Oor wonderlike woelwaterwandelings

10 Oor wonderlike woelwaterwandelinge

Toe hy nog ’n pap baba-bondeltjie was, was daar nie veel wat ek aan sy saligheid kon doen nie. Ek kon eintlik maar net droom. Droom oor die dag wanneer sy eksklusiewe belangstelling in sy ma so effens sou vervaag en hy van my ook notisie sou begin neem. Voor my geestesoog kon ek al sien hoe ek my vadersrol vertolk deur hom met die grootste geduld in die weë van die wêreld te onderrig. En vandag, anderhalf dosyn vermaandsdae later, is dit nie meer nét my verbeelding wat met my op loop gaan nie.

Ja kyk, die klein mannetjie onder ons dak het die loopding nou mooi onder die knie, of meer korrek, onder die voet. En as daar geloop kán word, sal daar geloop móét word. Elke liewe dag. Ons ononderhandelbare daaglikse wandelinge vorm weliswaar die kern van ons pa-en-seunverhouding, maar dit vereis waaragtig geduld waarop Job trots sou wees.

Dit neem gewoonlik ’n handvol probeerslae net om verder as die voordeur se drumpel te vorder: uit by die deur, terug in die huis in, uit by die deur, terug in die huis in. Vervolgens word daar langsaam met die tuinpaadjie langs gedrentel, waartydens élke insekkie en élke blommetjie met intense konsentrasie bestudeer word. Maar ten minste vergoed die persentjies wat met reëlmaat in my hand gestop word, ten volle vir hierdie langdradige ritueel. Al is dit net ’n klontjie modder of ’n dooie mier.

Ons daaglikse wandelinge het my twee belangrike gewaarwordinge laat maak. Een: my peuter ly aan ‘n akute gebrek aan vreemdelingevrees. En twee: die gesigsuitdrukkings van diégene wat hy tromp-op loop, is iets om te aanskou. Want dit maak nie saak wie of wat jy is nie, wanneer ’n amper-tweejarige op ’n geselsie aandring, dan geséls jy. Kláár.

Dis hoogs amuserend om te sien hoeveel moeite ’n vreemdeling sal doen, of ten minste sal voorgee om te doen, om sin te probeer maak uit sy onverstaanbare gebrabbel. Want sien, ’n babbelende baba word mos soos ’n geestesversteurde behandel: met genoegsame respek, maar met ’n senuweeagtige laggie en ’n agterdogtige kyk in die oë. En wanneer hy eers met ’n woeste geswaai van daai mollige armpies na denkbeeldige voorwerpe in die lugruim begin beduie, is dit te kostelik om te sien hoe die grootmens neffens hom vervaard begin soek na iets wat nie daar is nie. Apies kyk inderdaad vir peanuts.

Maar anders as wat die agbare minister Lulu Xingwana beweer, word nie álle Afrikanerseuns eng Calvinisties grootgemaak nie. Sommige van ons glo dat kinders beide gesien én gehoor moet word, en daarom weier ek om verskoning te maak vir sy voortvarendheid. Ek moedig hom inteendeel áán om vir verbygaande motors te waai, om vreemdelinge se hondjies te vryf en om sommer uit die bloute uit vir onbekende mense soentjies te blaas.

In die harwar van die lewe is dit goed om soms stil te staan en die wêreld deur die oë van ’n peuter te beskou. Om die klein goedjies, soos ’n slak in ’n voetpaadjie, van nuuts af in oënskou te neem. Of om ’n vreemdeling onvoorwaardelik te vertrou. Ek, met my sogenaamde ‘lewensondervinding’, en my edele voornemens om my kind in die weë van die wêreld te onderrig, vind toenemend dat dit hý is wat mý opnuut van die werklik betekenisvolle dinge in die lewe leer.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.