Oor herwaarts of derwaarts

17 - herwaarts of derwaarts

Mán, maar dis lekker om in Londen te bly.

Brittanje is weliswaar nie meer die bakermat van imperialistiese vooruitstrewendheid wat dit ’n eeu gelede was nie, maar hier bevind mens jou tóg aan die voorhoede van die beskawing.

Wat dit ookal is wat jou bloed vinniger laat vloei, hiér sal jy die beste toerusting, advies en middele kan bekom om jou passies mee uit te leef. Van tolletjiebrei en toutrek, tot by teedrink en transkontinentale toerisme. Die wêreld is op jou drumpel, met Frankryk, België, Nederland en Duitsland wat maklik per motor bereik kan word, en die res van Europa skaars ’n uur se vlug weg.

Nuwerwetse tegnologie is geredelik beskikbaar, en boonop buitengewoon bekostigbaar. Danksy die kombinasie van spotgoedkoop breëbandinternetverbindings en ’n hoogs effektiewe posdiens, is die wonderwêrelde van onder meer Amazon en eBay vir almal toeganklik. Die verskeidenheid op supermarkrakke is werklik verbysterend en, nogmaals te danke aan die internet, word jou weeklikse kruideniersmandjie sommer deur ’n vriendelike Tesco-man by jou voordeur afgelaai.

Daardie knaende gevoel van korporatiewe uitbuiting ontbreek hier. Die rentekoers staan op 0.5%, bankkoste word slegs gehef indien die kliënt versuim om sý kant skoon te hou, en kliëntediens, in alle besigheidsektore, is van hoogstaande gehalte.

Die welfare state werk. En dit is well fair. Danksy die National Health Service is ’n mediese fonds oorbodig, maar desondanks kan jy ’n witjas gaan spreek sonder om ’n duit daarvoor op te dok, terwyl jy jou voorgeskrewe medisyne teen ’n appel en ’n ei kan bekom.

Die openbare vervoerstelsel is wêreldklas. Die kenmerkende rooi busse bereik selfs die mees afgeleë uithoeke, terwyl die moltreine ’n mens, met enkele uitsonderings na, klokslag besorg waar jy wil wees. Om ’n motor te besit is oorbodig, maar sou jy wél in besit van dié luukse wees, word jy omring deur padwaardige voertuie en medepadgebruikers wat grootliks die padreëls gehoorsaam. Padwoede bestaan feitlik nie, en om besope agter ’n stuurwiel in te klim is eenvoudig taboe.

Materialisme neem nie endemiese proporsies aan nie. Jou sosiale status word nie deur jou vermoëndheid bepaal nie. wanneer jou karakter beoordeel word is die fabrikaat van jou kar en die grootte van jou huis irrelevante onbenullighede. Wat saak maak is wie jy is, nie wat jy besit nie.

Woonhuise het nie alarms nie, en word nie omring deur geëlektrifiseerde heinings nie. Motorkarre word sommer oornag in die straat parkeer, sonder versteekte satellietopsporingstelsels of fênsie ratslotte. Jy kan in die middernagtelike ure in die strate ronddwaal, sonder om pal oor jou skouer te loer. In die parke kan jy op ’n bankie sit en ’n boek lees, terwyl ma’s met hul stootkarretjies verbyrol, kinders mekaar laggend terg, en jong gesinnetjies op komberse sit en piekniek hou.

’n Wandeling deur die middestad ontbloot die mees sonderlinge gesigte – historiese geboue, imposante museums, middeleeuse begraafplase, die magtige onvermydelikheid van die Teems, en straatkunstenaars wat hul slag toon in ruil vir aalmoese. Geen wonder jy loop jou om elke hoek en draai teen ’n leërskare toeriste vas nie!

Londen hou ook nie die sondes van jou vaad’re teen jou nie. Die kosmopolitaanse karakter van dié stad skep geleenthede om mense van nasionaliteite van regoor die wêreld te ontmoet – mense wat apartheid sien vir wat dit is: ’n inskrywing in ’n geskiedenisboek, ’n verdrietige tydvak in Suid-Afrika se verlede, maar nie een waarvoor jý moet pa staan en soos ’n albatros om jou nek dra nie.

En les bes, tydens sportgeleenthede is die sang vanuit die pawiljoene gevarieerd en kleurvol, en nie herhalende rendisies van eenwoord-gesange op die maat van ’n deuntjie wat by die Spanjaarde geleen is nie.

Ja-nee, ek sal die kragte van die heelal vir ewig dankbaar bly dat hulle my hiér kom uitspoeg het, maar…

Dis daardie alledaagse, toevallige prikkels wat mens telkens laat besef in watter land jou hart nou éintlik steeds lê. ’n Koerantopskrif wat iets oor ‘South Africa’ verkondig, of ’n Afrikaanse gesprek op die moltrein doen dit. ’n Verbyswiepende black cab wat Suid-Afrika as ‘n toeristebestemming bemark doen dit, en dáái veelkleurige vlaggie op ’n wynrak in Sainsbury’s doen dit baie beslis ook.

Want jy mis die mense. Jóú mense. Die reuk van jou ouerhuis. Die liefde van jou familie. Jy mis jou vriende; jou bondgenote wat áltyd jou beste belange op die hart dra. Jy mis die breë publiek met wie jy kan identifiseer, wat jou taal praat, en met wie jy in ’n oogwink ’n aanknopingspunt of gemene deler kan vind.

Jy mis die biltong, 7de Laan en elke dag se sonskyn. Jy mis die lentereuke, kinders wat kaalvoet skool toe gaan en Desembers waar mens nóóit op Oukersaand werk nie. Jy mis die Wildtuin, die stilte van die bos en die geraas van branders by die see. Jy mis Loftus, Oppikoppi, kerkbasaars, pap en sous, die donderweer op die Hoëveld en om as ‘oom’ deur vreemde kinders aangespreek te word. En soms, net soms, mis jy selfs die two-tone hemde wat net té styf oor boepense span.

En tóg, wanneer jy ‘n expat is, raak jou selfkonsep toenemend vervleg met jou identiteit as Suid-Afrikaner – straks meer só as wat die geval is met Suid-Afrikaners daar te lande. Want jy’s die Suid-Afrikáánse kollega by die werk, en die Suid-Afrikáánse buurman by die huis. Jou nasionaliteit raak onlosmaaklik deel van jou, en almal wie jy ontmoet assosieer jou daarmee, en skep ’n eerste indruk van jou op grond daarvan.

En dis oukei, want dit ís tog wie jy is. Jy kan ’n boom uit die grond uit lig en tienduisend kilometer verder gaan plant, maar sy wortels sal steeds dieselfde bly. ’n Britse paspoort breek nie jou bande met Suid-Afrika nie, en dit versag nie jou Afrikaanse aksent nie. Jy lees nog daagliks die Media24-koerante en luister na RSG op die web. Jy koop Mrs. Balls by die SA shop en jy laai Afrikaanse MP3’s van Rhythm Records se saait af. Jy kyk die Curriebeker en Super 15 op Sky Sports 4, en as die Bokke of ’n SA band hier kom speel is jy dáár. Omtrent al jou Facebook-vriende is Afrikaans, en behalwe tydens werksure, is dit die enigste taal wat jy praat.

Die kulturele kokon wat jy om jou weef word ’n veilige hawe – iets om aan vas te hou in hierdie maalkolk van kulture. Jy verlustig jou daarin om ’n Suid-Afrikaner te wees – meer as wat voorheen die geval was. Jy raak, inderwaarheid, skaamteloos verknog daaraan.

Party mense sê jy moet jou losmaak daarvan. Dat mens nie kan leef met jou liggaam en gees op twee verskillende kontinente nie. Maar jy kan. En jy doen. Want Londen, met al haar verkwiklikhede, is ’n kleinood. ’n Welkome stop op jou lewenspad. ’n Leerskool duisend, besaai met geleenthede. Maar dis die land daar onder, die land waar jy belong, wat jou onvermydelike eindbestemming bly. In liggaam óf in gees.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.