Oor Haar Majesteit se groot ses nul

7 Oor Haar Majesteit

Na regte behoort die tweede van iets nie gevier te word nie. Buzz Aldrin – die twééde man op die maan. Ja, en? Thabo Mbeki – die twééde swart Suid-Afrikaanse president. Wie gee om? Dowwe Dolla – die twééde mees irriterende Afrikaanse ‘kunstenaar’ ooit (na Jurie Els). Gaap.

Maar ‘n diamantjubileum bly darem ‘n hoogs uitsonderlike gebeurtenis, en daarom was dit heeltemal gepas dat die twééde Britse monarg wat dié buitengewone mylpaal kon bereik, se prestasie vereer is met al die prag en praal wat die Britse Ryk kon optower. En die koninklike fanfare hét net mooi álles gehad. ‘n Flottielje wat die Spaanse Armada na net nóg ‘n Saterdag by die Vaaldam laat lyk; feestelike kanonskote wat die gryskoppe in die skare wat destyds die Blitz beleef het, instinktief laat dekking slaan het; ‘n feeskonsert waar die meerderheid kunstenaars, ten spyte van hulle perfekte, skitterwit stelle tande, slegs met behulp van hul looprame die verhoog kon bestyg…

Ja, selfs die weer het saamgespeel om van dié geleentheid ‘n eg Britse skouspel te maak. En waar die koningsgesin hulle in die gietende reën op die dek van die ryklik-versierde koninklike vaartuig, The Spirit of Chartwell, staangemaak het, was Haar Majesteit Koningin Elizabeth II ‘n toonbeeld van Stoïsynse manhaftigheid soos mens dit van die matriarg van die bloubloed adellikes verwag. Die Britte het in die onlangse verlede, danksy The X-factor, ontwikkel in ‘n nasie van snikke en tranedalle, maar daar het sy, ‘n 86-jarige dame, ons almal gewys wat nou eintlik met ‘n stiff upper lip bedoel word. Wuif het sy gewuif (al was dit op haar kenmerkende manier, so asof sy wou sê dat die prosessie maar eintlik net so-so was) en haar oënskynlik ongeërg gehou oor die feit dat die elemente moontlik tot ‘n blaasinfeksie vir haar ietwat eksentrieke eggenoot kon lei.

Nou kyk, om vir sestig jaar op die troon te sit is voorwaar ‘n sonderlinge prestasie. Dit vereis óf ‘n chroniese maagaandoening, óf die vermoë om voortdurend aan te pas by die vereistes van die tyd. En sedert Haar Majesteit in 1952 die leisels by die hakkelende K-k-koning G-g-george oorgeneem het, het sy sweerlik meer gesien as waarop sy ooit sou kon reken – ‘n kroonprins, Charles, wat ‘n beeldskone prinses verruil het vir iemand wat ewe tuis sou lyk in die stalle daar by Horse Guards Parade. ‘n Ander kroonprins, William, wat sommer met ‘n commoner loop trou het. ‘n Land wat uit die Statebond tree net om 30 jaar later weer aansoek om lidmaatskap te doen (kug-kug). En dan praat ek nie eers van haar annus horribilis in 1992 nie (nee, ek verwys nie hier na Prins Philip se voet-in-die-mond-sêgoed nie – dáárvoor moet een ‘n’ in die eerste woord van die bogenoemde Latynse frase weggelaat word).

Die Huis van Windsor moes gedurende die laaste sestig jaar verbete skerm teen ongekende anti-monargistiese houdings onder die burgery, maar danksy die pragmatiese leiding van Haar Majesteit is die aanslae van die republikeinsgesindes telkens afgeweer, en vandag beskou meer as 80% van die Britse bevolking die koningshuis as ‘n welkome noodsaaklikheid. Dié toedrag van sake is in geen geringe mate nie te danke aan Haar Majesteit se onvermoeide, onbaatsugtige pogings om haar land en die Statebond te dien. En terwyl sy die privaatheid van haar persoonlike lewe jaloers bewaak, kon sy tóg daarin slaag om die koningshuis meer oop en toeganklik vir die gepeupel te maak. Te danke hieraan voel elke Brit dat die koninklikes ook aan hom of haar behoort. En daarom is sy vandag, anders as haar grootjie Victoria, die ganse nasie se se gunsteling-oumatjie.

Gun my daarom die geleentheid om as ‘n Frans-Duits-Nederlandse Suid-Afrikaner, met my Britse paspoort in die hand, my hoed met die ander hand te lig en te sê: Congratulations Ma’am, thou truly art an inspiration to thee. Innit.

Hiep-hiep! Hoera! Hiep-hiep! Hoera! Hiep-hiep! Hoera!

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.