoop (op ‘n keer selfs létterlik so, wat ‘n afkeurende blik van die toekykende Me. Liu tot gevolg gehad het) en was ons vol vertroue dat ons gereed was vir die groot okkasie.

In die meegaande video kan jy die vrug van my arbeid sien. Die kwaliteit daarvan is merkbaar swak, en daarvoor vra ek om verskoning, maar gegewe die kwaliteit van ons poging is dit seker gepas dat dit só moet wees. Dis ek wat die voorhoede dek – ‘n draak vrot immers van sy kop af, en daarom het ek gevoel dat die verantwoordelikheid om die kop te dra vir my alleen moes toekom. My persoonlike gunsteling-oomblik kom op 00:51, wanneer die hoof se senuweeagtige laggie opklink met dié dat hy besef dat óns draakstreke ‘n meer aweregse as ‘n tradisionele poging verteenwoordig.

Ná die onlangse polemiek wat Penny Sparrow se inskrywing op Facebook ontketen het, is ek nie heeltemal seker of ek dié woord mag gebruik nie. Die lááste ding wat ek wil doen is om nóg ‘n rassebom te laat ontplof, maar in China is die jaar wat voorlê die jaar van die…uhm…wel…die…kug-kug…die aap.

So, as jy in 2004, 1992, 1980, 1968, 1956, 1944 of 1932 gebore is, dan is hierdie jaar jóúne. Vat hom vas, gaan láág in, bewerkstellig omkeerbesit en bly altyd aan dié kant van die onkantlyn.

Vir die res van ons – mag ons almal ‘n gesonde en gelukkige Jaar van die Aap beleef. Slaan die yster terwyl hy warm is. Gong xi fa cai!

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.