Oor village cricket en ‘n hou teen die pit

2 - krieket

Ah, village cricket. ‘n Bastion van die Engelse somer, en ‘n weeklikse rekreasionele aktiwiteit vir honderde middeljarige mans wat steeds die droom van daardie ewig ontwykende driekuns najaag. En waarom nié jouself in skarlaken tooi en ‘n paar trieks op ‘n stukkie van die shire gaan uithaal nie? Daar is immers áltyd een man en sy hond wat dié petalje gade slaan, en enigiemand hou tog daarvan om hulle ding voor ‘n skare te doen.

Nou kyk, ek is geen Jacques Kallis nie, maar my kolfvermoë is al per geleentheid as ‘kranig’ bestempel. Nie dat ek ‘n danig wafferse seisoen beleef nie. Ek vind die eienaardigste maniere om my paaltjie te verloor, soos die BVP-beslissing nadat die bal my teen die pens getref het, of soos toe ekstra-dekpunt my manjifieke dryfhou in sy kieliebakkie gevang het. Om derhalwe te wil voorgee dat my selfvertroue geen perke ken nie, sal een infame leuen wees.

Maar vandag is dit anders. Ek het vooraf ‘n paar balle in die nette trotseer, en selfs ‘n paar van hulle raakgeslaan. Dis my beurt om te gaan kolf, en windmakerig stap ek deur die veldwerkers na die grasstrook in die middel toe. ‘n Paar weerbarstige kolfblad-grassprietjies word eers gemaak-ongeërg vasgekap, voor ek met ‘n flambojante swiep van die kolf vir middel vra. My slaaibakkie (want mens krap nie in ‘n ander man se slaai nie) word vir oulaas reggeskuif voor ek stelling inneem. Agter die oorkanste paaltjies hou ‘n lenige jongman die cherry in sy hand, en van waar ék staan wil dit lyk of hy my aangluur. Baldadig kom hy ingestorm, en met ‘n oorverdowende Sharapova-kreet stuur hy die aflewering af. Die bal vat grond nét kort van ‘n lengte…

En van hier af gebeur dinge in stadige aksie – soos in The Matrix. Ek leun terug en posisioneer myself vir ‘n enorme haakhou. Voor my geestesoog sien ek reeds die bal sierlik verby regby se kop oor die grenstou trek. My kolf kom perfek deurgeswaai…en…en…en…

En toe ek weer my bewussyn herwin, lê ek met my kop in ‘n plas bloed, met verskeie oppenerende veldwerkers grootoog om my saamgedrom. Na etlike minute kan ek in só ‘n mate fokus dat die walging en afgryse in hulle gesigsuitdrukkings duidelik word. Die realiteit dring stádig tot my deur – die jongman se snelbal het my teen die neusbrug getref. Deur my regteroog kan ek níks sien nie, en my tande dié kan ek nie voel nie.

Langsamerhand kom ek orent, steeds bewerig ná daardie hou teen die kop. En nét toe ek op die punt is om die veld te verlaat, tik die skeidsregter my op die skouer, om my ego die finale nekslag toe te dien. “Just to let you know”, merk hy droogweg op, “you’re out mate – ‘hit wicket’”.  Met dié dat ek my bewussyn verloor het, het ek bo-op die paaltjies te lande gekom – en dít is volgens die Wisden-krieketreëls ontoelaatbaar. Hit wicket. Rêrig? Gee my dan maar eerder ‘n pens-BVP of ‘n kieliebakkie-vangskoot.

Ek draal lank voor ek die moed bymekaarskraap om die skade te ondersoek – deels omdat ek net een oog het om mee te sien. Te oordeel aan die reaksie van my spanmaats moet ek lyk soos die basterkind van Frankenstein en Freddy Krueger. En hulle is reg. Die bloederige pappery wat uit die spieël uit na my staar, trek meer op ‘n Picasso-skildery as op my eie gesig.

Met ‘n sak ys oor die aangetaste dele, verander ek stelselmatig in die olifantman. Die wedstryd loop ten einde, maar ek weet nie wie’t gewen nie. Ek moet my aanrander se blad gaan skud, en ek doen dit sonder om hom in die oë te kyk – nie omdat ek nie wil nie, maar omdat ek hom nie kan sien nie.

‘n Jarelange spanmaat laai my later by die huis af. In ‘n gebaar vol medelye gee hy my ‘n klop op die skouer, en soos ek in die rigting van die voordeur strompel, roep hy vir oulaas agter my aan: “better luck next time mate!

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.