Oor die blou obsessie van ‘n tjokkertjie

3 Oor die blou obesessie

Ek onthou dit nog soos gister, al was dit meer as dertig jaar gelede. Dit was ‘n deurgangsrite, soos om gedoop of aangeneem te word – ‘n openbaring wat my lewe onherroeplik sou verander. Dit was die plastiekstoele. Die lowergroen gras. Die witgekalkte lyne. Die geesdriftige gedruis onder die skare vooraf. Die ligblou H-vormige staalstrukture. Die energie. Die ritme. Die 15 spelers in hemelsblou. Die drieë. Die oorverdowende gejuig. Dit áls het gemaak dat ek met my eerste besoek aan Loftus my hart sonder voorbehoud aan die Bulle gegee het.

Hierdie eerste betowerende kennismaking met die heiligdom van die Jakarandastad het ‘n onstuitbare obsessie in my aangewakker. Ek en my pa het ons élke Saterdag van élke winter op die hoofpawiljoen bevind. Daar rég langs die tonnel, waar mens die Deep Heat kon ruik. Of dit nou Noord-Transvaal teen Stellaland, Tukkies teen Adelaars, of die Springbokke teen die Kavaliers was. Curriebeker, Lionbeker, Carltonbeker. Maak nie saak nie – ons was daar. En soms, op ‘n weeksaand, het ons selfs die oefeninge gaan gade slaan, waar Naas Botha eenkeer oor my kuif gevryf het, en ek myself terstond ‘n klein bietjie natgepiepie het.

My obsessie is ook nie langs die veld laat staan nie. O nee. By die huis was daar lêers, stampvol met wedstrydprogramme, sowel as hordes plakboeke vol uitknipsels van my helde. Heinrich Rodgers, Uli Schimdt, Jan Lock, Louis Moolman, Adolf Malan, Burger Geldenhuys, Johann Lamprecht, Pote Fourie, Robert du Preez, Naas, JJ van der Walt, Christo Spangenberg, Giepie Nel, Deon Oosthuysen, Johan Heunis. Mánne onder mans. Jy kon my enigiets oor hulle vra. Lengte, gewig, aantal wedstryde gespeel, huwelikstatus, beroep, gunsteling gereg…ag, noem maar op.

Dáárdie was die dae voor televisieskeidsregters, Bulls-babes, rooikaarte, uitwysings, korporatiewe borgskappe, handelsmerkbeskermde oefentruie en ‘n dak bo-oor die Oospawiljoen. In dáái dae het ‘n span 15 spelers gehad, met twee of drie reserwes wat reeds ‘n wedstryd agter die blad had. Almal was amateurs met regte werke. As die manne mekaar ‘gegroet’ het, is hulle na die koelkas agter die pale toe gestuur, en as die ref dit sou waag om teen die blou span te blaas, het die nartjies meedoënloos op hom neergereën. Dit was rugby soos wat die liewe Heer vir dit bedoel het om te wees.

Daar is te veel wonderlike herinneringe in my brein geëts om hier breedvoerig oor uit te wei, maar as ek een móét uitsonder, sal dit 1987 se Curriebekerfinaal teen Jannie Breedt se Transvaalspan wees. Die wedstryd is in aaklige weerstoestande beslis en teen halftyd, ná twee drieë deur die Rooibontes, was die skrif so te sê aan die muur…behalwe dat niemand vir Naas daarvan gesê het nie. In die gietende reën het hy vier strafdoele en vier skepdoele deur die pale gejaag, en uiteindelik ál die Bulle se punte in die 24-18 oorwinning aangeteken. Sannie Breedt was in trane, en ek was in ekstase.

Verlede Saterdag het my Bulle oor die laaste hekkie gestruikel. Die Cheetahs was uitmuntend en gelukwense aan dié span en hulle ondersteuners is in orde, want dié oorwinning het hulle dubbel en dwars verdien. Dit was ‘n bitter pil om te sluk, maar ek aanvaar dit met grasie, want die magtige Blou Bul sal weer herrys – soos soveel kere van tevore. Dit bly my span. Dit bly my trots. Ek bly ‘n Bul.

28 Oktober 2016

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.