Oor die dislojaliteit van kontemporêre hanskakies

4 - oor die dislojaliteit

Ek hou nie van Martin Johnson nie. Het nog nooit. Mike Tindall, met sy neus wat so op sy wang kuier, gee my die horries, en Chris Ashton laat my telkens ‘n klein bietjie in my mond opgooi. Ek kan nie wág vir die dag wanneer sy swaeltjieduikslag gaan lei tot ‘n komieklike aanslaan aan doerie kant van die doellyn nie. Maar soos enigeen wat al die Bokke op Twickenham ondersteun het sal kan beaam, is dit die deursnee Engeland-ondersteuner wat die grootste doring in my vlees is. Beterweterig, verwaand, aanmatigend en met ‘n selfingenome, dog verwronge dunk van die kwaliteit en relevansie van die span wat hulle ondersteun.

Ek was egter verbaas, en om eerlik te wees, érg geïrriteerd, met die Twitter-tirades en die Facebook-fiksasies waarmee die Rose se nederlaag in die Wêreldbekerkwarteindstryd, teen die Hane, begroet is deur Suid-Afrikaners wat hul hier ter plaatse bevind. Van die opmerkings het my laat sidder, welwetende dat ek Maandagoggend deur my Engelse kollegas daarmee geassosieer sal word, bloot vanweë die feit dat ek óók ‘n Suid-Afrikaner is.

Ek kan dit eerlikwaar nie kleinkry nie. Jy het jou hier kom vestig, om welke rede ookal. Dié land móét jou goed behandel, want as die teenoorgestelde waar was, sou jy sekerlik lankal reeds jou weg terug na die Republiek gevind het. Waarom dan die intense lekkerkry wanneer jou gasheerland se rugbyspan aan die agterspeen suig?

Ek is onlangs weer herinner aan die Spitting Image-skets getiteld ‘I’ve never met a nice South African’. Gaan kyk dit bietjie op Youtube. Jy sal dalk skrik as jy sien wat die algemene konsensus gedurende die 1980’s oor Suid-Afrikaners was. Sedert ek op die Moddereiland geland het, het ek (en die meeste ander Suid-Afrikaners wat ek ken) doelbewus gepoog om my deeltjie te doen om daardie beeld van ons te probeer poets, want soos Jeanne Goosen gesê het: ons is nie almal so nie…net vir ‘n paar heethoofdige paloekas om ons naam nogmaals deur die modder te sleep. Ai tog.

Ek wonder wat die rasionaal agter hierdie verskynsel kan wees. Ek het al, voor groot Springbok-Engeland-wedstryde, emosiebelaaide e-posse ontvang met die Boereoorlog as die sentrale tema, en ‘ons sal nooit vergeet nie’ as ‘n voetnota. Die ironie is dat die aanstuurders van sulke e-posse waarskynlik voor in die koor staan wanneer ons Suid-Afrikaanse landgenote beveel word om nou asseblief tog net van apartheid te vergeet, siende dat dit al 20 jaar gelede afgeskaf is.

Ek wil egter tóg glo dat hierdie gifspoegery toegeskryf kan word aan eenvoudige, ouskool draakstekery – wat heeltemal in die haak is. Maar los dan ‘n post-it nota op jou kollega se rekenaarskerm, of korswel daaroor met jou Engelse pel in die pub, maar moet dit asseblief nié doen op ‘n openbare forum waar jy inherent as segsman vir alle Britse Suid-Afrikaners optree nie.

Ek is weliswaar nie ‘n kenner van die Boeddha se leerstellings nie, maar ek ken van karma. En ná al die leedvermakerigheid Saterdag, het Karma toe jou werklik Sondag haar sluwe weerwraak oor ons kom uitstrooi – in die vreesaanjaende vorm van ene Bryce Lawrence…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.