Oor Die Grootste Afrikaner van Alle Tye. Deel I.

10 Oor die grootste Afrikaner

Ons Afrikaners is nou maar eenmaal berug vir ons onvermoë om oor die mees elementêre sake tot ’n vergelyk te kan kom. Soms is ons twisappels die trivialiteite van die lewe en soms is ons onversoenbaar oor meer gewigtige sake. Soos oor die politiek, of oor kerkaangeleenthede, of oor wie van Joost of Amor nou éintlik die morele hoëgrond kan opeis.

Maar danksy Maroela Media sal ons binnekort saamgesnoer word in ’n eenparige heldeverering vir Die Grootste Afrikaner van Alle Tye, synde dié Afrikaanse internet-kuierplek die afgelope paar maande die dryfveer is agter ’n veldtog om ’n geskikte kandidaat vir dié hoogs vername titel te vind. Via ’n openbare stemproses is honderde aanvanklike nominasies intussen uitgedun tot net tien finaliste, en Die Volk het voorwaar dié stemmery met weergalose ywer aangepak. Tot op hede is ’n duiselingwekkende 12,000 stemme uitgebring, wat vanselfsprekend ’n onbestrede geloofwaardigheid aan die wenner sal verleen. Kug-kug.

Om in die eerste plek ’n maandelange kampanje te loods in die soeke na die grootste Afrikaner van alle tye skyn ’n futiele oefening te wees, sedert álmal tog reeds weet wie dit is. Dis Jimmy Abbott. En met die 200kg waarmee ou Jim die skaal laat kreun, laat hy Louis Luyt en Casper de Vries, sy vernaamste teenstanders, letterlik in sy skadu.

Maar ernstig nou – ek was ietwat ontstig deur die oënskynlik ligsinnige benadering van sommige Afrikaners jeens dié allerbelangrike inisiatief. Die aanvanklike kandidatelys het immers ’n aantal nominasies bevat wat kennelik net vir die grap daar kon wees. Soos Haas Das, Liewe Heksie en Juanita du Plessis.

Maar tóg het heelparty verdienstelike Afrikaner-geeste die kandidatelys gehaal. Dis net jammer dat ‘ons’ nie vir hulle wou stem nie. Oom Beyers Naudé het dit mos dúrf waag om menseregte te bepleit, Anton Rupert het té ryk geword, Chris Barnard het te veel harte gebreek, NP Van Wyk Louw se intimiderende intelligensie het hom sy plek onder die finaliste gekos en hoewel Andries Pretorius die vyandige nerwe by Bloedrivier laat waai het, het hy vier jaar later verseg om die Rooibaadjies by Kongela onder die lood te steek. En dít is onvergeeflik.

En nou is ons finaliste aangewys, met Paul Kruger een van hulle. Dis reg, oom Paul, die ontoegeeflike, aartskonserwatiewe president van die ZAR, wat land-uit is die oomblik toe die koeëls begin vlieg het in ’n oorlog wat hý verklaar het, is ’n finalis. So ook Koos de la Rey, daardie hardekop-bittereinder met sy kinderlike ontsag vir Siener van Rensburg se drogbeelde. Koos de la Rey, wie se dwarstrekkery in 1914 Die Rebellie aangehelp het en uiteindelik indirek tot sy dood gelei het. Ja, Koos de la Rey, met sy oordrewe kontemporêre beeld danksy ’n opstokerige lied van Bok van Blerk, is ’n finalis. Ai. Jai. Jai.

Nou kyk, dis nie my bedoeling om disrespekvol teenoor oom Paul of oom Koos te wees nie. Hulle is albei, as ek nou doodeerlik moet wees, heel geskikte kandidate. Ek is maar net, soos mens in keurige Afrikaans sal sê, ’n bad loser. Want mý kandidaat het nie die paal gehaal nie.

En mý kandidaat was nie sommer enige hierjy nie, hy was ’n man onder manne. Akademies briljant en ’n wêreldberoemde staatsman. ’n Gerespekteerde naturalis en filosoof, sowel as ’n uitsonderlike militêre strateeg. Kortom, ’n visioenêr wat onverdiend in gebreke gebly het om die agting en waardering van sy Afrikaner-tydgenote te verwerf. Iets wat, tot my uiterste teleurstelling en frustrasie, blyk om ook die geval met hedendaagse Afrikaners te wees…

Word vervolg.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.