Oor wegrapings, profete en valse voorspellings

13 oor wegrapings

Dis 21 Mei 2011. Oordeelsdag, as jy die Amerikaanse evangelis Harold Camping en sy Boere-lakei, Johannes Coetzee, kan glo. ‘n Onheilspellende gerammel knip my droomlandkuier kort. My hart wil-wil by my keel uit wip, met my saamgebondelde derms net ‘n kortkoppie agter. Ek verseg om my oë oop te maak en lê gedweë en wag op my onvermydelike reis die ewigheid in. En dan…niks. Met nog ‘n bietjie niks vir ekstra effek. Die gerammel is bloot my hoogswanger vrou wat alweer soos ‘n beer aan’t snork is. My dermprobleem ‘n onbenullige nadraai van gisteraand se tikka masala. Ek vlieg op, TV toe, en op Sky News teem Cameron, die hommelby op helium, steeds lustig uit Downing Street voort oor die dêfisit. Die wêreld het nie vergaan nie.

Camping se groteske liegstorie het my weer laat dink aan ‘n Suid-Afrikaanse waarsêer wie se visioen katastrofiese gevolge gehad het. Ek dink jy dink ek dink aan Siener van Rensburg, maar jy dink verkeerd. Die orakel na wie ek verwys, is die Xhosa-meisie Nongqawuse (jy kan ‘n spogkol kry as jy haar naam reg kan uitspreek). Nongqawuse was maar ‘n adolessente bogsnuiter aan die Oos-Kaap, toe sy in 1856 aangevoer het dat die geeste van drie van haar voorvaders in ‘n visioen aan haar verskyn het. Hulle het haar na bewering meegedeel dat ‘n stormsterkte wind gestuur sou word om al die blanke setlaars (van die Britse variëteit wat in 1820 daar geland het) die see in te waai. Vir dit om te gebeur, moes die Xhosas egter eers al hul vee slag en al hul saailinge verbrand.

In  my opinie moes Nongqawuse se oom, wat ook haar voog was, haar daar en dan ‘n afgedankse loesing gegee het en haar verbied het om ooit weer met Die Krui te eksperimenteer. Maar nee, oom Mhlakaza het instede gedink dis ‘n beter plan om vir hoofman Sarhili ook in te laat op haar absurde toorstorie. Sarhili het sy volgelinge soos ‘n besetene aangemoedig om gehoor te gee aan Nongqawuse se profesie en binne slegs tien maande is al die Xhosa se landerye, sowel as hul graanreserwes, verwoes, en is byna al hul beeste se luilekker grasvreetdae summier beëindig. Nou kyk, ek is geen kenner van negentiende eeuse Xhosa-huweliksreg nie, maar daai klink vir my na lobola vir báie vroue.

Op ‘n ernstiger noot – Nongqawuse se gekke profesie het meegebring dat sowat 80% van die Xhosas in die Oos-Kaap in minder as ‘n jaar aan hongersnood omgekom het. Om dit in konteks te plaas: slegs sowat 15% van die Boerebevolking het in die konsentrasiekampe gesterf. Die ‘Xhosa-beesslagting van 1856-57’ was dus by verre die mees destruktiewe sosio-ekonomiese ramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. En dit omdat ‘n hele volk meegesleur is deur die waansinnige drogbeelde van ‘n kwasi-profeet. Laat dit vir ons ‘n les wees.

Harold Camping, so van die os op die jas, het die nuwe datum vir die wegraping op 21 Oktober vasgestel, en ek kan nie wag nie. Want as sy profesie bewaarheid word, sal ek dalk dán ‘n sitplek op die Northern Line kan kry.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.                 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.