Oor Ôfrikôners, Ôfrikônertjies en ‘n blink nuwe plan

2 Oor ofrikaners

As daar nou een ding is wat my ratte laat krap, is dit expat-Afrikaners wat met gewyde hovaardigheid verklaar: ‘ôg viskôn my, môr my Ôfrikôns is nie mee sô goed nie’. Niemand verwag van expats om taalpuriste te wees nie, maar vir iemand om sy eerste taal binne die bestek van ‘n halfdosyn jare te verleer, moet só ‘n persoon óf in ‘n gekrokte Japannese kernkragsentrale vasgekeer wees, óf hy moes op ‘n ander bedenklike wyse ‘n akute breinbesering opgedoen het. Selfs die Benoni-polonie, Charlize Theron, besig Die Taal dan nog in sy perfekte vorm. En dit na amper ‘n leeftyd in die Styts.

En dan is daar die telge van die Ôfrikôners. Soos die opgeskote mannetjie wat voor my in die ry by die SA Gemeente se Dankfees gestaan het, en met egte kinderlike onskuld gevra het: ‘hallo, kan ek asseblief ‘n Creme Soda hê?’. ‘Ja’, het ek nogal gedink, ‘saam met ‘n bossie bene, in die vorm van my gebalde vuis, teen jou neusbrug’.

Dis natuurlik net ‘n grappie. Ek is nie gewelddadig nie en ek sal nooit my gebalde vuis op daardie manier inspan nie. En buitendien, dit staan elkeen tog vry om te praat soos hy wil en om sy kinders groot te maak soos hy wil.

Waaroor ek wel ernstig is, is dat ék Afrikaans is en dat dit my hart se wens is dat my splinternuwe babaseun eendag met my in Afrikaans sal kan kommunikeer. Die pratery behoort sekerlik nie ‘n té onbegonne taak te wees nie, maar dis sy toekomstige skryfvaardighede wat my nagmerries gee. Nagmerries waarin die japsnoet e-posse rig aan ‘Leavuh Ohmah en Ohpah’ en waarin hy geen onderskeid tref tussen ‘n ronde ‘ui’ en ‘n lang ‘y’ nie.

‘n Wakkerlêsessie na een só ‘n nagmerrie het die besef by my tuisgebring dat ek sélf verantwoordelikheid gaan moet neem vir die ontwikkeling van my kind se Afrikaanse skryfvaardighede, want mrs. Smith by die London Primary School gaan dit beslis nié doen nie. Hierdie (rare) pligsbesef het gelei tot die plant van ‘n saadjie. Die saadjie het ontkiem en ‘n projekkie geword en die projekkie het ‘n (amper voltooide) webblad geword. ‘n Webblad? Wel, ja, want ek kan sekerlik nie die enigste expat-Afrikaner ter wêreld wees was met hierdie tameletjie worstel nie?

In ‘n neutedop kom dit hierop neer: jy registreer vir een, of meer, van die sewe grade van die laerskoolkurrikulum vir Afrikaans, soos dit tans in Suid-Afrika onderrig word. Teen ‘n nominale fooi word jy in staat gestel om werkkaarte, wat deur ‘n onderwyskundige ontwikkel is, in PDF-formaat van die webblad af te laai en op jou hardeskyf te stoor. Die werkkaarte sluit taalleer, stelwerk en prosa en poësie in. Tydens vakansies, of wanneer jou kind sy dag-tot-dag huiswerk doen, glip jy een van die werkkaarte tussen Science en Geography in en op dié manier ontwikkel jy straks ‘n hedendaagse André P. Brink of Antjie Krog. En selfs al is die eindresultaat nie heeltemal só fantasties nie, sal klein Jannie ten minste eendag kan saamgesels oor Die Uile, Trompie, Keurboslaan en Staal Burger.

Indien hierdie projek jou belangstelling prikkel, of indien jy iemand ken wat moontlik daarby kan baat vind, stuur ‘n e-pos na faniemerwe@hotmail.com. Die webblad is weliswaar nog onder konstruksie, maar dit sal wonderlik wees om soveel as moontlik menings in te win, selfs al dink jy dis die belaglikste idee waarvan jy nog ooit gehoor het en dat dit nooit sal werk nie. Wel, om die waarheid te sê, verál dan!

Moet my asseblief net nie kontak om enige ander, meer sinistere redes nie. My voorraad Viagra lyk nog goed en ek is reeds besig om mnr. Oyedele van Nigerië van hulp te wees om ‘n groot bedrag geld na Engeland te verskuif.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.