Oor sigare en die fanfare rondom ‘n Meconium-doek

3 Oor D-dag

Dis ‘n soel somersaand in Londen. In my miniatuurtuintjie, waar selfs ‘n Bonsai soos ‘n uitgegroeide kremetartboom vertoon, sit ek lustig en teug aan ‘n sigaar wat flussies nog in ‘n blou strikkie toegevou was. Hiérdie Kubaanse señor is een van ‘n omvangryke arsenaal diesulkes waarvoor ek my vriende wel innig dankbaar is, maar wat ek in ‘n leeftyd nie sal kan oprook nie – selfs al snel die A-team se Hannibal my ook te hulp. Met my kop diep in die (rook)wolke, sit ek peinsend en herkou aan die eerste paar holderstebolder dae saam met ons nuwe huismaatjie, Ben.

Paraatheid was daardie eerste aand die wagwoord. Elke steungeluidjie uit die krippie by ons voetenend het ons vervaard laat opvlieg, net om seker te maak dat die dagoue kreatuurtjie in sy oorgrote babygrow darem nog ‘n hartklop kon wys. Na die sóveelste angstige oorreaksie op ‘n vals alarm het ek egter besluit om daardie wondersoete ding op te sê, my langs hom neer te plak, en soos dit ‘n goeie pa betaam hom met ‘n valkoog te bewaak.

Om na ‘n slapende baba te staar is weliswaar net ‘n enkele persentasiepunt meer opwindend as om te kyk hoe verf verdroog, maar ten minste het dit my die geleentheid gebied om vir Ben na behore te betrag. Teen die verwagting in het hy toe eintlik heel mooi gekom – fynbesnede gelaatstrekkies (ma se kind), ledemate wat iewers in die baarmoeder ‘n turbo boost gekry het (pa se kind), bekoorlike kuiltjies hier bo teen sy wangetjies (ma se kind) en ‘n buitengewoon lywige jy-weet-wat (baie beslis pa se kind).

Tiek-tok, tiek-tok. Gaap. Verveeldheid het weldra die oorhand begin kry, en as teenvoeter daarvoor het ek die Koester Jou Baba nadergetrek en my daarin begin verdiep. Ek het egter, halfpad tussen die Aktief-Ontvanklike staat op bladsy 18 en die Kalm-Ontvanklike staat op bladsy 20, die lomerige staat ingegly, en ná ‘n onwillekeurige kopknik of drie het ek salig my pad na Droomland gevind. In ‘n psigedeliese warboel het ventous-suiers met persoonlikhede van hul eie, naelstringe wat plotseling in slange verander, en epidurale wat deur elektrisiëns toegedien word, mekaar met die grootste gemak afgewissel.

‘n Luide plofgeluid het my uit my nagmerrie geruk. Verskrik, en steeds onder die invloed van my middernagtelike beneweldheid, het ek opgespring om ondersoek in te stel na die oorsprong van die lawaai. My soektog het sommer by die eerste verdagte geëindig, want voor my het Ben gelê met ‘n euforiese uitdrukking op sy verrimpelde gesiggie en ‘n doek wat behóórlik bol gestaan het. O die trots! My seun se dikderm was in ‘n werkende toestand!

Ek het sy doek met onderdrukte baldadigheid verwyder, maar my entoesiasme het vinnig plek gemaak vir ‘n grillende afkeer in wat ek aanskou het. Die What To Expect When You’re Expecting hét my probeer voorberei op die eerste Meconium-doek, maar die Marmite-agtige drekspul wat daai doek deurdrenk het was eenvoudig te veel vir my.

Terwyl ek op die rand van die afgrond aan’t aarsel was, het Die Mamma soos ‘n engel langs my verskyn. Sonder ‘n sweempie verwyt het sy met moederlike deugde die watte en warm water nader getrek en is my rol summier gereduseer tot dié van fotograaf – wat ek sonder teëstribbeling aanvaar het.

Met vlytige vingers, ‘n handvol trooswoordjies en ‘n behendigheid wat nié by ‘n nuwe ma tuishoort nie, het sy die dreigende krisis ontlont. Behalwe dat ek ‘n klein bietjie in my mond opgegooi het, het ek geen fisieke letsels van dié episode oorgehou nie. Maar my ego het ‘n hélse knou weg…

My sigaar lê op sy sterfbed. Teen my getroue ou Weber pers ek die laaste lewe uit hom uit. Ek begrawe hom plegtig in die skottel se pens, en met ‘n swaar gemoed probeer ek daarmee vrede maak dat ek my eerste toets van pa-wees gedop het. Sug.

Druipstert bestyg ek die trappies na ons kaja, maar skielik, sonder waarskuwing, verskyn Danie Botha en sy snorbedekte bakkies voor my geestesoog: ‘…maar as jy val, dan moet jy gou weer opstaan, uithou, aanhou, altyd voortgaan.’

‘n Glimlag begin om my mondhoeke speel. My rug raak reguit en ek kry sommer weer ‘n huppel in my stap. ‘Bokkieeee!’ roep ek met nuutgevonde geesdrif, ‘het Ben nie dalk ‘n doek nie?’

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.