Oor my persoonlike Kamp Staaldraad

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

As adolessent was my tandartsbesoeke blote formaliteite – soomloos en moeitevry. Mý tiener-jeremiades was gesetel in die afwesigheid van my kuite, in die áánwesigheid van my puisies, en in my windmaker-step se halsstarrige weiering om soos Vanilla Ice s’n te gaan lê. My tande, uit ’n ellelange lys van potensiële moontlikhede, was die lááste ding waaroor ek ooit selfbewus sou voel.

Maar ’n jaar of vyf gelede het ek tot die onrusbarende besef gekom dat als nie pluis was met my pêrels nie. My agt-en-twintig staatmakers was ooglopend aan’t verweer, en alle definisie het skrikwekkend vinnig onder my individuele tande begin verdwyn. Ek was met ‘n spoed besig om die eienaar van die tand-weergawe van die monobrow te word.

Met ’n swaar gemoed het ek ’n afspraak by ’n ortodontis gemaak, en die diagnose was verdoemend: ek was inderdáád besig om my eie tande weg te vreet, en sonder professionele ingryping sou ek oor tien jaar geen tande meer oorhê nie. Ja, hulle sou my kon help, was die uitspraak, maar nie alvorens ek ’n langdurige proses sou moes deurmaak om die hoek te verander waarteen my bo- en ondertande op mekaar neerkom nie.

En nou het ek draadjies. En nou het ek draadjies. Ja, ek moes dit twee keer sê, net om die realiteit van hierdie amper ondenkbare feit te beklemtoon. En dis nie sommer net ’n plaatjie met ’n tingerige ou draadjie hier oor die botande langs gespan nie. Dis treinspore. Bo en onder. Met rekkies en al. Wanneer ek praat, klink dit of ek te lank op die wynkar gery het; wanneer ek eet, klink ek soos ’n brandsiek hond wat aan sy Epol verstik, en wanneer ek glimlag, lyk ek soos Buck Rogers se robot, Twiki. Biedie-biedie, ô-ô.

In die proses is my naïewe oortuiging dat draadjies eintlik maar net tandjuweliersware is, wreedaardig verpletter. Dit is nie. Dit kom reguit uit die hel uit. Dit trek en druk en wring my kake dat dit voel of AB sy dryfhoue teen my smoel geoefen het. Om nie eers van die skawery en skrapery teen die binnevleisies van my kieste te praat nie. As dié gekrappery so onbeheers moet voortduur, sal jy eersdaags ’n potlood reg deur my kuiltjies kan steek. In welke geval ‘tong in die kies’ dan seker ‘tong déúr die kies’ sal word.

Maar dis darem nie als ’n geween en ’n gekners van tande nie (see what I did there?). ’n Positiewe uitkoms is dat ek deesdae spog met ’n ingeboude Halloween-kostuum. Ek hoef immers net te glimlag, vir die mees vreesaanjaende gedrog om sy verskyning te maak. Boonop kan ek, danksy die feit dat alles wat ek eet tussen die staalstukkies op my tande gaan nesskrop, nog die volgende oggend aan die vorige aand se biefstuk peusel. En om alles te kroon, voorspel die ortodontis dat die ganse profiel van my gesig uiteindelik anders daar sal uitsien – wat net ’n goeie ding kan wees.

Party mense reken ek is braaf om dié loutering op my ouderdom te trotseer. Braaf? Regtig? Racheltjie de Beer was braaf om voor daai miershoop te gaan lê. Roald Amundsen was braaf om kaalvoet oor Antarktika te loop. Om soos ’n tiener te lyk en soos ’n bejaarde te eet is nie braaf nie. Dis doodgewoon ‘n siek streep wat die noodlot my trek. Maar ek troos my daaraan dat twee van die sewe doodsondes, ydelheid en vraatsug, nie langer deel uitmaak van my daaglikse kwellinge nie.

Wanneer ek eendag my dae in Huis Herfsblaar slyt, sal die 2-jaar lange foltering wat nou soos ’n berg voor my lê, reeds lankal vergete wees (seker ook soos die meeste ander herinneringe aan my lewe). Ek sal dalk nie meer mooi kan hoor of mooi kan sien nie, maar ’n stuk biltong sal steeds vir my ‘baas’ moet sê. Wat ek nou deurgaan is dus ’n belegging in my toekomstige eetgewoontes. En dis hierdie skrapse, byna onsigbare silwer randjie wat my motiveer om die hele petalje…wel…in die tande te vat en maar net…wel…daarmee vas te byt.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.