Mohammed: die lewe van die profeet van Islam

10. Muhammad

Die Profeet Mohammed is ‘n sleutelfiguur in die Islamitiese geloof, en sy lewe het die ganse ontwikkeling daarvan beïnvloed. Die eerste van die vyf Pilare van Islam behels immers die verklaring van geloof, en lui: Daar is geen ander god behalwe Allah nie, en Mohammed is die boodskapper van Allah.

Alhoewel Mohammed (wat ‘die geseënde een’ beteken) nie die eerste profeet van Islam was nie, glo Moslems dat hy die finale, volmaakte openbaring van Allah na die mensdom gebring het. Hy word gesien as die perfekte mens, en Moslems probeer sy lewe van diepliggende geloof en goeie dade nadoen. Wanneer ‘n Moslem sy naam sê, word dit opgevolg met die woorde ‘vrede vir hom’, terwyl die feit dat ‘n Moslem nooit ‘n afbeelding van Mohammed sal maak nie, ‘n verdere bewys lewer van die respek en heilige agting wat daar vir Mohammed onder Moslems gekoester word.

Mohammed se vroeë lewe

Mohammed is 1400 jaar gelede (ongeveer 570 N.C.) in Mekka, Arabië, gebore. Sy familie, die Hashimites, was deel van die magtige Kwaraish-stam. Soos baie Arabiere van Mekka, was sy vader, Abdullah bin Al-Muttalib, ‘n professionele handelaar, ‘n paar maande voor Mohammed se geboorte het Abdullah tydens ‘n handelsreis siek geword en gesterf. In pas met tradisie is Mohammed hierna na ‘n vroedvrou, Halima, na die woestyn gestuur sodat hy kon baat by die skoon woestynlug, maar ook om suiwer Arabies te leer praat. Met sy terugkeer na die digbevolkte Mekka het hy slegs ‘n paar jaar saam met sy ma, Amina bint Wahb gehad, voordat sy tydens Mohammed se sewende lewensjaar gesterf het.

Mohammed se oupa, Abdul Al-Muttalib, het hierna na die jong Mohammed omgesien. Abdul was ‘n gesiene man in die samelewing en ‘n belangrike leier in Mekka. Mohammed het sy oupa dikwels vergesel na vergaderings in die skadu van die Ka’ba (‘n geskiedkundige heilige plek en ‘n belangrike baken in die Islamitiese geloof). Tydens hierdie tydperk is Mohammed die eerste keer blootgestel aan geloof, en het dit waarskynlik ‘n groot rol gespeel in sy ontwikkeling as geestelike leier.

Met die afsterwe van sy oupa, is die agtjarige Mohammed in die sorg van sy oom, Abu Talib, geplaas. Talib was ook ‘n handelsreisiger, en alhoewel Mohammed meestal sy oom se skape opgepas het, is dit bekend dat hy sy oom soms op sy handelsreise vergesel het. Tydens hierdie reise het Mohammed se karakter na vore gekom, en is hy die bynaam El-Amin (‘die een wat vertrou kan word’) deur van die ouer handelsreisigers gegee.

In sy vroeë twintigs het Mohammed in diens getree van ‘n ryk weduwee, genaamd Kadija bint Khawalayd. Sy was ook ‘n handelaar. Mohammed was ‘n verkoper van haar goedere, maar die wins wat hy op die verkoop van haar produkte verdien het, het hy nét so aan haar terugbesorg. Kadija was só beïndruk met Mohammed se eerlikheid en onkreukbare karakter dat sy, ten spyte van ‘n vyftienjaar-ouderdomsverskil, Mohammed gevra het om met haar te trou. Hierna het Mohammed steeds na haar besigheidsbelange omgesien, en is ses kinders uit die huwelik gebore. Ten spyte daarvan dat poligamie aan die orde van die dag was, was Mohammed in Kadija se leeftyd nooit met ‘n ander vrou as getroud nie.

Die Arabiese geloof

Mekka was nie alleenlik ‘n suksesvolle handelsentrum nie, maar ook ‘n heilige stad. Die Arabiese stamme het jaarliks ‘n pelgrimstog na Mekka onderneem waartydens talle gode aanbid en aan offers gebring is. Spesiale eer is aan veral drie godinne gebring: Al-Lat – die songodin, Al-Uzza – die godin van Venus, en Manat – die geluksgodin. Allah is ook aanbid en sy naam (wat ‘Die God’ beteken) het daarop gesinspeel dat hy die allerhoogste god was. In die oë van die meeste Arabiere is Allah egter deur talle ander gode oorskadu.

Met die verloop van tyd het Mohammed ‘n monoteïs geword, wat beteken dat hy slegs in een God (Allah) geglo het. Hy het gevolglik die mindere gode en godinne verwerp, en het ook geweier om geeste te aanbid.

Mohammed se roeping tot profeet

Mohammed was ‘n diepsinnige mens, en het dikwels nagte lank in gebed verkeer. Mekka se materialisme en afgodery het hom verafsku, en hy het dikwels alleen na die Hira-grot gegaan, waar hy gemediteer en gevas het.

In sy veertigste lewensjaar het Mohammed een nag ‘n geloofsopenbaring gehad wat sy lewe, sowel as die geskiedenis van die wêreld, onherroepbaar sou verander. Die aartsengel Gabriël het in ‘n visioen aan hom verskyn, en hom beveel om dít wat aan hom gesê word, te resiteer. Hierdie was die eerste van vele sulke visioene wat hy regdeur sy lewe sou kry. Islam se heilige boek, die Koran (wat ‘resitasie’ beteken), is saamgestel uit hierdie visioene wat Mohammed gehad het, en die opening van Hoofstuk 96 bevat die eerste woorde wat aan Mohammed uitgelê is.

Lailat ul Qadr

Mohammed se eerste openbaring het ‘n regstreekse invloed op hedendaagse Islam, deurdat dit jaarliks tydens die Nag van Krag (Lailat ul Qadr) herdenk word. Die meeste Moslems herdenk dit op die nag van 27 Ramadan, wanneer hulle die hele nag in ‘n Moskee deurbring, waar daar gebid en uit die Koran voorgelees word. Moslems glo dat gebede wat op Lailat ul Qadr gemaak word, daardie selfde nag nog verhoor sal word.

Mohammed se vroeë profeetskap in Mekka

Na die eerste verskyning van die engel Gabriël, het Mohammed vreesbevange gewonder of die woorde wat hy gehoor het werklik van Allah afkomstig was, en of hy dalk besig was om te hallusineer. Kadija het hom egter gerusgestel en haar neef Waraqah, wat ‘n Christen was, het hom verseker dat hy wel ‘n boodskapper van Allah was. Baie ander mense wat hom goed geken het, het ook in Mohammed se visioene geglo, insluitende sy beste vriend Abu Bakr. In die eerste paar jaar ná sy eerste visioen het hy sowat 50 volgelinge onder sy familie en vriende gewerf.

Kort hierna het Mohammed in die openbaar begin preek, deur die woorde wat hy van Allah ontvang het, aan vreemdelinge te verkondig. Die kort hoofstukke aan die einde van die Koran is tipies van die vroeë preke van Mohammed. Daarin word afgodery verbied, en word Allah se volgelinge beveel om die Een God te aanbid.

Tydens die daaropvolgende jare het Mohammed se volgelingtal stewig gegroei, maar teenkanting teen sy predikings het ook begin kop uitsteek. In 615 het Mohammed verskeie Moslems na Ethiopië gestuur om sodoende vervolging vry te spring. Op dié manier is sy boodskap versprei na dele buite Arabië.

In daardie jaar het beide Kadija en Mohammed se oom, Abu Talib, gesterf. Alhoewel Talib nie ‘n Moslem was nie, het hy aan Mohammed en sy volgelinge beskerming gebied, en ná sy dood was die vroeë Moslems uitgelewer aan vyandige elemente van ander groepe. Hierdie jaar staan bekend as ‘Die Jaar van Weemoed’.

Isra’ wal Mi’raj

Volgens oorlewering het Mohammed een aand van die Heilige Moskee in Mekka na die Verdere Moskee in Jerusalem gereis. Daar word vertel dat Mohammed hierdie reis op die rug van Buraq, ‘n perd met vlerke, onderneem het en dat hy op pad na Jerusalem in die hemel opgeneem is. Dáár het hy die vroeëre profete ontmoet, en het hy die wet wat bepaal dat daar vyf keer per dag tot Allah gebid moet word, met hom saam teruggebring aarde toe.

Hierdie ‘Nagtelike Reis en Hemelse Vaart’ word elke jaar tydens Isra’ wal Mi’raj op 27 Rajab gevier. Hedendaagse Moslems gebruik hierdie geleentheid om uit die Koran te lees (veral Hoofstuk 17 – Die Nagtelike Reis) en om ekstra gebede aan Allah te opper.

Die Hijrah

Teen 622 het Mohammed se invloed tot by die stad Yathrib, sowat 480 km noord van Mekka, gestrek. Tydens ‘n pelgrimstog na Mekka het ‘n aantal inwoners van Yathrib hulle tot Islam bekeer, en het hulle hul op Mohammed beroep om hulle leier te word. Die hoop was dat hy hulle interne probleme en verskille sou kon oplos.

In hierdie tyd was daar ook ‘n sluipmoordaanval op Mohammed, en het hy gevoel dat dit die wil van Allah was at hy Mekka moes verlaat. Op 16 Julie 622 het hy onder die nag se dekmantel die reis na Yathrib saam met Abu Bakr aangepak. Mohammed het vooraf meer as ‘n honderd Moslem-families na Yathrib gestuur, en nóg meer het hulle vanuit Ethiopië by hom aangesluit. Hierdie was dus die eerste grootskaalse verspreiding van Moslems buite Mekka.

Yathrib is later tot eer van Mohammed na el-Medina (‘Stad van die Profeet’) hernoem.

Muharram 

Die Hijrah was só ‘n belangrike gebeurtenis, dat dit die begin van die Moslemkalender geword het. Islamitiese jare word aangedui met AH (afgelei uit die Latynse anno Hegirae), wat ‘in die jaar van die Hijrah’ beteken. Daarmee het 622 NC dus 1 AH vir Moslems geword.

Muharram is die eerste maand van die Islamitiese kalender, en die 1ste Muharram is dus Nuwejaarsdag. Op dié dag herdenk Moslems die Hijrah, waartydens die lewe en voorbeeld van Mohammed onthou word. Moslems wend hul na ‘n moskee, waar ‘n preek oor Mohammed se lewe, en in die besonder die gebeure van die Hijrah, gelewer word. Net soos Mohammed sy vyande in Mekka agtergelaat het, word Moslems aangemoedig om hul slegte eienskappe agter te laat en beter Moslems te word.

Die tydperk in Medina

Mohammed het nagenoeg die helfte van sy jare as profeet in Medina deurgebring, waar hy hom as ‘n uiters bekwame leier onderskei het. Waar Mohammed in Mekka die basiese boodskap verkondig het dat Allah die enigste god is, en dat hý Allah se boodskapper was, het die Islamitiese geloof tydens sy jare in Medina ‘n merkbare verdieping beleef. Met die totstandkoming van die eerste Islamitiese staat, is die geloof formeel georganiseer, met gedetailleerde instruksies rondom gebed, vasting, seksuele onthouding en pelgrimstogte. Mohammed is dikwels genader vir advies oor die korrekte Moslem-optrede in lewenssfere soos werk, ontspanning en familielewe. Hy het telkens hierdie versoeke met aanhalings uit die Koran, of deur stellings van sy eie beantwoord.

In hierdie tyd was daar steeds vyandighede tussen Medina en Mekka. In 627 is Medina deur die Mekkane beleër, maar Medina het die aanslag oorleef, grootliks danksy die grag wat op Mohammed se bevel rondom die stad gegrawe is. Die Vrede van Hudaybija, wat hierná gesluit is, het bepaal dat Moslems toegelaat sou word om Mekka te besoek tydens pelgrimstogte. Die ooreenkoms is egter deur die Mekkane verbreek, en die Moslems het gevolglik met ‘n leër van 20 000 man teen Mekka opgetrek. Die Moslems het min weerstand ondervind, en die stad is met min lewensverlies ingeneem. Mohammed het sy vyande se lewens gespaar, maar het beveel dat alle afgode verwoes word. Die heilige stad is hierdeur vir Allah teruggewen.

Jihad

 Alhoewel die vroeë Moslems geweier het om hulle vyande aan te val, was bogenoemde ‘militêre’ aksie ‘n keerpunt in hierdie beleidsrigting. Die oorwinning wat behaal is, is gesien as ‘n bewys dat Allah die Moslems goedgesind was. Mohammed het vervolgens verklaar dat dit tóg soms noodsaaklik kon wees vir Moslems om wapens teen hul vyande op te neem.

Alhoewel Mohammed eerbare bedoelings met hierdie stelling gehad het, word dit vandag deur ‘n radikale minderheid binne die Moslemgeloof uitgebuit. Selfmoordbomaanvalle op onskuldige mense word geregverdig deur aan te voer dat Mohammed bepaal het dat dit aanvaarbaar is om Jihad (heilige oorlog) teen die vyande van Allah te voer.

 Die finale pelgrimstog

In Maart 632 het Mohammed sy laaste pelgrimstog na Mekka onderneem, waartydens hy sy Finale Toespraak aan sy mede-pelgrims gelewer het. Hier het Mohammed die vyf essensiële praktyke (ook bekend as die Vyf Pilare) van Islam aan sy volgelinge oorgedra. Die Vyf Pilare is: Shahada (geloof), Salah (gebed), Zakah (die skenking van geld vir goeie sake), Sawm (vasting) en Hajj (pelgrimstog).

Tot vandag toe vorm hierdie Vyf Pilare die raamwerk van ‘n Moslem se lewe. Feitlik alle aksies word aangepak met een van dié pilare in gedagte. ‘n Moslem se lewe word dikwels gemeet aan die nougesetheid en geesdrif waarmee die Vyf Pilare van Islam deur die loop van sy/haar leeftyd aangepak en volbring is.

Die dood van Die Profeet

‘n Paar maande na sy Finale Pelgrimstog, het Mohammed ‘n koors ontwikkel wat hom sy lewe gekos het. Na ‘n gekibbel deur sy volgelinge oor waar hy begrawe moes word, is hy – heel gepas – in Medina begrawe. Sy graf kan tot vandag toe onder die groen koepel van die Moskee van die Profeet gevind word.

Samevatting

Die profeet Mohammed is sinoniem met Islam. Dit was hý wat Allah as enigste god verklaar het, en dit was hý wat die heilige boek van Islam (die Koran) saamgestel het. Die Vyf Pilare van Islam is deur Mohammed aan die Moslems geopenbaar en verskeie Islamitiese heilige dae herdenk gebeurtenisse in sy lewe.

Behalwe vir die konkrete erfenis wat Mohammed aan Moslems en die Islamitiese geloof nagelaat het, was sy lewe ook van só ‘n aard dat dit vandag deur Moslems wêreldwyd nagestreef en as die perfekte voorbeeld van ‘n mens se lewe op aarde beskou word.

Dit is haas onmoontlik om te probeer insien hoe Islam as die tweede grootste geloof in die wêreld sou kon ontwikkel, as dit nie vir die visioene, openbarings, leierskap en voorbeeld van Mohammed (vrede vir hom) was nie.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.