Oor ‘bly blank my volk’ en ‘n skip wat reeds geseil het

3 bly blank

Is jou van Ackerman, Alberts, Badenhorst, Basson, Bester, Bezuidenhout, Boshoff, Botha, Brand, Brink, Britz, Buys, Claassen, Coetzee, Combrink, De Bruyn, De Jager, De Klerk, De Vries, Du Plooy, Du Preez, Eksteen, Erasmus, Esterhuysen, Fouché, Gerber, Geyer, Goosen, Gouws, Hertzog, Heyns, Hugo, Human, Jacobs, Jansen, Kemp, Kleynhans, Klopper, Kok, Kotzé, Kruger, Landman, Lombaard, Lotter, Lourens, Maartens, Meyer, Mosterd, Mulder, Muller, Oberholzer, Odendaal, Oosthuyzen, Pieterse, Pretorius, Roelofse, Scheepers, Scholtz, Serfontein, Slabbert, Smit, Smuts, Steenkamp, Swart, Van Deventer, Van der Merwe, Van der Westhuizen, Van Dyk, Van Graan, Van Tonder, Van Wyk, Van Zyl, Vermaak, Vermeulen, Visagie, Visser, Volschenk, Vos, Vosloo, Wentzel, Wepener, Wessels of Zaayman?

Indien dit is, het ek nuus vir jou. Nie goeie nuus nie, nie slegte nuus nie, net nuus. Nougesette navorsing deur prof. JA Heese het aan die lig gebring dat al die bogenoemde Afrikaner-families afstammelinge is van blanke mans wat met swart of Khoi-vroue getroud was. Hy beraam verder dat die tipiese Afrikaner ten minste 7,2 persent ‘nie-wit’ bloed in sy/haar are het.

So hoe sal ‘n ‘tipiese’ Afrikaner soos ek nou op hierdie brokkie inligting reageer? Sal ek my op die daad na kalahari.net wend en die klankbaan van Tsotsi aanskaf, en terwyl ek aanlyn is sommer ook by Google aandoen en my vergewis van die beuselagtighede rondom die loopbane van Mdu, Aba Shante, TKZee en die ander konings van kwaito? Sal ek my landgenote voor die voet begin groet met ‘n uitbundige ‘heita’ en my goedkeuring met enigiets met ‘n luidkeelse ‘sharp’ te kenne gee? Sal ek by voorbaat vir my babaseun ‘n plekkie in ‘n inisiasieskool reserveer, of ten minste solank ‘n bees of drie aanskaf waarmee ek eendag sy lobola sal kan betaal? Of sal ek dit maar erken en aanvaar dat KFC my gunsteling gemorskosrestaurant is en dat dit altyd so sal wees?

Dalk kan ek ambisies begin koester oor ‘n nuwe loopbaan as tenderpreneur, of sommer my droom om vir die Proteas aan te tree ook uit die dood laat herrys. Ek kwalifiseer mos nou as ‘n kwotaspeler en ons anderskleuriges is juis tans bitterlik onderverteenwoordig in dié span.

Ek sal stellig ‘n groter sensitiwiteit rondom voorvaderaanbidding moet aankweek en beslis ‘n wag voor my mond moet plaas sou die versoeking om iemand anders se ma se anatomie te beswadder my die dag beetpak, siende dat ons familiestambome straks by dieselfde ooroumagrootjie hul oorsprong het.

Miskien moet ek my voortande trek sodat ek met my passion gap kan gaan spog by my lanies. Of dalk sal ek inskryf vir volgende jaar se Kaapse Klopse, ‘n ywerige leser van Die Son word en, les bes, die All Blacks begin ondersteun. Vestaa’ djy?

Ag wat, ek weet nie eintlik wat om van prof. Heese se bevindings te maak nie. Ek is nie eers amper slim genoeg om te begin filosofeer oor die rimpeleffek wat dit op Afrikaners se kollektiewe selfkonsep behoort te hê nie. Wat ek wel weet, is dat ek effens bedrieg voel, want ‘bly blank my volk’ is ooglopend ‘n skip wat lánkal geseil het.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verksyn.    

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.