Afrikaner-nasionalisme: die faktore wat tot die ontwikkeling daarvan gelei het

9. Afrikaner-nasionalisme

Die totstandkoming van die ‘gesuiwerde’ Nasionale Party onder leiding van D.F. Malan in 1934 het ‘n nuwe hoofstuk in Afrikaner-nasionalisme ingelui. In die ‘gesuiwerde’ NP het Afrikaners ‘n politieke tuiste gevind waar hul belange ekslusief vooropgestel is, en ‘n bloeitydperk vir Afrikaner-nasionalisme het daardeur die lig gesien. Dié nuutgevonde volkstrots, wat ‘n hoogtepunt bereik het met die NP se oorwinning in die 1948-verkiesing, kan in ‘n groot mate toegeskryf word aan die NP se rassebeleid, wat wyd aanklank gevind het onder Afrikaners. Ander faktore het egter ook ‘n bepalende rol gespeel. Die NP het mildelik gebruik gemaak van die ondersteuning van kulturele organisasies binne die Afrikaner se verwysingsraamwerk, terwyl hy hom ook beywer het vir die ekonomiese opbou en beveiliging van die Afrikaners. Die NP was dus die party wat die Afrikaners verenig het, aangesien hul sosiale, ekonomiese én politieke belange deur die NP gedien is.

Afrikaner-nasionalisme het ‘n sterk verband getoon met die ontwikkeling van die apartheidsbeleid in die 1930’s en 1940’s. Afrikaners se ontgogeling met Smuts se onvermoë om segregasie na hul goedkeuring toe te pas, het hul in die arms van Malan en sy ‘gesuiwerdes’ gejaag. Malan se NP het ‘n veel duideliker rassebeleid verkondig – een van uiterste en totale rassesegregasie op alle vlakke van die samelewing. Hierdie ondubbelsinnige boodskap van blanke meerderwaardigheid het sterk aanklank onder die Afrikaners gevind en was ‘n belangrike politiek faktor wat gelei het tot die versterking van Afrikaner-nasionalisme tussen 1934 en 1948.

Op kultureel-sosiale vlak het die NP die onweifelende ondersteuning gehad van ‘n wye verskeidenheid organisasies. Die Afrikaner Broederbond en sy affiliate, insluitende die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereninge (FAK), sowel as die invloedryke Nasionale Pers, het deel hiervan uitgemaak. Kulturele leiers het die jeug gemobiliseer deur bewegings soos Die Voortrekkers en die Nasionale Studentebond, terwyl dubbelmediumonderwys verseker het dat Afrikanerbelange in skole uitgebou is. Verder het ‘n aantal Afrikaanse boeke die idees van Christelike-nasionalisme en die belangrikheid van Afrikaneridentiteit gepropageer, maar dit was die sogenaamde ‘Tweede Groot Trek’ in 1938 wat Afrikaner-nasionalisme tot ‘n ongekende hoogtepunt gevoer het. Gegewe die Afrikaners se Calvinistiese agtergrond en diepliggende geloof in die Christelike dogma, is dit ook belangrik om daarop te let dat die Afrikaanse kerke, veral die NG Kerk en die Gereformeerde Kerk, teen die 1940’s apartheid onderskryf het en op dié manier bygedra het tot die ontwikkeling van Afrikaner-nasionalisme.

Die 1930’s en 1940’s is gekenmerk deur ‘n eksodus van Afrikaners uit die platteland na die stedelike gebiede. Hier is die Afrikaanse middelklas-stedeling in die besigheidswêreld bedreig deur professionele Engelssprekende Suid-Afrikaners, terwyl die werkersklas-Afrikaners bedreig gevoel het deur die swartes in die arbeidsmark. Die NP het hul beywer vir die beskerming van die belange van die stedelike Afrikaner deur die ontwikkeling van die apartheid-ideologie en daardeur bygedra tot die versterking van Afrikaner-nasionalisme. Dan het die Ekonomiese Volkskongres van 1939 ook gelei tot die aanmoediging van Afrikaners om Afrikaanse finansiële instellings te ondersteun, wat tot die aansienlike uitbreiding van instansies soos Volkskas en Sanlam gelei het. Op dié manier het die ontwikkeling van Afrikaner-nasionalisme dus ook ‘n ekonomiese dimensie gehad.

Die jare 1934-1948 was van kardinale belang vir die ontwikkeling van Afrikaner-nasionalisme. Politieke faktore, insluitende die NP se rassebeleid, het ‘n baie belangrike rol hierin gespeel, maar dit sal ‘n versinsel wees om dit slegs daaraan toe te dig. Ekonomiese faktore, sowel as die ondersteuning van kulturele organisasies het die ‘gesuiwerdes’ die geleentheid gebied om Afrikaner-nasionalisme te ontwikkel tot op ‘n vlak waar dit vir die NP moontlik was om ‘n oorwinning te behaal in die algemene verkiesing van 1948. Hierdie oorwinning was dus nie slegs ‘n NP-oorwinning nie, maar inderdaad ‘n oorwinning vir die florerende nuwe Afrikaner-nasionalisme van die 1930’s en 1940’s.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.