Oor die weer in Guangzhou

2 - weerstories

Nou ja, soos dit ‘n goeie kwasi-Engelsman betaam, behoort ek seker my China-vertellinge af te skop deur verslag te lewer oor die weer…

Indien ‘n vraag daaroor ses maande gelede tydens ‘n pub-vasvra in my rigting gegooi is, sou ek nie geweet het dat Guangzhou (uitgespreek Ghwang-djou) populasiegewys die derde grootste stad in China is nie. En indien ek gevra sou word om die ligging daarvan op ‘n wêreldkaart aan te dui, sou my onkunde my spanmaats met hul hande in die hare gelaat het. ‘n Vraag oor die klimaatstoestande in dié geweste sou egter die een wees wat my met die grootste gemak sou kon stonk.

Voordat my werksaansoek sy bestemming kon bereik, het ek dus die nodige navorsing aangepak en het ek ontdek dat dié stad in Suidoos-Asië, met sy 12 miljoen inwoners, slegs ‘n kort treinrit van Hong Kong af geleë is en dat dit inderdaad met ‘n tropiese klimaat spog.

‘n Tropiese klimaat! Wil jy nou meer! Dit was musiek in my ore. Ek sou uiteindelik weer in ‘n warm land woon. Dít na vyftien jaar in Die Land van die Ewige Grys Wolk, waar dit langer neem om die nodige hitteverskaffende klerasie aan te trek as wat jy dit in werklikheid buite in die koue kan uitstaan, en waar jy tot intense verdriet gedoem is indien jy ooit braaf genoeg sou wees om die huis sonder ‘n sambreel te verlaat. Beelde van palmbome, plakkies, ‘n koel briesie en ewigdurende sonskyn het voor my geestesoog afgespeel…en toe laai die Boeing my daai dag hier af…

Nou kyk, dit was wárm. Nie warm soos ‘n warm dag in Pretoria wanneer jy nie aan die stuurwiel kan raak nadat jou kar vir ‘n uur in die son buite die Kolonnade gestaan het nie. Nie warm soos ‘n warm dag in Londen wanneer jy op ‘n tube-trok sit en die drywer jou in kennis stel dat ‘we are just waiting for the train in front of us to clear the platform’ nie. Nee-nee, WARM. Warm soos die hel. Ongemáklik warm. Asof die lugverkoelingseenhede agterstevoor geïnstalleer is, sodat dat die warm lug binnetoe blaas en die koue lug buitetoe.

En saam met die versengende hitte kom die verstikkende bedompigheid. Ek is geen geografis nie, maar 100% humiditeit beteken vir my dat jy jou bínne-in water bevind. ‘n Swembad sal byvoorbeeld, volgens my beskeie berekening, 100% humiditeit hê. Ek was dus effens verbouereerd en meer as net ‘n tikkie bekommerd toe ek voor my vertrek merk hoe die voorspelde humiditeitsvlakke vir daardie eerste week tussen 93% en 95% ronddobber.

En my bekommernis was nie om dowe neute nie.

Ek was nog nie eers behoorlik by die lughawe se deure uit nie toe ek alreeds begin drup het van die sweet. My broek het soos gladwrap aan my bene geklou en my hemp sou ek soos ‘n sopnat handdoek kon uitwring. Met my aankoms by my wooneenheid het die lugverkoelingseenhede (in élke vertrek) genadiglik verligting gebring en het ek myself probeer oortuig dat ek maar net ongelukkig was om op ‘n ékstra-warm dag te arriveer.

Maar die volgende dag, en elke dag sedertdien, was dit dieselfde storie. As jy dit vir tien minute buite waag, kan jy maar daarop reken dat dit sal lyk asof jy sopas ‘n halwe Comrades voltooi het. Gelukkig bevind almal rondom jou hulle in dieselfde bootjie, en doen die sweetkolle op jou lyf derhalwe geen afbreuk aan jou aansien nie. Moet net nie jou klere met ‘n té groot oorgerustheid laat uitdroog nie. Sweetkolle op jou hemp is een ding, maar droë, bleekwit salpeterkolle is iets heeltemal anders – iets wat beslis die wenkbroue sal laat lig oor jou gebrekkige persoonlike higiëne.

‘n Tropiese klimaat beteken verder ook, so het ek ontdek, dat ‘n donderbui op enige oomblik kan uitsak. My vergesigte van sambreellose uitstappies is daardeur in die kiem gesmoor, maar ten minste is die druppels van só ‘n reënbui lekker louwarm, so die ergste nagevolg daarvan is ‘n befonkfaaide haarstyl – een van die talle eerstewêreldse probleme waarvoor ek deesdae nie meer terugdeins nie.

Al ooit gewonder wat die mees gewilde huishoudelike item in China is? Dis die doodgewone, fieterjasielose persoonlike sambreel. Want danksy die kombinasie van die versengende hitte en die onvoorspelbare donderbuie, verlaat geen Chinese vrou ooit haar huis daarsonder nie. Black is beautiful? Nie hier nie. Hier geld ‘hoe bleker, hoe beter’ eerder. So, wanneer die son skyn, is daar ‘n sambreel bo elke vroulike kop. En wanneer die onafwendbare daaglikse reënbui uitsak, sal jy die sambrele steeds in daardie posisie aantref. Met ander woorde, elke vrou loop die heeldag met ‘n oopgeslane sambreel rond. En te wyte aan die gemiddelde lengte (of eerder ‘kortte’) van Chinese vroue, kom die gevaararea tussen my knieë en my naeltjie pal onder skoot.

‘n Donderbui is ook mos nie die naam daarvan werd indien dit nie deur donderweer vergesel word nie. En dáárvan is hier baie. Nou die oggend, om 5:00 voormiddag, is ek juis uit die slaap geruk deur die mees indrukwekkende donderstorm denkbaar. Ek was aanvanklik oortuig dat die oordeelsdag aangebreek het – die mure het létterlik geskud met elke donderslag wat oor ons gerol het. Voeg daarby ‘n weerligvertoning wat sterk herinner het aan ‘n aand tussen die strobe lights in Drop Zone, en die senuwees het maar effens begin knaag. Maar eind goed, als goed, en ten minste bring die reënvalpatrone mee dat ek my midde-in die mees asemrowende plantegroei bevind. Guangzhou is ‘n betonoerwoud in die ware sin van die woord – baie beton in ‘n kolossale oerwoud.

‘n Tropiese klimaat verskaf verder ook ‘n teelaarde vir allerhande insek-gediertes, insluitend slakke so groot soos selfone en kokkerotte so reg uit ‘n gru-verhaal. Van laasgenoemde het ek egter nog nie te veel teëgekom nie…ek het ‘n vermoede dat die plaaslike bevolking dié outjies as ‘n smaaklike versnapering beskou (meer daaroor in ‘n latere skrywe) en hulle bevolkingsgetalle op dié manier in bedwang gehou word. Wat wél meer as net ‘n kleinlike irritasie is, is die muskiete, en dit wil voorkom asof die China-muskiet ‘n spesiale voorkeur vir expat-Suid-Afrikaners het. Kort na my aankoms het dit kompleet gelyk asof ek die iepekonders onder lede gehad het, só het die pestilensies my bygedam. Maar ek het vining-vinnig ‘n plan beraam en deesdae slaap ek onder ‘n bielie van ‘n muskietnet. Suck on that, mosquitoes (pun most definitely intended).

En dan, óók danksy die tropiese klimaat, word mens saans, wanneer jy op die balkon uitstap, vermaak deur die bekoorlikste naggeluide – die gekwaak van paddas en die gekriek van krieke. Ek kan my kwalik teësit teen die nostalgie wat deur dié geluide voortgebring word, en dis in daardie spesiale oomblikke, wanneer die herinneringe aan paddas in plaasdamme, en krieke op lowergroen voorstedelike grasperke op hulle sterkste is, dat ek ondubbelsinnig daaraan herinner word dat ek baie, báie ver van die ‘huis’ af weg is…

Die afgelope maand was ‘n deurlopende ondervinding van die nuwe: nuwe kontinent, nuwe land, nuwe kultuur, nuwe taal, nuwe kos, nuwe werk, nuwe kollegas, nuwe huis, nuwe vriende…nuwe lewe. En elke nuwe dag bring nogmaals die besef dat ‘n mens verstommend aanpasbaar kan wees. Dat jy, gegewe die regte omstandighede en die regte ingesteldheid, dinge kan vermag wat jy nooit gedink het moontlik kon wees nie – soos om in ‘n geheel en al vreemde kultuur aan te pas, of soos om vir langer as twee getikte bladsye, soos ‘n ou, óú mens, tot vervelens toe te babbel oor die weer.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.