Oor ontsluitings, kraamkamers en ‘n stortvloed trane

2 Oor kraamkamers

Asem in, asem uit, asem in, asem uit…selfs ‘n honderd episodes van One Born Every Minute sou my nie kon voorberei op die ongenaakbare realiteite van die geboorteproses nie. Nadat ons baba twee weke te lank in haar maag gebroei het, het Die amper-Mamma die induksiepil met ope arms (en bene)  verwelkom en kort daarna het sy, saam met ‘n handvol ander ontsluitende amper-mammas, die herhaaldelike aanslae van haar kontraksies probeer beveg. En vir dié wat nie weet nie – kontraksies is nie dieselfde as slegte spysvertering nie. Dis gewelddadig. Dit bring die mees onaardse geluide uit die mees diminutiewe vrouelyfies voort en dit gee ‘n gekreun en ‘n gesteun af wat ‘n bloufilm na dolfyngeluide laat klink. Ai, kon Eva nie maar net daai slang die koue skouer gegee het nie?

Die amper-Mamma se ontsluiting was beslis nie die inverse van ‘n flitslig-in-‘n-katpupil-affêre nie. Inteendeel. Dit het sewe ure se loutere hel gekos om haar verskuiwing van die kraamsaal na ‘n veel meer private kraamkamer te regverdig. En watter welkome skuif was dit nie. Daar was ‘n lieflike ambiejaans, gedoofte ligte en al, met die enigste vangplekkie dat daai baba so gou soos nou uitgedruk moes word. Ek het my deel gedoen deur haar moed in te praat met die enigste vier woorde wat op daardie stadium naastenby relevant geklink het: ‘crouch, touch, pause…engage!

Die twee ure wat ons in die kraamkamer spandeer het, het om die beurt bestaan uit druk en rus, druk en rus, en dit was tydens een só ‘n rusperiode dat ek weer ons naamgeeproses herleef het. Ek was vasbeslote om ons seuntjie ‘n eenvoudige, onopgesmukte naam te gee. Soos Zeus. Of Maleagi. Die amper-Mamma was egter onverbiddelik, en het toegesien dat daai kite nie vlieg nie. Uiteindelik het ons, ná tallose meningsverskille, akkoord gegaan met ‘Ben’. Net Ben, nie Bennie nie, want Bennie is ‘n boekwurm en Ben is ‘n beer.

Maar ‘n kraamkamer is nie die plek vir dagdrome nie en ek is wreed uit myne geruk deur die vroedvrou se opgewonde gejil met die eerste aansig van Ben se haarlose koppie. En na nog ‘n halfdosyn folterende kontraksies was hy uit. Daar voor my, in al sy eenvoudige, volmaakte glorie, het my seun gelê. Ek het skaamteloos aan die tjank gegaan. Rukkend, soos ‘n hond wat gif gevreet het. Sonder voorbehoud, soos toe Katryn Gerber met my vyfde verjaarsdagpartytjie op my roomyskoek gaan sit het.

In die gevolglike harwar het ek, verblind deur die trane, so byna die vroedvrou se vinger in plaas van die naelstring geknip. ‘n Diep teug aan die gas-and-air-shisha-pyp het egter my oorlaaide emosies genoegsaam beteuel en eensklaps was dit net ons drie – in die kamer, in die hospitaal, in die wêreld. Elke kraai dink sy eiers is die witste, maar vir ‘n meer beeldskone vrou en baba sou jy ver moes gaan soek.

En Die Mamma? Wel, sy was eenvoudig ‘n champ. As dit 1836 was, sou sy ‘n voorbok onder die Drakensbergse kaalvoetbrigade gewees het. Die respek wat sy in daardie kraamkamer afgedwing het sal my ‘n leeftyd bybly en ek sal, kortom, nooit weer na enige mamma met dieselfde oë kan kyk nie.

Mammas van die wêreld: ek salueer julle! Met beide hande.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn. 

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.