Oor dienslewering. En die gebrek daaraan.

5 Oor dienslewering

’n Paar maande gelede het die ondenkbare gebeur. Hier, in misdaadvrye Engeland (kug-kug), het ’n skarminkel by my kar ingebreek. Ek bêre gelukkig nie my Rolex-horlosies, diamantoorbelle en Mont Blanc-penne in my paneelkissie nie, en my totale verliese het uiteindelik neergekom op £1.70 se parkeergeld, en ’n stukkende satnav-stelsel. Vir versekeringsdoeleindes moes dié misdaad egter by die owerhede aangemeld word, en daarom het ek, kort nadat ek die onmiskenbare tekens van ‘n motorinbraak ontdek het, die toepaslike 0800-nommer geskakel.

Die vrouestem aan die ander kant van die lyn was meer as net ’n tikkie besorg. “Vergeet van die skade aan die kar, is jý OK?” het sy met deernis gevra. “Die Metropolitaanse Polisiemag bied gratis traumaberadingsessies vir misdaadslagoffers aan. Kan ek vir jou ‘n afspraak maak vir een só ’n sessie?” wou sy verder weet. Ek het haar verseker dat ek, as ’n Suid-Afrikaner wat daagliks die Netwerk24-webblad bekyk, oor ’n hoër traumadrempel beskik as waaraan sy dalk gewoond is, en ek het haar aanbod derhalwe vriendelik van die hand gewys. Dit het nie geklink of sy my glo nie, en as ’n afskeidswoord het sy my gemaan om tóg maar ’n glas suikerwater te drink.

Twee dae later was daar ’n klop aan my voordeur. By die aanskoue van die uniformbeklede man op my drumpel het al my onlangse sondes voor my verbygeflits. Maar nee, PC James Wilson het net kom aandoen om nogmaals om verskoning te vra dat ek deel moes word van die misdaadstatistieke, en om eerstehands te kom navraag doen oor my welstand ná die trauma wat ek beleef het.

Op ’n ander keer het ek onverwags gas geruik – van die soort wat uit ’n stoof kom, indien jy dalk hond se gedagtes het. Ek was nie uitermate bekommerd nie, maar het in elk geval op die Nasionale Gasnooddiens se knoppie gedruk. Hiérdie keer was die telefoonoperateur op die rand van histerie. Met militêre presisie is ’n rits veiligheidsinstruksies afgerammel – gas tóé, vensters óóp, vlamme wég, meubels weg van die mure, vroue en kinders ontruim…waarna ek kalm ingelig is dat ’n ingenieur binne ’n halfuur by my sou wees. Yeah. Right.

Maar skaars twintig minute later was die gasman reeds in my kombuis doenig. Binne twee ure het hy nie net die gaslekplek opgespoor en herstel nie, maar ook sommer my hele gasstelsel vernuwe deur die stokou boute en moere en pypies en draadjies te vervang. Met sy vertrek het ek my beursie opgediep, maar hy het vol genoegdoening gegrinnik en met ’n waai van die hand beduie dat ’n betaling oorbodig sou wees.

Drie weke gelede verneem ek dat die munisipale rekening vir my eiendompie in Pretoria agterstallig is. Dis ’n lang storie, maar die kruks van die saak is dis nie my skuld nie (so they ALLL say…haha!). Ek is egter meer as bereid om die keiser te gee wat hom toekom…mits die keiser dit net in ontvangs wil neem.

Vir die eerste week het ek elke dag die nommer van die Tshwane Munisipaliteit geskakel, maar ten spyte van wat die koerante sê, blyk niemand daar te veel gepla te wees oor die invordering van agterstallige skuld nie. Jy word deurgeskakel na die ‘regte departement’, om dan vir ’n leeftyd aan te hou voordat die lyn bloot doodgaan, of iemand antwoord en sê dat jy deurgeskakel is na die ‘verkeerde departement’. En dan begin die siklus van voor af. Te wyte aan my hemelhoë telefoonrekening stuur ek nou maar elke dag ’n e-pos getiteld “Ek wil my agterstallige skuld betaal” na die munisipaliteit se kliëntediensadres, maar na twaalf probeerslae is die persoon aan dáái kant van die internet nog grafstil.

Ek probeer hard om my frustrasie te vergelyk met dié van die mense van Kya Sands, Ficksburg, Sannieshof en Orange Farm. Gemeet aan húlle probleme is myne ’n onbenulligheid.  As ek, met behulp van moderne tegnologie, só moet sukkel om geholpe te raak, hoe moet húlle ooit hoop om die burokrasie tot aksie te dwing? Dis maklik om ’n wenkbrou te lig oor gewelddadige diensleweringsprotesaksies, maar soms, net soms, heilig die middele die doel.

Dalk kan die Tshwane Munisipaliteit kom kers opsteek by die Britse Nasionale Gasnooddiens en ’n erns begin maak van die mense wat éintlik hulle salarisse betaal. Wie weet, dalk kan die oorspoel van ’n Arabiese Lente na ’n Suid-Afrikaanse Winter nog voorkom word…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik in 2012 as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.