Oor D-dag+1 en ‘n BBP-rit huis toe

3 Oor D-dag+1

Vir die grootste deel van nege maande het ek die National Health Service se kraambeleid verwens. Too posh to push? Ag asseblief, u edele! Ons is Vannemerwes van Pitooria af! Ons doen nie posh nie, maar dertien jaar se pligsgetroue National Insurance-bydraes regverdig tog sekerlik een ou keisersneetjie? Klaarblyklik nie. My eindelose pleidooie het op dowe ore bly val en die burokrasie het onwrikbaar bly aandring op die toepassing van Die Beleid. Die Mamma sou vir Ben op ons oumagrootjies se manier die wêreld moes inbring, en daarmee basta.

Maar soos altyd het ook hiérdie donker wolk uiteindelik ‘n silwer randjie gehad. Ofskoon die bevalling geen piekniek was nie, was Die Mamma, ná haar foltering, soos ‘n makgemaakte blits weer op die been en was haar pynigende kontraksies sommer spoedig vergete – baie soos die blouwildebeeste op Ter Wille van Oorlewing waaraan ek my kleintyd so verkyk het.

Terwyl sy haar van die nadraai van die groot geboorte gaan reining het, het ek die nuus oor die aankoms van ‘n toekomstige internasionale krieketkaptein via elke denkbare sosiale netwerk die wêreld ingestuur. En die oorweldigende reaksie was diep bemoedigend. Om ‘n baba te maak is een ding, maar die vet weet, om hom gróót te maak gaan ek swáár moet steun op die ervaring van die gesoute lede van Die Nuwe-Pa’s-Klub.

Nou ja, na nog ‘n ondersoek of twee, waartydens klein Ben die pediater luidkeels laat verstaan het dat hy hom nie sommer goedsmoeds laat bevoel en bevat nie, is ons die groen lig gegee en kon ons koers kry huis toe – ‘n skamele 16 ure nadat hy sy eerste skree geskree het (dankie vir die keisersnee my NHS-vriende!). Ek het daarop aangedring om elke uniformbeklede mens op die perseel om die hals te val en innig te bedank, wat sekerlik die wenkbroue laat lig het onder die dokters, vroedvroue, skoonmakers en sekuriteitswagte wat onder my hartstogtelike omhelsings moes deurloop. Ten minste sal niemand my ooit van ondankbaarheid kan beskuldig nie.

Na dié langdurige groetery het ek deur die hospitaaldeure geskuifel asof ek die mees sensitiewe kernbom in die geskiedenis van die mensdom in my arms gedra het. Ek het vir Ben, in sy wetlik-vereiste karstoeltjie, op die agterste sitplek van my Ford neergelê (the Ford is my shepherd) en stádig begin aanstaltes maak.

My bestuursvaardighede, wat gewoonlik effens verdag is, was beter as op enige stadium sedert ek my K-53-toets afgelê het. Daantjie Kat se snorbaarde sou behóórlik omgekrul het van lekkerkry. Elke spoedhobbel is teen ‘n slakkepas bekruip en elke verkeerslig is met groot omsigtigheid benader. Mens sou sweer ek was besig om Haar Majesteit sélf te vervoer! En as die string van digby die 30 motors wat agter my opgedam het as maatstaf moes dien, sou mens netsowel kon dink dat die monarg tot sterwe gekom het en dat ons die voorhoede van haar begrafnisstoet gevorm het.

Vir ‘n hele sewe kilometer het ons só aangekruie. Die snaar in ‘n viertrekvoertuig agter my het op ‘n kol so ampertjies sy humeur verloor, maar danksy die Peppa Pig-sonskerm in die agterruit is enige potensiële testosteroongedrewe uitbarsting in die kiem gesmoor.

En só het ons, uit-flippen-eindelik, die Baie Belangrike Persoontjie by sy huis besorg. Met die voordeur veilig toegetrek agter my splinternuwe gesinnetjie kon ek ten einde laaste effens tot verhaal kom. Die eerste hoofstuk van Ben Se Lewe was so te sê afgehandel. Nog net die laaste sinnetjie het kortgekom. Derhalwe het ek, met Ben op my skoot, nogmaals ‘n traan uit die hoek van my oog gevee, liefdevol oor sy wangetjie gestreel, vooroor geleun en, met ‘n diepe bewustheid van die spesiale band tussen my en my seun, sy voorkoppie sagkens met my lippe aangeraak.

En toe kots hy op my.

*Hierdie inskrywing het oorspronklik as ‘n rubriek in The South African verskyn.

facebook-page

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Bly op hoogte

Fanie Os Oppie Jas



Volg my,
maar moenie
my ágtervolg
nie.