Oor soetgoed en suurgoed wat voortspruit uit babagoed

6 Oor soetgoed en suurgoed

Sleutel die woorde ‘tips for parents’ in Google se soekspasie in, en ’n duiselingwekkende 311 miljoen resultate spring uit die kuberruim na jou toe uit. Wat nogal intimiderend is. Doen dieselfde op Amazon se webblad, en ‘n relatief meer verteerbare 1,976 boeke maak daarop aanspraak om die gesaghebbendste gids vir suksesvolle ouerskap te wees. Toegegee, ek het nie jare se ondervinding met dié tipe ding nie, maar sover dit my betref kan al dié inligtingsbronne se raad (en raat) in een goue reël saamgevat word: ‘vat die soet saam met die suur’.

Sedert Ben sy opwagting agt maande gelede gemaak het was ek gelukkig genoeg om hoofsaaklik die soet van bogenoemde lewenswysheid te kon smaak. By Tesco maak ek van die lekker breë ‘with child’-parkeerruimtes gebruik, en by die huis het ek deurgaans iemand om valslik vir my flatulensie te blameer.

Boonop is ek, sonder my aanvanklike medewete, ingesweer by die ekslusiewe NPK (Nuwe Pa’s Klub), en dáárvan is die voordele legio. As lid van die NPK is ek geregtig op ‘n betekenisvolle kopknik en ’n skalkse glimlag sou ek ‘n mede-lid in ‘n publieke plek raakloop – selfs al sou dié lid ‘n vreemdeling wees. Dit waarborg ook dat ek na ander babas mag kyk, en selfs vir hulle mag glimlag, sonder om as ’n weirdo of ’n paedo gebrandmerk te word. Daarbenewens gee dit aan nuwe ouers van die teenoorgestelde geslag die vrymoedigheid om hulle bevallings in die fynste, mees intieme detail met my te bespreek. Van die tempo waarteen hulle ontsluit het, tot by die proses waardeur hulle water gebreek het. Níks is ooit buite perke nie, “want jy is ook mos ’n pa”.

Dan het ’n wêreld van nuwe konsepte ook voor my oopgemaak. Minder as ’n jaar gelede sou ek jou met ’n vraende uitdrukking aangestaar het indien jy een van die volgende sou ophaal: Jungle Juice,  krampwater, Ella’s Kitchen, amber beads, Mothercare, Calpol, bottel-sterilisasie, Baby TV, Sudocrem, muslin square, white noise, weaning…en vandag kan ek ’n handleiding daaroor skryf.

Van die suur het ek egter ook al geproe. Doeke is duur, en Ben trek dit in elk geval net deur sy dinges. Danksy ontelbare slapelose nagte het die kringe onder my oë aan my die bynaam ‘Die Panda’ besorg, en boonop verkeer ek onder dwang om my wankelrige sangstem in te span om kinderliedjies mee te verrinneweer. Ek was ook verplig om, teen my wil, ’n bewese kenner te word van die impak van die stadia tussen vlak slaap en diep slaap (tóg interessant hoe ‘vlak slaap’ ’n anagram is van ‘Vlakplaas’ – en almal weet hoe dinge dáár uitgedraai het). Dan kan ek ons rommel ook nie meer solank die aand voordat die vullistrok verbykom uitsit nie, want die vosse in ons buurt beskou ’n vuil doek as ’n smulhappie, en hulle verskeur gevolglik enige swartsak wat dáárdie onmiskenbare geurtjie dra.

My rol as nuwe pa het my ook genoop om vir Ben ’n reeks veeldoelige speelgoed te koop, soos ’n splinternuwe rekenaar en ’n Bosch PSB650RE koordlose kragboor. Dit was ’n pyniging om dié uitgawes aan te gaan, synde ek wát sou wou gee om dit vir myself aan te skaf, maar ’n pa sal mos letterlik enigiets vir sy kind doen.

Maar of dit nou die soet of die suur is wat op my wag, haas ek my smiddae koorsagtig huis toe. Want wanneer daai klein vetsak sy tandvleise vir my uitpak, smelt alles hier binne my en kan die wêreld maar vergaan. En al weet ek hy gaan my nog baie suur besorg, is dit net die soet wat op daardie oomblik tel…

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.