Oor ruff boyz, riots en ‘n splinternuwe jaar

4 Oor ruff boys medium

Alle goeie dinge kom tot ’n einde, insluitende ’n oënskynlik nimmereindigende 6-week somervakansie. Ses weke? Ja, ses weke. Want ek’s ’n onderwyser, ek’s ’n bowyser, ek’s ’n onderstebowyser. En ek is dit werd…net soos Patricia Lewis haar L’Oréal werd is.

Soos enige leerkrag jou sal meedeel, is skoolhou sonder twyfel uitdagend, maar terselfdertyd ook hoogs bevredigend. ’n Aantal faktore dra egter daartoe by dat mý dag-tot-dag-bedrywighede grootliks resorteer onder die ‘uitdagend’-hofie. Dis ’n hoërskool, vir een, en ’n seunskool op die koop toe, maar die belangrikste faktor is dat Brixton en Peckham ons voerareas is. Dus: I is in wiff da ruff boyz, innit.

Ek het vermoed dat ons getalle aansienlik uitgedun sou wees na die onlangse alternatiewe London summer sales (die riots, jy weet), maar die hoop het beskaam. Hulle was almal daar op die eerste dag, uitgevat in hulle nuwe trainers en hoodies, wat natuurlik met hulle hoogsbesoldigde ouers se swaarverdiende salarisse aangekoop is. Kug-kug.

Nou kyk, om ’n spul uitgevrete adolessente sover te kry om jou instruksies sonder teëstribbeling uit te voer, sit nie in enige mlungu se broek nie. Dít kan ek jou verseker. Met die verloop van tyd het ek egter ’n paar kunsies bemeester wat my daaglikse wroeging so effentjies meer draaglik maak. So, byvoorbeeld, is dit ’n bak plan om ’n les te begin met ’n frase uit die kletsrymkas van Snoop Dog, Jay-Z of 50 Cent. Wanneer Fiddy se varkbakkies op die Smartboard verskyn, begin elke afro in die klas ritmies knik op die maat van ’n denkbeeldige weergawe van In Da Club, en siedaar! Hulle aandag is myne.

Soos baie onderwysers besit ek ook ’n gunsteling-onderrighulpmiddel waarmee ek wondere verrig. Ek verseg botweg om my stem te verhef, maar soms is dit tóg nodig om die swerkaters voor my met ’n tsoenami van klank te intimideer en hulle só te oorreed om te bedaar en hulle werk te doen. En vir dié doel werk niks beter as my getroue ou megafoon nie. Die wonder van die tegnologie darem maar.

Die skool se Senior Leadership Team het ook húlle gewig agter die tegnologiese revolusie ingegooi en tydens die vakansie spandabelrig tekere gegaan deur ’n uitgebreide netwerk kringtelevisiekameras in al die gange te installeer. In hoë definisie nogal. Die enigste jammerte is dat die dae van ontruimings aan die hand van ’n brandalarm wat valslik geaktiveer is, heel moontlik nou vir altyd verby is.

Maar die glas is halfvol, want om in ’n skool soos myne jou nering te beoefen, het darem ook sy voordele. Waar anders sou ek kon leer dat ‘wagwan bruv, yr moist n butterz bah u shud cum 2 da big-up round ma endz 2nite’ in sommige jongmense se koppe gelykstaande is aan die Queen se Engels? Queen Latifa, weliswaar, maar ’n queen nietemin, d’ya know wha I mean, yeah?

Die edele beroep? Baie beslis! Ek leer hulle immers daagliks om in hulle vroomste stemmetjies te sê: ‘onskuldig, u edele’.

So dink vandag aan my waar jy knus by jou werkplek sit en jou verknies omdat die boeke nie wil klop nie. ’n Wankelrige balansstaat versus ’n besimpelde tiener? Sien jy nou, daar’s áltyd iets om voor dankbaar te wees.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ’n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.