Oor ’n voorneme vir die nuwe jaar

5 Oor 'n voorneme

Vyf…vier…drie…twee…een…hêppie-hêppie!

En nét so, voor ek my kom kry, was dit weer dáái tyd van die jaar. Tyd om idealistiese, onbesonne beloftes aan myself te maak. Beloftes wat ’n beter weergawe van myself in die vooruitsig stel, maar wat slegs in rare gevalle die daeraad van Februarie sal sien. Maar ’n nuwe jaar sonder voornemens is soos Vinkel sonder Koljander. Soos Hansie sonder Grietjie. Soos Mossie sonder Baas. En daarom sou dit ondenkbaar wees om nie maar nógmaals deur hierdie futiele oefening te gaan nie.

Om vorendag te kom met voornemens vir ’n jaar wat ’n ‘13’ bevat, behoort natuurlik niemand se kreatiewe souse uit te put nie: jy vermy eenvoudig swart katte, loop wye draaie om lere wat teen mure aangeleun staan, behandel spieëls met ’n heilige ontsag en weerhou jouself om sambrele binnenshuis oop te maak. Dís natuurlik te sê as jy enigsins erg het aan die tokkelossie, die tandemuis, ’n eerbare ANC-minister of enige ander bisarre bygelowigheid. Maar helaas, ’n geloof in ouvroustories is nie my ding nie.

Ék was opsoek na ’n konkrete voorneme wat in die realiteitsfeer kan afspeel. Iets wat sowel uitdagend as haalbaar is. Soos om Kilimandjaro te gaan klim? Nee wat, dis te ver. Die Londen Marathon kaf te draf? Te naby. Gesond te begin eet? Te duur. Porseleinteekoppies te begin versamel? Te belaglik. Elke dag iemand op die moltrein te groet? Te gevaarlik. En só is die een na die ander potensiële nuwejaarsvoorneme gewigtig oorweeg en heroorweeg, maar telkens ongeskik bevind…totdat ek my eureka-oomblik gehad het.

Maar natuurlik! My pet hates! Dáár is nou iets wat skaafwerk kort. Want dis mos hoeka die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

Soos bestuurders wat agteruit in parkeerplekke intrek. Ai-ai-ai. Wat kan tog logies dááraan wees? Wanneer mens ’n parkeerplek betrek, móét jy immers een keer vorentoe en een keer agteruit ry. Waarom dan die lewe vir jouself (én vir die wagtende drommel in die motor agter jou) bemoeilik deur jou K53-parkeertoertjies in ’n publieke parkade uit te stal? Jis, dit irritéér my!

Selfde met onbedagsame voetgangers. Jy weet, die soort wat met hul aankoms by die voetoorgang summier die knoppie druk, om eers daarná rond te begin kyk en op te merk dat daar geen aankomende verkeer is nie. Doodluiters vind hul dan hul weg oor die pad en 30 sekondes later staan tien motoriste na weerskante toe by ’n rooi lig en staar na ’n dolleë voetoorgang. Jis, dit irritéér my!

En dan is daar my pet hate wat net wag vir ’n besoek aan ’n openbare ablusiegerief om (letterlik) sý kop uit te steek. Daar sal vyf vakante witlelies wees, en ek sal die een in die hoek gaan beset. Kort voor lank sal ’n half-beskonke javel sy verskyning maak, drie vakante witlelies met méning ignoreer en by die een lángs myne kom stelling inneem. En só staan ons tweetjies dan knus en elmboë skuur terwyl ons gehoor gee aan die natuur se roepstem. Jis, dit irritéér my!

Dis dus duidelik wat die goue draad is wat deur my pet hates loop: ánder mense se sotlike indiskresies wat mý lewe onnodiglik versuur. En in 2013 gaan dit einde kry. Wanneer ek vir die parkade-hanswors moet wag, sal ek die woorde van Nkosi Sikilel’ iAfrika repeteer. By ’n leë voetoorgang sal ek die vermenigvuldigingstafels vir myself opsê. En wanneer my persoonlike ruimte by ’n witlelie binnegedring word, sal ek my seëninge tel en dankbaar wees dat dit nie ék is wat binnekort die latrine met ’n minderwaardigheidskompleks gaan verlaat nie.

So ja, Kilimandjaro gaan hierdie jaar ongeklim, en my gim-kaart onderbenut bly. My vrieskas gaan van roomys oorloop en ek sal nie vir ’n oomblik vir ’n döner-kebab terugdeins nie. Want ten spyte van ’n gebrek aan oefening, sal my bloeddruk in 2013 in bedwang bly deurdat ek maar net onwrikbaar by my nuwejaarsvoorneme bly. En volgende jaar? Ja wel, volgende jaar sal ek seker werk moet maak van mý sotlike indiskresies wat ánder mense se lewens onnodiglik versuur…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.