Oor die taaltameletjies van Londen-Afrikaners

11 Oor taaltamelatjies

Daar is baie wat mens van Londen kan sê, maar een ding wat nie altemit is nie, is dat dit ‘n stad van verskeidenheid is. Sóveel so dat my nougesette navorsing aan die lig gebring het dat daar op enige gegewe tydstip meer as driehonderd verskillende tale hier gepraat word. Oukei, toegegee, met ‘nougesette navorsing’ verwys ek eintlik na ‘n enkele blitsbesoek aan Wikipedia, maar tóg, selfs al halveer jy die resultate van my ‘navorsing’ het daar laas uit die Toring van Babel ‘n enigsins soortgelyke veeltalige kakofonie verrys.

Maar ten spyte van al die burgerlike vryhede wat sy so mildelik oor haar kosmopolitaanse inwoners uitstrooi, vereis Londen een ononderhandelbare offer van elke mens in haar pens: jy móét die Rooi Taal gooi. Of jy nou wil maar nie kan nie, of kan maar nie wil nie, jy móét eenvoudig maar net. En al besig die verbasterde Londen-populasie in teorie dieselfde taal, bly dit steeds moontlik om iemand se nasionaliteit te bepaal deur maar net te let op die antwoord op die stapelvraag ‘how are you?

‘n Australiër sal antwoord met ‘no worries’, ‘n Amerikaner met ‘I’m cool, dude’ en ‘n Indiër met ‘bery, bery good’. En hoewel dit nie strook met die stereotipe van hul nasie nie, sal ‘n Ier nietemin volhou dat hy ‘grand’ is. Aan die ander kant sal ‘n volbloed-Brit aanvoer dat hy ‘nothing to complain about’ het, maar dáárdie stelling is gewoonlik ‘n leuen, want hulle kry áltyd iets om oor te kla – selfs al moet hulle daarvoor gaan soek. En dan is daar die frase wat onmiddellik verraai dat daar ‘n Afrikaner aan die teenoorgestelde kant van jou welstandsnavraag staan, want daar’s net een nasie op aarde wat dié vraag beantwoord met ‘n gerusstellend-bekende…’faain in joe?’

Nou kyk, daar is in wese geen fout mee te vind as jou Afrikaansgeit verklap word deur dít wat by jou mond uitkom nie. Ekself het ‘n aksent wat dikker is as Lindiwe Mazibuko se bobene, en dit skeel my regtig min. Maar niemand wil ‘n vreemde spreektaal op verwarrende wyse aanwend nie, en daarom is dit belangrik om jouself te vergewis van die aansienlike verskille tussen Londen-Engels en Lephalale-Engels, verál as jy ‘n VBA-Afrikaner* is. Let dus dan maar op die onderstaande voorbeelde en gebruik dit dan na goeddunke. Use it/don’t use it, soos hulle in hierdie geweste sal sê…

Om ‘n geselsie met ‘n vreemdeling aan te knoop druis lynreg in teen die meeste Britte se beginsels. So dan en wan sal die onwaarskynlike egter gebeur en sal jy genader word om lig te werp op die beste roete na ‘n bepaalde bestemming toe. Wees egter versigtig om jou kennis te deel met iets soos ‘go straight until you find the robot and then go left‘…behalwe as jy régtig bedoel dat Twiki, Buck Rogers se metaalvriendjie, êrens langs die pad wegkruip en net wag om gevind te word (biedie-biedie, ô-ô). Om enige verwarring te voorkom, gebruik eerder die ondubbelsinnige ‘traffic lights’.

En indien jy jou iewers in die platteland bevind waar ‘n groepie ruimtewesens ‘n ronde patroon in ‘n grasveld getrek het, staan dit jou vry om na dié baken as ‘n ‘circle’ te verwys. Maar sou jy in die hart van die betonoerwoud wees, en jy verwys na die ronde verkeersreguleerder bo in die straat, sal dit jou beter betaam om die meer verstaanbare ’roundabout’ te gebruik.

In Lephalale was ‘n ‘jumper’ dalk ‘n toestel waarmee mens nuwe lewe in ‘n papperige karbattery kon blaas, maar in Londen verwys die woord ‘jumper’ na ‘n trui. ‘n Jersey is sommer net ‘n koei – ‘n bruin koei (nie te verwar met ‘n ‘bruinbeer’ nie).

Teen dié tyd is dit dalk al ‘n uitgediende stukkie tegnologie, maar hier en daar sal jy nog steeds gebruik maak van een van daai klein, vierkantige, verwyderbare rekenaargeheuedingeses. In Lephalale het hulle aanvanklik daarna as ‘n ‘floppy’ verwys, en later van tyd as ‘n ‘stiffy’. Maar moet tog net om hemelsnaam nie vir ‘n kollega in Londen vra of jy sy ‘stiffy’ kan gebruik, of nog erger, aanbied dat hy jóú ‘stiffy’ kan gebruik nie, mits dit jou doelwit is om van seksuele teistering aangekla te word. Want hier is ‘n ‘floppy’ nog steeds ‘n ‘floppy’, en ‘n ‘stiffy’ is iets…wel…iets hééltemal anders.

Die volgende voorbeeld is ‘n klassieke geval van lost in translation: wanneer die lus vir ‘n toebroodjie jou beetpak, sal min Londenare weet wat jy bedoel as jy sou vra waar jy ‘n ‘samie’ kan kry. Die Britse slengwoord vir ‘n toebie is ‘sarnie’, afgelei van ‘sandwich’. Jy sien?

Gaan tog ook maar versigtig om met die woordjie ‘shame’. In Lephalale is dit heel gepas om op komplimentêre wyse op te merk: “Ag sjym, kyk daai babatjie!” Hier rond verwys ‘shame’ egter na iets wat gruwelig skandalig is. “Shame, look at that baby”, sal dus niks behalwe skok en verontwaardiging by die ouers van die (volgens jou) skandbevlekte baba ontlok nie.

‘A pair of trainers’ verwys nie na twee ouens wat aan die stuur staan van ‘n lokomotief op die British Rail nie. Ook nie op die underground nie. ‘Trainers’ is goed wat jy aan jou voete trek wanneer jy, wel, train. Tekkies, met ander woorde. ‘Tacky’, aan die ander kant, verwys nie na ‘n seilskoen nie, maar word gebruik as ‘n byvoeglike naamwoord vir iets wat soetsappig en oordrewe emosioneel is, maar terselfdertyd ook ‘n stewige skeut zef in hom het – soos die Eurovision-liedjiekompetisie, ‘n getroude paartjie wat ooreenstemmende uitrustings dra, of mense wat woorde soos ‘amazeballs’‘fabulicious’ en ‘awesometatious’ gebruik.

Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat dit ooit nodig sal wees, moet jy in elk geval net vir die wis en die onwis nou dádelik ‘n nota aan jouself rig om te verseker dat jy nooit, en ek bedoel nóóit, die Afrikaanse vertaling van die woorde ‘subject and side’, in daardie presiese volgorde, in ‘n openbare plek uiter nie. Dit mag dalk op die oog af heel onskuldig voorkom, maar as jy die frase ‘vak en kant’ tussen ‘n groep mense wat net Engels magtig is wil gebruik, gaan jy jou waaragtig moet staal vir dít wat na jou kant toe gaan kom. En met ‘dít’ bedoel ek nie iets so skadeloos soos ‘n opgehefde wenkbrou of ‘n stiff upper lip nie.

Wanneer jy die dag besluit om jou woonkamer te verfraai met ‘n binnenshuise groenigheidjie, en jou vervolgens na ‘n kwekery wend om die nodige aankope te doen, skram daarvan weg om luidkeels te verkondig dat jy op soek is na ‘n ‘pot plant’. In die Verenigde Koninkryk is dit onwettig om ‘pot plants’ aan te hou, selfs al is jy ‘n Rastafariër. Jou versugting om enetjie van jou eie te besit, mag jou dalk net onder die aandag van Scotland Yard bring, en dít wil jy vermy. Om ‘n versameling varings of viooltjies vir jou voorhuis te bekom, vra maar eerder net vir ‘potted plants’.

Ja-nee, dit gaan dikwels maar broekskeur om onsself te laat geld in hierdie hutspot van veeltaligheid. Maar ten minste kan ons ons daaraan troos dat sommige van ons Lephalale-juweeltjies toenemend ‘n plekkie van hul eie in die Londen-leksikon oopskrop. Soos ‘biltong’. En ‘braai’. En ‘faain in joe?’

*Vars van die boot af

Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

  1. Madé Hugo sê:

    Dit baie geniet. Laat my dink aan my vorige baas, ‘n Geordie van Newcastle, wat altyd vir my gesê het dat as ek uiteindelik eendag in London kom, moeeet ek by’n pub gaan eet en “Fish and chips and moeshie peas bestel”.
    Toe die heuglike dag toe uiteindelik aanbreek, vra ek toe so ewe vir die Ingelsman agter die toonbank vir “moeshie peas”. Hy draai eintlik sy kop so skeef soos hy my aankyk – “You mean Mushy peas”…

    • Fanie sê:

      Hallo Madé! Hahaha! Ja kyk jy moeshie vir ‘moeshie peas’ gevra het nie! Die Ingilse kan hulle soms so upstairs hou, maar Londen raak toenemend ‘n plek waar jy allerhande aksente hoor wat nie eens náástenby soos Engels klink nie. :-)

  2. Cecile sê:

    Jis! Ek wens ek kon die artikel van jou ‘n heelstuk jare gelede gelees het, Fanie – dit kon my groot verleentheid gespaar het –
    Ek het pas ‘n nuwe werk in ‘n nuwe land begin, en my baas se baas – so ‘n elegante, waardige oom vir wie almal lig-geloop het, het gevra dat ek ‘n dokument vir hom opstel.
    So gedaan gaan ek na sy kantoor om te se as hy vir my ‘n stiffie het, dan gee ek sommer nou vir hom die werkie –
    Heel onskuldig en niksvermoedend –
    Toe ek met ‘n ’tissue’ gou wil help met die koffie wat hy in sy skoot laat omval het, sien ek hoe sy oe so wil-wil omdop en hy sommer sittende terugsteier….
    Agterna het hulle my ingelig –

    • Fanie sê:

      Hahahaaaa! Die woorde is nog een ding, maar daardie tissue! Ek wonder net of sy oë wou omdop omdat hy verskrik was, of omdat hy uitgesien het!

Laat 'n boodskap na Fanie Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.