Oor Tjoebkunde 101

18 - Tjoebkunde

Die Londense moltreinstelsel, of ‘Die Tjoeb’, soos ons plebs hom roep. Onontbeerlik, dog sielsverwoestend. ’n Parallelle heelal waar slegs een reël geld: daar geld geen reëls nie. As ’n veteraan van ’n geskatte 7,000 ritte op hierdie noodsaaklike boosheid, het ek nou al net mooi álles gesien. In die proses het ek genoegsame kennis opgedoen om ’n insiggewende gids vir die meer onervare pendelaar saam te stel, so hier gaat ons…of soos ons in tjoebtaal sou sê: “This train is ready to depart. Please stand clear of the closing doors.

Die tjoeb is ’n broeiplek vir siektes. Verkoue, griep, SARS, herpes, VIGS…noem maar op. Indien jou persoonlike higiëne en, wel, jou gesondheid, dus vir jou ’n prioriteit is, maak seker jy gebruik jou kneukels om die knoppies op die kaartjiemasjiene en treindeure te druk.

Indien jy ’n handsak met jou saamdra, maak seker jy het jou Oysterkaart gereed wanneer jy die toegangshekke nader. Moenie wag totdat jy voor die geel kaartleser tot stilstand kom voor jy naarstigtelik tussen snotbedekte snesies, bosse sleutels en verspilde Tic Tacs daarna begin soek nie. Jou tydsverkwisting sal ten beste vir jou ’n vuil kyk op die hals haal en ten slegste, ’n kopstamp tussen die skouerblaaie.

Kyk wyd uit vir die moltreinmaaifoedie – daardie oorlamse verskoning vir ’n mens wat ná jou op die platform arriveer, maar met ’n slinkse bedrewenheid vóór jou sal indruk om die laaste sitplek op die trok te bekom. Moet dit nie toelaat nie. Staan jou man. Klap hom, trap hom, têkkel of trip hom. Wat dit ookal mag verg. Moet net nie dat hy wegkom met sy onderduimshede nie.

Wanneer jy eers jou sit gekry het, wees tog bedag op die denkbeeldige skeidslyn tussen die sitplekke. Posisioneer jou elmboë ferm aan die binnekant van die armleuning om sodoende enige potensiële konfliksituasie te vermy. Indien jy jou egter aan die ontvángkant bevind van iemand wat aan ’n gebrek aan spasiëringsbewustheid ly, gee hom gerus ’n ligte pompie om hom te wys op sy onbedagsaamheid. Volg dit egter altyd op met ’n ‘sorry mate’ en gee voor dat dit bloot per ongeluk was. Hy sál die skimp vang.

Indien jy, soos ek, uitermate welbedeeld is, sal jy dalk moeite daarmee ondervind, maar probeer tog veg teen die instink om jou met oop ketels op ’n sitplek neer te plak. Onthou, jou knietjies teen die persoon langs jou s’n mag dalk net die indruk wek dat jy met ’n subtiele flankering doenig is. En dít kan dalk net in jou gesig ontplof. Indien jy ’n lid van die skoner geslag is, hou ook maar jou bene toe – vir voor die hand liggende redes.

Wees gewaarsku: sommige vroue beskou ’n tjoebtrok as ’n plaasvervanger vir hulle badkamers. Julle sal skaars by die stasie uitgetrek het of die grimeersakkie sal te voorskyn gebring word. Probeer om nie te staar nie. Dink eerder aan hoe baie, indien die trein skielik tot stilstand sou kom, haar oogbal op haar maskarastokkie soos ’n olyf op ’n tandestokkie sal lyk. En wees dankbaar dat madam ten minste besluit het om haar toonnaels by die huis te knip.

Op die tjoeb kry mens soms die gevoel dat iemand besig is om jou koerant oor jou skouer te lees, en daardie gevoel is gewoonlik in die kol. Moet jou egter nie hovaardig hou en jou koerant van só ’n persoon af wegdraai nie. Vra eerder die oor-die-skouer-loerder om een kant van jou koerant vas te hou en saam met jou die hoofberig te analiseer. Sy belangstelling in jou leesstof sal nie veel langer voortduur nie. Dít waarborg ek jou.

Geen troeteldier, van welke beskrywing ookal, betaal vir ’n tjoebkaartjie nie. Indien die laaste sitplek op jou trok dus deur Rex, Rover of Socks beset word, stap eenvoudig doelgerig op hom af en gaan wag voor sy sitplek terwyl jy stip in sy baas se oë kyk. Die meeste troeteldiere in Londen is beter gemanierd as hulle eienaars en sal onverwyld hulle sitplekke ontruim om ’n ‘situasie’ te vermy.

Die sitplek naaste aan die deure is ’n ‘priority seat’ en word gereserveer vir swanger vroue, oumense en ander krankes. Jy’s welkom om daar te sit, maar sodra ’n vrou met ‘n ‘baby on board’-lapelwapen vanuit die niet voor jou verskyn, beter jy vinnig jou sitplek vir haar ontruim. So gou soos nou. En sou jy dan, wanneer jy vasgeknyp staan tussen die Graanvlokkieman (die een met die skilfers) en B.O. (body odour) Baracus, opmerk dat die sitplekdief se magie gans te plat is vir iemand wat veronderstel is om hoogswanger te wees, moenie dink jy’s om die bos gelei nie. In Londen is eerlikheid die wagwoord en niemand sal so agterbaks wees om ’n swangerskap te versin net om ’n sitplek op die tjoeb te bekom nie. Kug-kug.

Indien die pendelaar neffens jou ’n kosblik met gisteraand se oorskietkerrie daarin te voorskyn bring en vraatsig daarin begin smul, moenie ’n gek van jouself maak en geanimeerd die stink walms voor jou neusvleuels wegwaai nie. Vra hom eerder entoesiasties uit oor die bestanddele wat hy daarin gebruik het. Vertel hom van jou passie vir kerrie en dat jy ’n spirituele eenheidsgevoel teenoor enige ander kerrieliefhebber koester. Jou kerrievretende vriend sal by die volgende stop van sitplek verander. Om die waarheid te sê sal hy van tréin verander. En jou reukbesoedelingsprobleem sal opgelos wees. Voila!

Jy sal jou vroeër of later vasloop teen die iPod-pendelaar en jy sál geïrriteerd raak met die tss-n-tss-n-tss wat uit sy oorfone uit opklink. Haal diep asem, tel tot by tien en laat hom maar net begaan. Dis nie die moeite werd om jouself daaroor te verknies nie. Dis die ou sónder die oorfone, uit wie se selfoon rap– en hip-hoptjoens opklink vir almal om te hoor, vir wie jy éintlik jou mes moet inhê. Gaan neem stilweg stelling langs só ’n persoon in en val in jou beste operastem weg met ’n luidkeelse weergawe van O sole mio. Indien hy sou protesteer, vra om verskoning en voer aan dat jy onder die indruk verkeer het dat julle besig was met ’n wederkerige musiekwaarderingsessie.

Om in Afrikaans te skinder, veral op die District Line tussen South(Africa)fields en Wimbledon, kan in ’n gevaarlike waagstuk ontaard. Moet nooit dink jou verleenthede in die Slug And Lettuce is eksklusief vir jou reisgenoot se ore beskore bloot omdat dit in Die Taal aan hom oorgedra word nie. Voor jy weet lees ons weer in Rapport van die gefuifery onder Londen-Afrikaners en hoe hulle soos bronstige dronkaards sonder enige morele waardes tekere gaan. Met jóú naam in die opskrif.

Namate jy jou bestemming nader sal die trok waarop jy jou bevind stelselmatig begin leegloop. En soos wat daai Murphy-ou vasgestel het, sal dit uiteindelik net jy en die ou in die sitplek rég langs joune wees wat in julle trok oorbly – ‘n sosiale situasie wat ’n klein bietjie akward kan raak. Maar moenie huiwer om jou uit die voete te maak en op ’n ander plek te gaan sit nie. Jy is nie daar om ander mense se gevoelens te spaar nie, en jy sal inteendeel die respék van jou mede-pendelaars wen indien jy jou gedra soos ’n ongepoetsde werfetter wat niemand se belange behalwe jou eie op die hart dra nie.

So daar gaat jy. Nou behoort jy oor meer as genoegsame kennis te beskik om van elke tjoebrit ’n eersterangse plesiertog te maak. Gaan dan heen en stel dit as jou doelwit om die London Underground se gal vir hom te werk. This train terminates here. All change please. All change. We thank you for travelling on the London Underground and we hope to see you again soon. Please mind the gap when you leave the train.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.